Deur Mariëtte Odendaal
Vanaf 2 tot 4 September bied die NG Kerk Vrystaat se kantoor vir Bedieningsbegeleiding ’n werkswinkel aan as deel van hul Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO) vir leraars. Vanjaar se tema is “Neem, lees!” en die geleentheid vind op die gasteplaas Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat plaas.
Hierdie werkswinkel beloof om baie insiggewend en verrykend te wees ten opsigte van die kontekstuele verstaan van die Bybelse literatuur; iets wat van kardinale belang is vir eietydse Woordbediening.
Dit word aangebied deur dr Fanie Cronjé, medeleraar van die NG Gemeente Lynnwood, Pretoria, Ou-Testamentikus en assistent-redakteur van die Tydskrif vir Semitistiek, en dr Lindie Koorts, ’n historikus en biograaf verbonde aan die Universiteit van Pretoria.
Tydens die aanbieding sal hulle fokus op drie temas: “Neem, lees!” in die Bybel, die koerante en die natuur.
Dr Fanie Cronjé was nog altyd in sy bediening ’n gemeentedominee, met meer as net ’n belangstelling in die ‘wêreld agter die teks’.
Hierdie belangstelling het gelei tot deelnames aan verskeie argeologiese opgrawings in Israel en Griekeland, ’n doktorsgraad in Ou-Testasmentiese en Nabye-Oosterse studies aan die Universiteit van Pretoria en post-doktorale studie aan die Noordwes Universiteit. Hy is reeds sewentien jaar lank assistent-redakteur van die Tydskrif vir Semitistiek, en lewer artikels in geakkrediteerde tydskrifte en bydraes oor die vertolking van die Bybel in populêre publikasies.
Ten opsigte van die “Neem, lees!”-werkswinkel verduidelik Fanie: “Ek neem my aanbieding van die tema ’neem, lees!’ baie ernstig op. Daarom sal dit bestaan uit die saamlees van enkele tekste uit Jesaja wat ons in die lig van die destydse geskiedenis en dan met name ook nie-Judese tekste uit dieselfde tyd gaan vertolk. Die bedoeling is onder meer om aan die hand van die Bybel te leer hoe om ons eie tyd in die lig van die Bybel te ‘lees’.”
Dr Lindie Koorts is buiten ’n akademikus ook ’n rubriekskrywer vir Afrikaanse dagblaaie. Sy neem dikwels aan aktualiteitsprogramme deel waar sy die nuus van die dag vanuit ’n historiese perspektief benader. Sy is ook die skrywer van die biografie D.F. Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme.
Tydens die “Neem, lees!”-werkswinkel sal sy fokus op vrae soos: Hoe gemaak met die nuus vandag? Hoe gemaak met ons geestesgesondheid, gegewe al die negatiwiteit wat daagliks uitgebasuin word? Hoe gemaak met die politieke polarisasie wat ons daagliks in ons gemeenskappe waarneem? Hoe gemaak met fopnuus en sosiale media? Kan ons die hoofstroom-media nog vertrou? Hoe onderskei ons die koring van die kaf?
In hierdie werkswinkel word deelnemers uitgenooi om, na gelang van ’n aantal voorbeelde, oor die nuus en die knelpunte van die dag te gesels. Die media-landskap sal verken word en daar sal gekyk word na hoe predikante hul bestaande vaardighede, naamlik hermeneutiek, skrifontleding en bronnekritiek, ook op die nuus kan toepas.
Deurgaans sal die vraag gestel word: Hoe moet ons met die nuus omgaan? Is daar ander maniere om na die nuus te kyk? En hoe begelei ons ons lidmate in hul omgang met die nuus?
Vir meer inligting kan dr Leon Foot (Uitvoerende Amptenaar van Bedieningsbegeleiding) by leon@ngkvs.co.za gekontak word.
| verskaf: Dr Fanie Cronjé, aanbieder.
| verskaf: Dr Lindie Koorts, aanbieder.