Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Moslems se aanspraak dat die Bybel gekorrupteer is

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

’n Sentrale struikelblok in die gesprek tussen Christene en Moslems is dat Moslems sê dat Christene en Jode die Bybel vervals het en dat dit daarom nie betroubaar is nie. Aangesien dit ’n groot struikelblok in die gesprek tussen Christene en Moslems is, spreek dit vanself dat dit nie ’n saak is wat bevredigend bespreek kan word in die bestek van een of twee kort artikels nie. Die doel van hierdie artikels is ook nie om al die argumente oor verskille tussen Christene en Moslems uit te put nie, maar eerder om informatief vir die gemiddelde lidmaat te wees.

Enige persoon wat al met Moslems in gesprek getree het met die doel om die Evangelie met hulle te deel, sal kan getuig dat baie Moslems selfs tekste uit die Bybel kan aanhaal, maar dat die sogenaamde onbetroubaarheid van die Bybel bykans altyd deur hulle op die tafel geplaas word – of die gang van die gesprek dit nou toelaat of nie. Wat ook opvallend is, is dat die oorgrote meerderheid van hulle nie kan verduidelik wat hulle daarmee bedoel nie. Dit is duidelik iets wat hulle met moedersmelk ingekry het en wat hulle glo, sonder om dit te bevraagteken of te motiveer.

Ek het in voorbereiding vir hierdie artikel aan die Islamic Propagation Centre International in Durban geskryf en vir so ’n sistematiese beswaar teen die suiwerheid van die Bybel gevra, maar hulle het in gebreke gebly om dit aan my te voorsien.

Mohammad noem in die Koran die Torah en Evangelie by die naam (Sura 3:3, 5:68, 53:36); die Psalms (Sura 4:163, 17:55, 21:105); en op ‘n algemene wyse, die “boeke van die profete” (Sura 2:136, 285, 3:84, 4:136) en die “Skrifte van Moses” (Sura 53:36). In die Koran word daar gereeld na Christene en Jode verwys as “die mense van die boek”. Die Koran beskou homself as nog een van hierdie Skrifte, en sê, as ’n belydenis, dat geen onderskeid tussen enige van hulle gemaak moet word nie:

Say, “We believe in God and in what was revealed to us [the Qur’an] and in what was revealed to Abraham, Isaac, Ishmael, Jacob and the tribes, and in what was given to Moses and Jesus and in what was given to the prophets from their Lord. We make no distinction between any of them.” (Qur’an 2:136)

Die Christelike Geskrifte is volgens die Koran steeds geldig en Christene word beveel: “Laat die mense van die Evangelie oordeel volgens wat God daarin geopenbaar het” (Koran, Sura 5:47). Daarom, volgens die Koran, is Moslems veronderstel om die Bybel te verdedig.

As die Koran aan Moslems hierdie opdrag gee, waarom val Islamitiese leiers dan die Bybel aan? Die antwoord is as gevolg van wat die Koran beweer oor die Bybel. Ons kyk volgende keer in meer besonderhede daarna.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hier is nog ’n artikel in die reeks oor Apologetiese gesprekke met Islam. Hierdie een gaan spesifiek oor Islam se aanspraak dat die Bybel gekorrupteer is.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za