Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Vrystaat Ringskommissie-werkswinkel | Stand van Leraars en Gemeentes

“Een van die belangrikste kopskuiwe wat nodig is, lê in ons persepsies van wat ‘n gemeente is. Ons gewone siening is dat ‘n gemeente ‘n predikant en ‘n kerkgebou moet hê om regtig kerk te kan wees. Dit is nie die prentjie wat ons uit die Nuwe Testament kry nie. Daar gaan dit eerder oor die gemeenskap van gelowiges, diens en die verkondiging van die evangelie.”

| Dr Lourens Bosman

Tydens die onlangse ringskommissie-werkswinkel van die NG Kerk Vrystaat Sinode  wat vanaf 4 tot 6 September op Clarens gehou is, is indringend oor ’n paar gemeentesake besin.

Een van die onderwerpe waaroor daar gepraat is, was die stand van leraars en gemeentes.

Prof Kobus Schoeman, voorsitter van die Taakspan Navorsing van die NG Kerk se Algemene Sinode, en dr Lourens Bosman, algemene bestuurder van die NG Kerk se Algemene Sinode, was verantwoordelik vir die verwerking van navorsingsdata (vanaf 2018 tot 2022) wat hulle van gemeentes ontvang het. 

Volgens Kobus is dit van groot belang om eers sekere aspekte in ag te neem voordat daar na die bevindings gekyk word. Hy verduidelik:

“Die impak van Covid-19 op die samelewing, gemeenskappe en die kerk is nog nie ten volle uitgewys en ondersoek nie. Die pandemie het egter ’n skerp fokus op die ongelykhede en armoede binne die Suid-Afrikaanse samelewing laat val.

“Die verskillende vlakke van inperking tydens die grendeltyd; die handhawing van sosiale afstand en die gebruik van digitale kommunikasie is enkele aspekte wat in dié tyd ’n wesenlike invloed op die gemeentelike bediening gehad het en nog steeds het.”

Watter data is gebruik om die impak daarvan te bepaal?

“Twee kwantitatiewe gemeente-opnames van Kerkspieël, een in September 2018 en die tweede in September 2022, is as ’n empiriese lens gebruik om die impak van die pandemie op gemeentes in die NG Kerk te illustreer. Die volgende twee vrae kom aan die orde: Wat leer ons uit ’n vergelyking tussen die twee opnames, en tweedens, watter aanpassings behoort in die lig hiervan in die gemeentelike bediening gemaak te word?”

Die responskoers van die twee aanlyn gemeente-opnames was:

  • 2018: 836 gemeentes uit 1 096 (76,3%)
  • 2022: 811 gemeentes uit 1 062 (76,4%)

Die twee opnames gee dus ’n betroubare aanduiding van die stand van gemeentes.

Kobus, julle kon ’n hele paar hoofstroom-tendense uitwys na aanleiding van die navorsingsresultate. Vertel ons kortliks meer daarvan.

“Die gemeentedata is in ringsverband verwerk. Elke ring ontvang ’n verslag van die stand van die gemeentes in die ring wat aan die opname deelgeneem het.

“Ons navorsing het die volgende resultate uitgewys: Ten opsigte van finansies is daar bepaal dat meer gemeentes se inkomste met minder as die inflasiekoers (van 45% in 2018 tot 48% in 2022) gegroei het.

“Daar was egter ’n effense styging (1,1%) in die persentasie van gemeentes wie se inkomste bo die inflasiekoers groei. Die algemene tendens is egter dat gemeentes ná die pandemie in ’n moeiliker finansiële posisie is as daarvoor. 

“Wat gemeentegroei betref, toon die data dat gemeentes wat hulself as krimpend, besig met oorlewing of met instandhouding beskryf, in 2022 toegeneem het. Ongeveer twee derdes van gemeentes bevind hulle in ’n posisie waar hulle slegs met instandhouding besig is.

“Ten opsigte van betrokkenheid by gemeenskapsorganisasies is daar bevind dat gemeentes wat gemeenskapsorganisasies en aktiwiteite ondersteun, in dié tydperk (2018: 27%, 2022: 31%) effens gestyg het. Dit bly egter meestal individuele lidmate  wat by organisasies en aktiwiteite betrokke is.

“Ook wat missionale bediening betref, is daar ‘n daling. Gemeentes wat beslis saamstem met dié stelling, ‘Ons gemeente is ’n missionale gemeente wat haar bestaan as deel van God se sending na hierdie wêreld beskou’, daal van 42,7% in 2018 tot 31,8% in 2022.”

Lourens Bosman wys op die volgende: “Alles is egter nie negatief nie. Daar was in die jare 2010 tot 2018 ‘n baie sterk negatiewe tendens in gemeente-finansies, hoe gemeentes hulle groei beleef en ook in die aantal predikantsposte. Die laaste opnames in 2022 en 2023 toon egter dat hierdie tendense besig is om af te plat. Daar is steeds ‘n daling in die sleutel-indikatore, maar dit lyk of die gemeentes meestal deur die ergste storm is.”

