Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Clarens Hermitage | ’n Kombinasie van ’n pelgrimstap met ’n retraite

Deur ds Jan Venter | Leierskap Netwerk

In hierdie stories vind die stapper hom- of haarself opnuut en kry die geleentheid om diep te reflekteer oor hoe God met ons deur ons lewe op pad was en steeds is.”

Hoe werk hierdié kombinasie van ’n pelgrimstap met ’n retraite?

Die sleutelwoord hier is ‘pelgrim-dagstappe’ in plaas van ‘gaan op een lang staptog oor etlike dae van punt A na punt B’. Soggens ná ’n kort oordenking rondom koffie en beskuit in die kerksaal vertrek die stappers, vergesel van ’n plaaslike gids, op korterige dagstappe van tussen 11 en 13 km in die omgewing rondom Clarens. Die stappe is beplan om direk in te skakel by die dagtemas en loop deur sommige van Clarens se mees geskiedkundige plekke. Meer as twee derdes van die staproetes is juis op privaatgronde van plaaslike boere en sal nie op ’n ander wyse as saam met ’n hermitage-gids beleef kan word nie.

Daar is tye wanneer die groep in stilte stap, maar daar is ook ruim tyd vir gesels en om na mekaar se stories te luister. Stories vorm ’n belangrike deel van hierdie belewenis. ’n Mens stop dikwels by uitsigte of historiese bakens sodat die gidse ’n staaltjie of stukkie inligting kan deel uit die omgewing se storieryke erfenis. Hierdie “begronding” van die stap is belangrik om die stapper se voete op die stapgrond en los van sy normale paaie te kry.

In hierdie vrugbare vallei sypel die stories letterlik uit die grond. Daar steek ’n storie agter die rooi, room en swart ertslae wat miljoene jare terug gevorm is en in sommige van die omliggende rotsformasies soos die indrukwekkende Titanic-rots duidelik sigbaar is. Die rotsformasie is só genoem omdat iemand gedink het dat dit verbasend baie lyk soos ’n massiewe skip se boeg wat oor die pad uit die dorp na Bethlehem waak.

Daar is nog Khoisan-rotstekeninge in grotte op sommige plase te sien en koeëldoppies uit die Anglo-Boere-oorlog word nog soms in die veld opgetel. Die letsels van hierdie oorlog, fisies sowel as psigies – hoor ’n mens al stappende – is op vele maniere vandag nog sigbaar. Hetsy aan ’n paar swartgeskroeide dakbalke in ’n gerestoureerde ou plaasskuur van meer as ’n eeu oud of in ’n voortslepende teësinnigheid met ’n paar Afrikaanse families teen wie dit steeds gehou word dat van hulle voorsate met die Britse magte sou saamgewerk het.

In hierdie stories vind die stapper hom- of haarself opnuut en kry die geleentheid om met behulp van die daaglikse roetekaart diep te reflekteer oor hoe God met ons deur ons lewe op pad was en steeds is.

 

Vir enige navrae of meer inligting, kontak gerus vir ds Jan Venter, sameroeper van die Leierskap Netwerk |  j.a.n.venter@icloud.com

116 | Maatskaplike NOODLYN