Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Verbind aan en in pas met die Gees van God”

Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat en leraar van NG Gemeente Berg-en-Dal

Meimaand het oorgegaan in Junie, herfs in winter, ’n eerste semester se leerwerk in die halfjaareksamens. En dít, rondom daardie geliefde tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster in ons gemeentes. Oestyd. In sosiale media het die uitnodigings van gemeentes oral in die Vrystaat verbygekom: verskillende tekste en temas, onderaan telkens ook, “sop en broodjies ná die diens”. Insamelings van komberse vir Winterhoop en ENGO elke aand. Dit was geseënd, lui die berigte. En toe was ons saam op Amanzi; in die gees met Elia en mekaar meegeluister na “die fluistering in die windstilte” …

Wat nou ná Pinkstertyd 2025? Was dit maar net nóg ’n week op ons kerkalmanak wat ons afmerk en aangaan? Keer ons maar terug na die ou groewe, val in die ou loopgrawe? Of koester ons dié geskenk van die “Gees van God wat in my woon”, soos ons saans gesing het: “Troos my, sterk my, leer my, lei  my, heilig my” (Lied 442)? Hoe leef ’n gelowige luisterend na die Gees van God; ook óns, as kerkraadslede, leraars, ringskommissielede, voorgangers in ’n gemeente of gemeenskap iewers in die Vrystaat?

In ’n gemeentebybelstudie lees ons vanoggend Handelinge 20; Paulus se “afskeid” van die ouderlinge van die gemeentetjies in en rondom Efese. En die woorde tref ons, vers 22: “Kyk, nou gaan ek, gebind deur die Gees, na Jerusalem, sonder om te weet wat met my gaan gebeur.” Dit moes iets van die selfversekerde Paulus gekos het om te erken, “ek weet nie”. Vroeër in sy lewe – as die goedopgeleide kenner van die Skrifte; alumnis van die beroemde Fariseërskool van Gamaliël in Jerusalem; jeugdige omstander by die steniging van ene Stefanus wat “die tempel en die Wet” belaster het (6:13, 7:58, 8:1); brandend in sy woedende ywer om “enige aanhanger van die Weg” tot die dood toe te vervolg (9:1-2, 26:9-11) – was daar by Saulus min twyfel: hy wéét vir seker wat Gods geopenbaarde wil is en hy doen beslis presies dít! Maar ná die ontmoeting met die lewende Christus op die Damaskuspad, die drie dae blind en toe nóg drie jaar in die woestynstiltes van Arabië (Galasiërs 1:18), is hy versigtiger, fyner aan’t onderskei. Dié dat hy, hoewel hy vir die ouderlinge van Efese sê “ek weet nie wat met my gaan gebeur” (Handelinge 20:22), óók sê: “dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry wag” (20:23). Dit was aan die einde van sy derde sendingreis. ’n Paar jaar tevore, tydens die tweede sendingreis, was sy en sy reisgenote se ervaring dat die Gees werklik hul reisplan ánders rig as wat húlle gedink het: tussen die provinsies Galasië en Asië gaan die grenspos toe; wanneer hul van Misië na Bitinië wil gaan, laat “die Gees van Jesus hulle nie toe” (16:6-7). En op hierdie terugtog nou na Jerusalem, is dit die gemeente in Tirus wat “onder leiding van die Gees” vir Paulus sê om nié na Jerusalem te gaan (21:4)! Hoe lei die Gees van God ons, hier selfs oënskynlik teenstrydig?

Hoe leef mens bewustelik met die Gees van God?

Dát die leiding van die Heilige Gees vir Paulus allerbelangrik geword het, spreek uit Lukas se verduideliking oor hul intensie: Paulus was haastig, want “hy was gretig om op die Pinksterdag in Jerusalem te wees” (19:16). Aan die einste gemeente in Efese skryf Paulus dan ’n vyf of tien jaar later, wanneer hy inderdaad in die gevangenis sit, sy bede: dat “die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is” (Efesiërs 1:18); sodat “julle deur sy Gees innerlik versterk kan word” (3:16); “toegelê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar” (4:3); “deur die Gees vervul sal word” (5:18); “die swaard van die Gees – dit is die woord van God” sal dra (6:17). En dit was in sy brief aan die gemeentes in Galasië dat hy byvoeg: “Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly (5:25). Vol liefde, blydskap en vrede, geduldig en vriendelik, sagmoedig en met selfbeheersing, só loop ons “deur die Gees gebind” en “in pas”.

Wie langs iemand loop, só verbind, en daarom “in pas” wil bly – wanneer dié Iemand boonop die Parakleet is, “die Een wat langs my roep” (Johannes 14:6) – loop fyn ingestel op dié Ander Een by my. In watter rigting, is hier ’n draai na regs of links, hoe vinnig of hoe stadig gaan my Gids, beur ons opdraend of gaan dit makliker? Luisterend vir ’n enkele woord wat mag aandui, of die gewaarwording van ’n sagte druk aan my arm wat beduie. Selfs, bewus van hoe die asemhaling van dié Een langs my, dein of eb. Die stem van die Gees van God wat in my woon. Ek lees kort vóór Pinkster dat die “Spirit of Christ is doing this transforming work in my life, underneath the scaffolding of my daily existence, which Calvin defined as sanctification, the process of becoming human again” (Dennis Okholm: Monk Habits for Everyday People). Binne-in my gewone daaglikse gang.

Mag ons in hierdie nadae van Pinkster 2025, tyd kry om fyn te luister.

 | verskaf: Ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat en leraar van NG Gemeente Berg-en-Dal.