So, wat sou julle sê is die sake wat ten opsigte van die herbesinning oor die gemeentelike bediening dringend aandag verdien?

Kobus: “Ek sou sê dat gemeentes van verskillende kontekste, veral wat betref hul grootte en of hulle ’n stedelike of plattelandse bediening het, ’n eie en unieke padkaart behoort uit te werk. Daar moet ’n ekklesiologie van onder, van voetsoolvlak af ontwikkel word.

“Ons is ook van mening dat ’n missionale oriëntasie ’n sterk aanduiding van gesonde of groeiende gemeentes is.

“Laastens speel die gemeentelike leierskap ’n strategies belangrike rol in die fasilitering van gemeentelike groei. Dit wil voorkom asof die gemeentelike leierskap beter kon gedoen het as wat die geval was.”

Lourens sluit hierby aan en wys daarop dat veral twee leierskapsfunksies ‘n reuse-verskil kan maak: “Dit is die benutting van gemeentelede se gawes en die onderskeiding van die gemeente se roeping in hul eie konteks. Waar hierdie twee aanwesig is, ontwikkel die gemeente ‘n kollektiewe vertroue wat energie genereer. Die gemeente begin vertrou dat die Here hulle in staat stel om die roeping wat hulle ontvang het, uit te voer.

“Bogenoemde uitdagings kan aangepak word deur te fokus daarop om ringskommissies in staat te stel om prosesse binne die ring met die verskillende gemeentes te fasiliteer.” 

Nog ’n interessante tendens was dat predikantsposte van 2018 tot 2022 met ongeveer ’n derde verminder het, terwyl gemeentes teen ’n baie kleiner tempo verminder het. Wat het in gemeentes gebeur wat ’n negatiewe groei beleef het, maar tog oorleef het? Wat kan ons hieruit aflei en watter voorstelle het julle ten opsigte van bedieningsmodelle?

Lourens antwoord: “Dit is duidelik dat die landskap van bediening besig is om vinnig te verander. Die feit dat voltydse predikantsposte so vinnig afneem terwyl gemeentes oorleef, wys dat gemeentes baie meer veerkragtig as poste is. Ringe moet baie versigtig wees om gemeentes te laat saamsmelt of toe te maak en eerder soek na alternatiewe maniere om die gemeente se bediening voort te sit.

“Klein gemeentes bied gewoonlik weerstand as die kerkverband (ringe of sinodes) met prosesse begin om die gemeente toe te maak. Hulle neem verantwoordelikheid vir hul voortbestaan en dit is ‘n wins wat benut moet word. Wanneer ‘n gemeente toemaak, is dit ‘n reuse-verlies vir die gemeenskap waarin dit bedien.

“Een van die belangrikste kopskuiwe wat nodig is, lê in ons persepsies van wat ‘n gemeente is. Ons gewone siening is dat ‘n gemeente ‘n predikant en ‘n kerkgebou moet hê om regtig kerk te kan wees. Dit is nie die prentjie wat ons uit die Nuwe Testament kry nie. Daar gaan dit eerder oor die gemeenskap van gelowiges, diens en die verkondiging van die evangelie.

“Ons fokus moet eerder skuif na bediening deur die gemeentelede self as deur ‘n predikant. Die nuwe opleidingsbane vir diensleraars en bedienaars bied opsies waarmee gemeentes gehelp kan word om in hul eie konteks met hul bediening voort te gaan.”

Hoe kan gemeentes wat sukkel om die mas op te kom, aangemoedig word om nie te sluit nie, maar om anders te begin dink en doen?

Hierop antwoord Kobus as volg: “Die belangrikste is vir gemeentes om op ’n missionale oriëntasie te fokus. Gemeentes behoort vanuit ’n sterk fokus op instandhouding (na binne gerig) aandag te gee aan hul roeping om die Koninkryk te dien deur meer in hulle gemeenskappe (na buite gerig) betrokke te raak.”

Die werkswinkel is afgesluit met ’n praktiese oefening waar die ringskommissie gevra is om te kyk na drie dinge wat hulle kan of gaan doen. Vertel meer hiervan.

Kobus antwoord: “Die fokus was op die versorging van die leraars binne die ring en om gemeentes aan te moedig om hul verhale met mekaar te deel.” 

Wat Lourens opgeval het, is die klem op onderlinge ondersteuning en gebed: “Van die ringskommissies het onderneem om gereeld saam te bid. Dit is iets wat deesdae maklik aanlyn kan gebeur. Daarmee erken ons dat groei nie iets is wat ons moet laat gebeur nie, dit is God wat groei en lewenskrag gee

Kontak

Vir meer inligting kan prof Kobus Schoeman by schoemanW@ufs.ac.za en dr Lourens Bosman by lourensb@ngkerk.org.za gekontak word.

 | Verskaf deur: dr Leon M Foot

 
116 | Maatskaplike NOODLYN