Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Klein pastorale simfonie …

Deur prof Jan-Albert van den Berg, Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV

My kantoordeur word toegetrek ...
’n Klein pastorale simfonie …

Op 30 Junie vanjaar trek ek my kantoordeur ná 22 jaar se diens aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, agter my toe. Die drie skilderye van die bekende Suid-Afrikaanse priester-skilder Frans Claerhout, wat op bruikleen van die Universiteit van die Vrystaat se Kunsgalery in my kantoor hang, verbeeld ’n terugskou op die tyd wat verby is. Die drietal werke van Claerhout maak deel uit van sy “Pastorale simfonie”-versameling, en alhoewel daar nie veel oor die werke bekend is nie, het elkeen van hulle wel ’n amptelike titel, naamlik onderskeidelik “Die Herder”, “Die Storieverteller” en “Sondagmiddagrit (Mercedes-Benz)”. Ek het gedink om my interpretasie van die drie werke (wat nou in my hart hang!), kortliks in woorde te skets.  Die kleure wat ek vir my woordsketse gebruik, word vermeng vanuit my persoonlike en professionele palet:

Die Herder
Eerste werk: Die pastorale simfonie – Die Herder

Opmerklik in dié werk is die herder se groot, swaar skoene, as teken, verbeel ek my, van die pad wat hy self eers moes óópstap alvorens die kudde daarlangs gelei kon word. Dit is ook opmerklik ’n herder in werksklere, tekenend van die lei van die kudde oor die kloof van Sondag na Maandag; na elke dag van die week. Só sing én vra die bekende Afrikaanse sanger Frieda van den Heever, self ook ’n herder, in haar lied “Mal oor jou” (Album Spoorsny, 2024), vir die herkenning van “mense met vlerke, engele met bene, priesters sonder kerke en kerke sonder stene”. Die weivelde van die heilige word dus in die alledaagse gevind waar elkeen geroep word om ’n engel-herder-priester vir ander te wees. 

Die Storieverteller
Tweede werk: Die pastorale simfonie – Die storieverteller

In dié werk vang die priester-skilder, in lewe van Tweespruit, die ryk betekenis van stories vas. Sentraal tot die werk is die lig wat vanuit die storieverteller straal met opmerklik ’n tong wat sorg vir opwindende klanke wat lettergrepe vol betekenis bied. Dié werk wil vertel dat stories deel is van my lewe, ons as mense se bestaan, en ook van elke gemeenskap. Deur tot verhaal te kom, kom ons tot betekenis en sin. In die passing van die Skrif se Verhaal, ander se verhale en my eie verhaal word almal, selfs voël en hond byeen gebring, soos so mooi op die werk verbeeld word. Miskien word ons as gelowiges geroep om juis dié mees veilige en kreatiewe ruimtes te bied waar verhale verwoord kan word ten einde die storie(s) wat nog gevange gehou word, te laat vry kom. 

Sondagmiddagrit (Mercedes-Benz)
Derde werk: Die pastorale simfonie – Sondagmiddagrit (Mercedes-Benz)

Die skarnier tussen die heilige van ’n Sondag na die alledaagse van ’n Maandag word gevind in ’n donkiekar waarop twee kinders ry. As jy egter snap dat dié Sondagmiddagrit juis ná die oggend se erediens op pad na die alledaagse van die week heilig is, kan elkeen se donkiekar ’n Mercedes-Benz word! Dan kan ons elkeen in beweging kom, meegeneem in die Pinkstertyd deur die dinamika van Gees en Woord, wat met verwondering vasgevang word in die twee kinderfigure op doek, sodat ook my donkiekar verbeeldingryk getransformeer word tot ’n Mercedes-Benz. 

Claerhout was in besonder geïnspireer deur die strewe daarna om die son te vang. As ek op die maat van sy klein pastorale simfonie ’n nuwe fase van lewe binnestap, soek ek ook na die son in die verwagting dat die herder, die vertel van stories en ’n donkiekar alles fragmente bied van wat dit beteken om sinvol te lewe. Alhoewel die deur van my kantoor toegemaak word, bly dit eintlik oop op die eindelose ruimte van verdere interaksie met Claerhout, sy werke en ander (V)verhale. Hierin, en kyk ek mooi, sien ek die vestigia trinitatis raak, die voetspore van God Drie-Enig in my lewe en die wêreld. Dít vra dat, net soos wat die drie werke diep kontekstueel geanker is in die Vrystaatse platteland, ek en jy steeds geroep word om daar waar ons geplant is, ’n eie klein pastorale simfonie te komponeer en saam met ander uit te voer, weliswaar nie net op doek nie, maar veral ook in die lewe self.

Foto’s is verskaf deur prof Jan-Albert van den Berg, Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV.