Teresa van Avila (‘n 16de eeuse non) het eenmaal gebid dat God tog asseblief moet kom “en die priesters vir ‘n slag goed kielie, want hulle preke is darem vervelig-ernstig.” Dis sy wat die gedig geskryf het:
“What a burden I thought I was to carry – a crucifix, as did He.
Love once said to me, “I know a song, would you like to hear it?”
And laughter came from every brick in the street and from every pore in the sky.
After a night of prayer He changed my life when He sang,
‘Enjoy Me.’”
Ek het aan hierdie gedig gedink terwyl Suzanne van der Merwe vir die (by verre middeljarige en ouer) predikante-met-gryswordende-hare die Dinsdagoggend plastieksakkies uitdeel; volgepak met speelgoed. Boublokkies; klei, en … die hoogtepunt: seepborrels! Dít nogal vir ‘n “oggendwyding” – ‘n woord wat ons assosieer met stilte en meditasie. Níé hierdie jong dominee van Sasolburg nie! Sy laat ons speel.
Met my artritis-hande kan ek nie die klei brei nie; vinnig gryp ‘n kollega dit en brei namens my. ‘n Ander een breek sy karretjie se wieletjie en tjoef-tjaf stel iemand voor dat hy dan ‘n driewiel bou. Die evangelie-sonder-woorde speel – laggend – hier voor ons af.
Ek kan my indink dat Jesus met sy dissipels grappe gemaak het. Waarskynlik ook gesê het, “moenie só ernstig wees nie!” En dalk die seepborrels uit Sy sak kon haal en die borrels (met die reënboog in die membrane vasgevang) die lug in blaas. Twaalf dissipels wat opgewonde opspring en die borrels begin stukkend klap – al dansend agter die pret aan. Die lewe is gegee om geniet te word! Presies soos daardie klomp predikante die oggend in Clarens.
Ek raai, daar waar Teresa nou langs die Laggende God sit, dáár knip hulle oog vir mekaar…