Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Om aan gebroke mense soos ek, die vergifnis en liefde van Christus te wys.”

“Om aan gebroke mense soos ek, die vergifnis en liefde van Christus te wys.”

Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

Die film “Wake up Dead Man” wat in Desember op Netflix vrygestel is – en wat in sommige kringe as (onbedoeld) een van die beste films oor die Christelike geloof en kerkwees bestempel word – open met die hoofkarakter, “Father Jud Duplenticy” kop-onderstebo in sy stoel in ’n kerklike verhoor. Hy’t ’n kollega met die vuis bygedam. Die gesprek verloop dan so:

Inkwisiteur: “So, you’re a fighter again?”

 

Jud: “No, Father, absolutely not. … My previous life, yes, I was a boxer, I lived on the streets. I did some other things.”

 

Inkwisiteur: “We need fighters today, but to fight the world, not ourselves. A priest is a shepherd; the world is a wolf.”

 

Jud: “No … no, I don’t believe that, Father, respectfullly. You start fighting wolves and before you know it everyone you don’t understand is a wolf. I still got that fighting instinct and I gave in to it today, but Christ came to heal the world, not fight it. I believe that it is this (stretched out arms like on the cross), not this (fists in boxing posture). I just wanna be a good priest. Show broken people like me the forgiveness and love of Christ. The world needs that (of us) so bad.”

Lanklaas het ek in ’n paar sinne, soveel bevrydende waarhede gehoor.

 Wat die wêreld vandag nodig het, is meer kruisgestaltes en minder gevegshoudings; meer oop handpalms en minder vuiste. Minder mag, meer deernis. En ’n werklike oorgawe aan die kruis van Christus, of dan, die dra daarvan. Dít was immers Jesus se grondhouding: “Ek het gekom om my lewe af te lê” (Johannes 10:10-11). Ons gaan vanjaar as kerke – en mensheid – hierop getoets word.

 En dít, omrede – dit is die tweede waarheid – ons ou menslike natuur, gebroke en tot kwaad geneig, tot woede en wraak, nét onder die vel skuil. Die ou instink, die “default”. Ons ánders wees – heiligmaking – is maar nerfdun. Ons lyk en klink al te veel na “die wêreld daarbuite” wie se grootste sonde nie ’n lys van een tot tien moets en moenies is nie, maar basies dít: ons het mekaar nie lief genoeg, en daarmee, Gód nie lief genoeg nie.

In plaas van om dié primêre euwel – selfsug, eiegeregtigheid en anderhaat – die stryd aan te sê, pak ons mekaar beet; dit is die derde waarheid in Father Jud se betekenisvolle woorde en verder in die film. Ons begin oral ánders fout vind, vingerwys, beterweet, vermaan, uitsuiwer … en kort voor lank, is almal “wolwe” en ontaard ook die plek van genade – die “huis van gebed” – in ’n strydperk van “vir” of “teen” dié en daardie kwessie. Terwyl Jesus kort ná mekaar dít gesê het: “Bly dan in my liefde” (Johannes 15:9) en “Ek bid dat hulle almal een kan wees, net soos U in My is, dat hulle in Ons kan wees” (Johannes 17:21).

’n Vierde waarheid tref (my) dalk die diepste: èk is die stukkende een, wat juis die vergifnis van Christus en sy liefde so nodig het; nie net eens, lank gelede nie, steeds, elke aand en oggend. As bedienaar van die Woord, gebede, sakramente en versoening – “a good priest” – is dít uiteindelik ons hartverwarmende roeping, wat lig en lewe gee en ’n aangename geur versprei: Om in ’n ongenaakbare wêreld (selfs godsdienstig!) te wys wat vergifnis regtig is, hoe die genade van God werklik heelmaak en dat die “koninkryk van die hemel” in Christus hiernatoe gekom het.

Ons wêreld en mense het dit só nodig vir vanjaar.

Ds Jan Lubbe Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

 | Verskaf: Ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat.