Ons lees in die skeppingsverhaal dat God vir die mens ‘n tuin in Eden aangelê het; ‘n tuin met bome en riviere – ‘n lus vir die oog. Wat ons nie lees nie, is dat God, toe Hy klaar was met die paradys, nog baie verf op sy palet oorgehad het, in al die kleure van die reënboog. En daardie kleure het hy oor Clarens kom spat!
Clarens in die herfs is seker een van die mooiste plekke in die Vrystaat, en ons het die voorreg gehad om dit te beleef. Vir twee dae kon ons ons verkyk aan die skoonheid rondom ons. Elke oggend was daar twee gidse wat groepe vrywilligers op staproetes geneem het. So in die stap het hulle hulle kennis oor die berg en die omgewing met ons gedeel. Die staproetes is letterlik agter enkele bome versteek: eers oor die bruggie oor die stroompie, dan met ʼn bospaadjie al op die kontoer en laastens ʼn effense klim na een van die mooiste uitsigte denkbaar. ʼn Groep plaaslike natuurliefhebbers het bruggies en trappies gebou om die stap makliker te maak. Die roetes is nie moeilik nie – as die Labrador dit kon maak, kan enigeen.
Ons sê dikwels dat wanneer ons die Bybel lees, dan is dit elke keer nuut, al het ons die betrokke deel al hoeveel maal gelees. In die natuur (God se algemene openbaring) is dit ook so. Die tweede dag het ons tonele raakgesien waarby ons die eerste keer verbygeloop het. Mag dit altyd so wees dat ons in die algemene en spesifieke openbaring altyd weer iets nuuts raaksien.



