Deur ds Christo Weideman, voorsitter: Sinodale Taakspan Kerkorde (STK)
Neem lees … die Kerkorde
Neem lees … die Bybel
Neem lees … die Koerant/Nuus
Dit was die volgorde waarin die temas van die afgelope VBO-kursus by Moolmanshoek plaasgevind het … en tong-in-die-kies is daar gespot en gesê dis mos die volgorde waarin die STK-voorsitter se boeke op sy lessenaar lê!
Dit was voorwaar ’n verrykende paar dae vir die bykans 50 predikante wat dit bygewoon het.
Die hele geleentheid moes maar geduldig wag vir die STK-aanbieders om op te daag nadat die grondpad sy tol geëis het en ons met ’n pap band gaan staan het. Die foto dien as bewys van hoe STK-lede hard kan saamwerk …!
Dr Bertus Celliers het die werkswinkel afgeskop met ’n inleiding tot die Kerkorde, asook deur die groep te laat droom oor hoe ’n ideale ringsitting behoort te lyk. Die konsepdokument – Handevat Gemeentes – is ook kortliks met die groep gedeel. Ringe gaan in dié verband ’n al hoe groter rol speel.
In ’n volgende sessie is al die nuwe veranderinge wat tydens die 2023 Algemene Sinode aan die Kerkorde aangebring is, deur ds Christo Weideman deurgesels, en daarna is al die Artikels en Reglemente wat spesifieke aandag van ringe en ringskommissies vra, deurgewerk. Dit was baie duidelik dat daar ’n behoefte aan meer “opleiding” ten opsigte van die Kerkorde is – ’n saak wat beslis aandag sal moet geniet.
| verskaf: Dr Bertus probeer met mag en mening een van die boute loskry, terwyl ds Christo sterk ondersteuning bied …
| verskaf: Die vier aanbieders van die VBO-geleentheid: Dr Bertus Celliers, ds Christo Weideman, dr Lindie Koorts, dr Fanie Cronjé.
| verskaf deur ds Christo Weideman en dr Jan de Man