Deur Mariëtte Odendaal | Gerontologie Netwerk
“Wat ’n inspirasie!” So sê ds Jors Reynders, sameroeper van die Gerontologie Netwerk van die NG Kerk Vrystaat, nadat hy op 13 Maart vanjaar ’n aanbieding van die welbekende Annie Coetzee, lewensafrigter en spesialis oor die verouderingsproses, bygewoon het. Sy praat ook gereeld op Radio Sonder Grense (RSG) oor aktuele onderwerpe wat verband hou met betekenisvolle veroudering.
Meer oor Annie
Annie begin haar loopbaan in die 1970’s as ’n onderwyser in Engels en musiek. In die 1980’s studeer sy verder en beklee later ’n pos as lektor in opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. In die VSA bekwaam sy haar verder in spoedlees en leestegnieke, en aanvaar later ’n pos by Unisa as navorser in menslike ontwikkeling. Sy raak geïnteresseerd om mense te help om hul oneindige potensiaal op alle ouderdomme tot op hoër vlakke te ontwikkel. Sy hou aan studeer en doen nog vele ander kursusse, ook internasionaal. Sy is boonop ’n pilates-instrukteur en het al 14 selfhelpboeke geskryf, agt daarvan saam met medeskrywers. Sy was ook die eerste skrywer in Suid-Afrika wat ’n boek oor emosionele intelligensie geskryf het. Haar lewensmotto is: “Moenie negatiewe mense vermy nie; hardloop weg van hulle af!”
Ds Jors Reynders vertel wat hy tydens Annie se aanbieding gehoor het.
“Annie het nie inligting en praktyke oor verjongingskure gedeel nie, maar wel beklemtoon dat alle seniors ’n keuse het of jy gelukkig gaan oud word of nie. Natuurlik is daar die onvoorsiene uitdagings wat oor jou pad kom, maar in die meeste gevalle het ons, volgens Annie, die keuse om gelukkig of ongelukkig oud te word.
“Annie het beklemtoon dat hoe jy jou senior jare benader, jou jonger kan laat voel. Ek en jy kan doelbewuste keuses maak oor die lewenstyl wat ons as seniors wil of gaan leef.
“’n Belangrike punt wat sy uitgelig het, is dat jy jou ID-nommer moet vergeet, met ander woorde, moenie so vaskyk in jou ouderdom nie. Mense verouder doodgewoon verskillend om verskeie redes. Die omstandighede van een persoon op ’n sekere ouderdom is nie noodwendig die situasie van ’n ander persoon van dieselfde ouderdom nie. Jy kan besluit om jonger en gesonder te voel.
“Sy het ook die belangrikheid van die wisselwerking tussen jou verstand (rasioneel), hart (emosioneel) en liggaam (fisiologies) verduidelik. Dit vorm jou totale Godgeskape menswees en hierdie drie fasette moet altyd in harmonie met mekaar wees.
“Tydens die eerste sessie van die oggend het Annie gefokus op gevallestudies wat sy met haar navorsing oor ouer mense bevind het.
“Die vernaamste ontdekking wat sy gemaak het, is hoe belangrik dit is dat seniors nog steeds ná aftrede ’n kort- en mediumtermyn-droom moet hê. Jy moet iets hê om elke oggend voor op te staan. Hierdie iets moet meer wees as net roetinetake soos selfversorging, kosmaak of die versorging van jou tuin en plante. Dit moet selfs iets meer wees as om weer met nog ’n vakansie te gaan. Hierdie iets moet iets groters wees as selfversorging en oorlewing. Jy moet steeds ná aftrede die wete hê dat jy waarde kan toevoeg en van betekenis kan wees vir ander mense of die groter samelewing. En dit rym natuurlik met die groot liefdesgebod.
“In die tweede sessie na teetyd het Annie lekker praktiese inligting gegee. Sy het begin met detail oor die verstand, emosies en liggaam. Wat die brein betref, het sy die mite die nek ingeslaan dat jou brein se vermoë met die jare afneem soos jy ouer word. Nee, jou brein se kapasiteit neem net af as jy dit nie stimuleer nie; dit geld vir alle ouderdomsgroepe. Ons moet vanuit ons prefrontale korteks leef, daar waar die doelbewuste keuses gemaak word. Dit is dus ’n keuse wat elkeen moet maak; om jou brein in oefening te hou!
“Een van die belangrikste aspekte wat sy uitgelig het, is hoedat ’n doelbewuste keuse tot byvoorbeeld kalmte jou liggaam en hart beskerm, wat uiteindelik ook jou liggaamsgesondheid beskerm. Hierin speel doelbewuste stilte ’n baie belangrike rol. Stres is een van die gevaarlikste faktore wat jou gesondheid kan benadeel; dis vandag se ‘duiwel’, sê sy. Jou hart stuur inligting na elke sel en orgaan van jou liggaam. Die hart (fisiek) is die sterkste orgaan in die menslike liggaam. As jy harmonie in jou hart het, bevorder dit jou lewensenergie.
Aan die einde van haar aanbieding het Annie ook aan die gehoor praktiese huiswerk gegee om tuis te gaan inoefen, naamlik:
- Dink nuut oor hoe jy glo. Wat glo ek oor oudword; is my beskouing positief of negatief?
- Wat wil jy onthou van die verlede wat positief is?
- Vra ’n vraag oor iets wat vir jou relevant is. Laat jou hart daarop antwoord en nie jou verstand nie.
- Laat jou stiltetyd nuwe betekenis kry. (Ek en God praat oor my ervarings.)
- Wat lê nog swaar op jou hart waarvoor jy jouself nie kan vergewe nie? Doen dit.
- Aan watter drie positiewe emosies gaan jy hierdie week werk?
- Noem elke dag drie seëninge op; met gevoel.
- Oefen jou oë; rol jou oë in alle rigtings.
- Kies jou woorde positief; wees positief in jou self-talk.
- Asemhaling: oefen jou in- en uitasem; sewe sekondes vir in- en sewe vir die uitasem.
- Stap: Stap met jou hak eerste op die grond. As jy afdraande stap, dan met die toon eerste.
- Strek elke oggend sonder om jouself te ooreis of te beseer; doen dit binne jou vermoë.
- Wees lief vir jou liggaam. Jy is Godgeskape en heeltemal uniek.
- Beantwoord hierdie vraag vir jouself: “God plaas geen beperkings op my potensiaal nie. Die vraag is: Doen ék dit dalk?”
Kontak
Ds Jors Reynders, sameroeper van die Gerontologie Netwerk by 082 783 0730 of jomarey@mweb.co.za vir meer inligting.