voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Deur die groot venster van die kapel bo by Menuha lê die vlaktes en rantjies van die Vrystaat wyd voor ons uitgestrek, suidekant toe. ‘n Stil tafereel op ‘n gewone dag. Voor ons die groot houtkruis. In die verte, die buitelyne van Bloemfontein onder die blou hemelkoepel. Dis nog vroegoggend, maar reeds is die horison wasig, stowwerig aan’t dans in die somerson. Dis droog, die gronddam is leeg. Die lug wolkloos. Twee middae gelede, ‘n harde donderbui wat jong botsels gras groen en verkwik gelaat het. Skuins van die regterkant af, oor die vlakte, kom die strepie pad van Brandfort af verby. Ver buite hoorafstand. Ons wag in die stilte van die kapel. “Die regte tyd het aangebreek, die tyd deur God bestem – die Vader stuur vir ons sy Seun, as kind na Betlehem,” sing ons Lied 341. Anderkant Betlehem, na Harrismith toe, staan die mielies al sterk, vertel ‘n ouderling. Anderkant Betlehem lê Gasa, en die dood, dink ons ook. Met die nuus en belewenisse van hierdie jaar 2024 in ons gedagtes, lees ons Jesaja 40 stadig deur. Een vir een deel ons ‘n teks of net ‘n frase wat jou getref het uit hierdie “woord van God wat vir altyd stand hou” (Jesaja 40:8). “Troos, troos my volk” (vers 1), sê een. “Roep uit”, sê ‘n ander, “ons mense is soos gras” (vers 6). “Ewig en onvergelykbaar is die Here,” sê al meer (verse 18, 25 en 28). “Die Here word nie moeg of afgemat” – soos ons nie; “wie op Hom wag, herwin nuwe krag” (vers 31), besef ons almal. Ons wíl op die Here wag.
Só het ons die laaste moderamenvergadering van die jaar geopen, op die Woensdag tussen Ewigheidsondag en Advent.
Die grootste deel van ons agenda het oor die welwese van ons kerkverband gegaan, die NG Kerk in die Vrystaat. Die uitkoms van die Buitengewone Sinode van 3 Oktober 2024 en die opdragte wat daardie vergadering aan die Moderamen gegee het, is bespreek. Drie algemene besluite is hieroor geneem: ‘n Werkswinkel oor die kerkordelike prosedure en implikasies van ‘n “kategoriale ring” word in Februarie 2025 deur die Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) gereël, om gemeentes wat by so ‘n ring sou wou inskakel, te begelei. Dié werkswinkel wil ook meer duidelikheid kry oor die opsie, al dan nie, dat ‘n gemeente met instemming van alle lidmate, “uit die NG Kerk kan tree”. ‘n Tweede besluit: Die Moderamen wil in 2025 al die ringsittings in die Vrystaat besoek en met elke gemeente wat skrywes oor hul posisie in ons kerkverband ingestuur het, in gesprek tree (hieronder meer). Derdens, onderlinge verhoudinge en hoe ons met mekaar oor sake praat, is nie goed nie en ‘n groot byeenkoms van alle predikante, diensleraars en bedienaars, studente en dosente en emeriti in die Vrystaat word beplan om in teenwoordigheid van die Here stil te raak, sy Woord te lees, saam met mekaar ons roeping te herontdek, “boontoe te kyk, te sien, Hý lei die hemelse leërskare, Hý gee vermoeides nuwe lewenskrag” (Jesaja 40:26-29).
