Deur Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer
Male sonder tal het ek die afgelope ruk gehoor hoe sleg die jaar vir talle mense was. Daar was net ’n algehele gevoel van iets is drasties verkeerd in die wêreld. Die Christendom is uit talle oorde in verskeie lande aangeval en Christene is vir hul geloof doodgemaak. In die VSA woed ’n oorlog tussen mense wat selfs in dieselfde straat woon, maar verskillende politieke oortuiginge het. Die een groep dra rooi T-hemde en die ander blou. Dit het vanjaar gevoel asof die wêreld ’n reuse tuimeltrein in ’n pretpark geword het wat net-net wil ontspoor.
Ons troos aan die einde van elke jaar is weereens die herdenking van ons Ewige Verlosser se geboorte. Die laaste paar dae van elke jaar bring weer ’n rustigheid in almal se gemoed omdat ons weet: elke einde is ’n nuwe begin. Elke stofpad bring weer nuwe hoop en genade. Ons kan vreesloos die Nuwe Jaar ingaan, want Jesus is reeds daar …
Vir my bejaarde ma, toe reeds 83 jaar oud, was 2009 se Kersfees haar laaste. Sy was reeds ernstig siek as gevolg van hart- en nierversaking. Wat so hartseer was – die klein vroutjie wat kop onderstebo in ’n gemakstoel naby die Kersboom gesit het, het by tye nie geweet waar sy is nie. Dit terwyl die Kersboom se liggies in haar ligblou oë, wat toe reeds lewensmoeg was, gedans het. Sy’t ’n klein geskenkie ontvang omdat ons almal maar in ons menswees geweet het, haar lewe staan einde se kant toe. Hoe ironies is dit nie, dieselfde vrou wat jaar na jaar al die geregte op Oukersaand reeds in die oond gehad het, perfek voorberei. Die Kersete is ’n paar dae voor die tyd met militêre presiesheid beplan en uitgevoer. Elke Kersdag het die tafel gekreun onder die verskeie soorte vleise, slaaie, groente en natuurlik struifkoek. Sy was ook die logistieke bestuurder vir die koop en toedraai van al die geskenke.
Ondanks my ma se siekte, het Oukersaand daardie jaar vir ons familie ’n onbeskryflike rustigheid gebing. Jesus Christus, ons Redder, wat vir ons en in ons wêreld gebore is, gaan aan die einde van my ma se reis op aarde vir haar aan die anderkant wag. Net soos Hy belowe het dat daar ’n plek vir elkeen van ons voorberei word in die Huis van Sy Vader. Vir diegene wat in Hom glo.
In Lukas 1:31-33 kry ons die toekomsbelofte van die engel, Gabriël, aan Maria: “Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as Koning oor die nageslag van Jacob heers tot in ewigheid. Aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
Daar is ’n Verlosser vir ons gebore, die tydlose boodskap wat ons waarborg is dat Jesus in ons harte woon … elke dag van die jaar … tot in ewigheid.
Mag Kersfees 2025 ons harte vul met liefde, hoop en genade!
| Verskaf: Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer

