Deur Ethan Kleynhans, ’n eerstejaar-teologiestudent aan Kovsies
Efesiërs 4:11-12: “En Hy het sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou.”
Die seminariumstudente van die NG Kerk Vrystaat is genooi om hul gejaagde universiteitslewe vir ’n oomblik opsy te sit en tyd te maak vir selfrefleksie en geloofsgroei. Op 16 Augustus het die studente bymekaargekom vir ‘n besondere retreat, waar hulle die kans gehad het om sterker bande met mede-gelowiges te vorm, geestelike vernuwing te ervaar en waardevolle kerklike opleiding te ontvang.
Die Retreat vir Alle Jare is ‘n geleentheid waar verskeie temas aan die orde kom en die seminariumstudente van die NG Kerk begelei word in hul reis na die amp van leraar. Dit vorm ‘n belangrike deel van hul bedieningsontwikkeling. Georganiseer en aangebied deur die seminariumbestuurder en steunspan, het die retreat plaasgevind op Menuha, ‘n plek waar die stilte en rustigheid van die natuur elkeen se hart sagkens omvou.
Dag 1
By aankoms op Menuha was dit onmiddellik duidelik hoe opgewonde die toekomstige leraars van die kerk was. Die atmosfeer was lig en vreugdevol soos die studente begin het om te ontspan ná die drukte van die stad. Die retreat het op ’n hoë noot afgeskop, met die eerste oordenking wat in ‘n indrukwekkende heuwelkapel gehou is, perfek om ’n tyd van stilte en gebed in te lei. Ds Wouter van Velden het gesê: “Die kapel-geleenthede was vir my baie kosbaar en ek het besef hoe ’n ruimte inderdaad ook op ons belewenis ‘n invloed het …” Die res van die dag het ‘n aanbieding oor leierskap ingesluit, asook saamkyk en bespreking van ’n rolprent. Die dag is afgesluit met ’n oordenking in die heuwelkapel.
Dag 2
Die tweede dag het verskeie verrykende aanbiedings ingesluit. Die fokus was op uitbranding, kerkmusiek en ervaringsleer, wat die studente nuwe perspektiewe gegee het oor kerkwees. Die aanbieders, met uitgebreide ervaring in hul onderskeie velde, het gesorg vir waardevolle opleiding. Ds Tania Botha en dr Johan Nel het byvoorbeeld gepraat oor trauma, angs en depressie, terwyl ds Johan David se aanbieding oor ervaringsleer die studente ’n bietjie meer fisiek aktief gekry het, met nuwe insigte oor hoe om mense op verskillende maniere op te lei. Die dag het ook ’n gesamentlike ete ingesluit, wat ‘n spesiale geleentheid was om ervarings te deel en bande te versterk. Dit is gevolg deur ’n gesellige braai en kuier.
Dag 3
Die afsluiting van die retreat het met ‘n klim na die kapel begin, wat, met sy hoë ligging, ’n gevoel van nabyheid aan die hemel en die skepping geskep het. Dit was die perfekte plek om die teenwoordigheid van God op ‘n besondere manier te ervaar. In die laaste sessie is daar gefokus op die studente se unieke roeping en die pad wat elkeen stap. Ná die nagmaal en liedere, musikaal begelei deur ‘n talentvolle vierdejaarstudent, het die studente teruggekeer na hul woonplekke, gereed vir die universiteitslewe wat voorlê.
Die seminarium-retreat het ’n merkbare impak op die harte van die studente gehad. Die begeleiers se harde werk en toewyding is diep waardeer en hulle het ‘n blywende indruk gelaat op almal wat deelgeneem het. Die teenwoordigheid van studente, tesame met die diversiteit van hul karakters, bring groot hoop en opgewondenheid vir die toekoms van die NG Kerk.
| verskaf deur Ethan Kleynhans: Die seminariumstudente