Die Moderamen het met hartseer kennis geneem van die bedanking van die leraar van Leeuwberg uit die NG Kerk, én van die feit dat “die gemeente besluit het om alle kerk- en regsverbintenisse met die Ring en Sinode te beëindig” – dit, ten spyte van verskeie pogings van die Ring van Suidoos-Bloemfontein sedert Augustus 2023 om met die leraar, kerkraad en lidmate oor hul besware in gesprek te tree. Die implikasies van só ‘n “bedanking” vir individuele lidmate en hul gemeente “as geheel” (vir “regte, voorregte en verpligtinge”) is verreikend, veral omdat die proses en weg waarlangs die besluit geneem is, nie vooraf uitgeklaar was nie. Die Moderamen wys daarop dat só ‘n moontlikheid nog geensins ondersoek is nie – die besluit van die Buitengewone Sinode in Oktober – en dat hier nie net kerkregtelike aspekte ter sprake is nie, maar óók gemeenregtelike komplikasies. Die STK gee aandag hieraan en ‘n advies kan vroeg in 2025 verwag word. Die gemeente Kestell het hul “akte van opskorting” teruggetrek en is in ‘n proses van geloofsonderskeiding oor hul toekoms; hulle het weer met die Ring van Bethlehem daaroor gekommunikeer. Twee gemeentes wat doleer het, het dit beëindig en hul verhoudinge met die betrokke ringe en die Sinode Vrystaat is herstel. Drie gemeentes het versoek om by ‘n kategoriale ring in te skakel, en hulle is uitgenooi om insette by die werkswinkel van die STK in Februarie 2025 te lewer. Twee gemeentes het laat weet dat hulle nou ook oor besluite van die Buitengewone Sinode doleer; ‘n ander gemeente het ‘n dispuut daaroor met die NG Kerk Vrystaat verklaar en een gemeente het ‘n “geloofsdokument” oor hul Skrifverstaan opgestel en aan die Moderamen voorgelê. Nog ‘n gemeente het laat weet dat hulle uit protes teen die besluit van 3 Oktober hul sinodale bydraes en kollektes gaan terughou. En dan het die gemeente Bethulie ‘n appél teen die prosedure van die Buitengewone Sinode ingedien, wat ingevolge die Kerkorde deur die Algemene Sinode se Taakspan Regte verder hanteer word. Die Moderamen het besluit om elkeen van hierdie gemeentes in 2025 te besoek ten einde saam ‘n welwillende weg vorentoe in hul plaaslike omstandighede en getuienis te soek. Die Moderamen doen ‘n beroep op alle leraars en kerkrade om seker te maak dat hulle in hul vergaderings en besluite by die amptelike bepalinge van die Kerkorde hou; dit raak uiteindelik die welwese van die gemeentes self en van ons kerkverband in geheel.
“Maak in die woestyn die pad van die Here gereed, ‘n grootpad vir ons God gelyk,” het ons op Menuha ook uit Jesaja 40 gelees. “Vul op die laagtes” tussen die “hobbelrige plekke”, oor die “rotsagtige terrein” (verse 3-4). Leierskap in ‘n tyd soos dié vra kalmte, nederigheid en ‘n vermoë om goed en sáám met mekaar te luister na dié Stem wat ons roep (Jesaja 40:3). Hý is die Herder wat sy kudde bymekaar maak, laat wei, met deernis dra (vers 11). Daarom is die Moderamen ook in ‘n proses om strategies te besin oor die pad van ons sinodale strukture vorentoe, ten einde hier volhoubaar lig in die donkerte te kan wees. Miskien is ons belangrikste taak nou as “sinode” om gemeentes te help om die bediening van die Woord, sakramente en gebede, en hul groot getuienis van Woord en brood regdeur die provinsie, te kan volhou; kortom, die voorsiening van goed opgeleide leraars (met diverse bevoegdhede). Ons is besonder bly dat die situasie wat dít aanbetref in die Suid-Vrystaat en Ring van Fauresmith aansienlik verbeter het. Verskillende sulke moontlikhede word ook tans elders ondersoek; “handevat-gemeentes”. Dit was nou in November en Mei volgende jaar, presies 160 jaar sedert die oorspronklike 11 Vrystaatse gemeentes vir die eerste keer in ‘n eie Sinode byeengekom het; in Mei 2025 gaan ons wat nou 151 gemeentes geword het met 148 leraars en nagenoeg 73 000 lidmate, dít gedenk. Dis tyd dat ons goed sal dink oor wie ons werklik as Vrystaatse kerk is, ons teologiese identiteit en ons roeping vir die toekoms hier.
In soveel opsigte het die profetewoord uit Jesaja 40 núwe betekenis vir skaapwagters buite Betlehem en die gryse Simeon by die tempel en die hoorders van Johannes die Doper gekry, dáárdie tyd toe die Here God self nader gekom het – lees maar Lukas 2 en 3. Gód sal weer, hierdie Advent. Vir elkeen wat vermoeid is, wag. Gelowig wag. Ons sál weer loop, selfs hardloop (Jesaja 40:31).
Dís hoekom ons al die mense in en rondom Vrystaatse gemeentes ‘n geseënde Kersfees kan toewens!
Ds Jan Lubbe
Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat