Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Klein begin vir Kleingroepe

NG Gemeente Kerkenberg het aan die begin van 2019 ‘n splinternuwe kleingroep-bediening op die been gebring. 

Die uitgangspunt en motivering vanaf die leierskap se kant was geskoei op die nuut geformuleerde gemeentevisie : 

NG Gemeente Kerkenberg 

hier 

1) Streef ons na die wil van God

2) Koester ons mekaar in liefde

3) Dien ons ń gemeenskap in nood

Uit die sowat 345 lidmate het ongeveer 40 mense sewe nuwe kleingroepe op die basis van vrye assosiassie gevorm. 

Aanvanklik het dit baie klein en oneffektief voorgekom, maar met ‘n deeglike bestudering van dr. Frans Hancke se “Ons is die Plan” tydens weeklikse byeenkomste, het kleingroepe gou begin om sélf inisiatief te neem in gemeenskapsprojekte. 

Vanuit ons kleingroepbediening het talle ander bedienings gevloei en is reeds bestaande bedienings met núwe ywer ‘n nuwe baadjie aangetrek. 

Die Covid-19 pandemie het natuurlik ń hele paar planne in die wiele gery, maar ons gemeente se ou biblioteek is omskep in ‘n splinternuwe en baie goed funksionerende klerebank wat tydens die taai maande van 2020 vir talle behoeftige gesinne uitkoms gebring het. 

Ons barmhartigheidsdiens word gevoed deur talle lidmate met oop harte en beursies. Ons boere voorsien, bó en behalwe ons basaarskenkings elke jaar genoeg vleis om aan sowat 20 gesinne ‘n behoorlike kospakkie te bied. 

Vanuit die kleingroepgeledere is ń gebedsaksie ook geloods wat sorg dat al die mooi inisiatiewe instand gehou word en voortgaan. 

NG Gemeente Kerkenberg het, ten spyte van uitdagende tye, geleer dat ‘n soeke na God se Wil deur Gebed en Gods Woord lei tot konstruktiewe, liefdevolle verhoudings wat oorvloei in ons taak en roeping na buite. 

Soli Deo Gloria