Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Benut Moslems se idee dat die Koran ’n ewigheidsdimensie het

Foto: Canva

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Christene glo dat Jesus God is. Hulle glo ook dat Hy aan die kruis gesterf het. Moslems maak hieruit die afleiding dat Christene verkondig dat God gesterf het. God is egter onveranderlik en ewig. Dit lyk dus, vanuit die oogpunt van Moslems, asof Christene se aanspraak op die Godheid van Jesus nie sin maak nie en weersprekend is.

Een van die maniere om hierdie saak in ’n gesprek met Moslems aan te pak, is om hulle aanspraak dat die Koran ’n ewigheidsdimensie het, te benut. Volgens Islam is die Koran die ewige gesprek van Allah. Dit het geen begin nie en dit kan ook nie vernietig word nie.

Die gesprek met ’n Moslem, hoewel respekvol, verg ’n mate van moedswilligheid. Sommer met die intrapslag kan jy die Koran oopmaak en vir jou Moslem gespreksgenoot  die datum in die Koran wys waarop dit gepubliseer is. Dit het dus ’n datum waarop dit ontstaan het. Dit kan dus nie op ’n ewige ontstaan aanspraak maak nie. Hulle aanspraak dat dit nie vernietig kan word nie, hou ook nie water nie. Dit is van papier en gom en ink gemaak, wat hoogs vlambaar is. Mense kan die bladsye uit die Koran skeur. Die Koran kan dus maklik vernietig word. Hulle aanspraak dat die Koran ewig is, hou dus nie water wanneer op die vernietigbaarheid daarvan gewys word nie.

In antwoord op so ’n argument sal Moslems vir jou daarop wys dat die Koran twee nature het. Enersyds, as die ewige woord van Allah, is dit nie geskep nie en het dit geen datum van ontstaan gehad nie en kan dit ook nie vernietig word nie.  Aan die ander kant is ’n bepaalde fisiese Koran van papier en ink gemaak en so ’n gedrukte Koran is wel vernietigbaar. Dit het ’n begin en ’n einde.

Die sogenaamde ewige woord van Allah, wat onvernietigbaar is, kan dus deel word van hierdie wêreld in ’n tasbare, fisiese vorm en hierdie tasbare vorm is wel vernietigbaar.

Van hierdie punt in die gesprek is dit ’n klein treetjie om vir Moslems, na aanleiding van hulle eie verduideliking van die twee nature van die Koran, te wys op die twee nature van Christus. Die Here Jesus is van ewigheid God. Dit is Sy goddelike natuur. Johannes 1:1, om maar een voorbeeld te noem, stel dit duidelik.

Hy het egter ook ’n menslike natuur gehad. Na analogie van die vernietigbare aard van die Koran kan ons die leer oor die menslike natuur van Jesus in die Bybel gebruik, naamlik dat dit hierdie natuur van Jesus is wat gesterf het. As mens was Hy honger en dors en het Hy gely en gesterf. As God is Hy egter ewig en onvernietigbaar.

Moslems se aanspraak dat Jesus nie tegelykertyd ewig én sterflik kan wees nie, word deur hulle eie siening van die Koran, naamlik dat dit twee nature (’n vernietigbare aard en ’n ewigheidsdimensie) het, weerlê.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel ook oor die apologetiese gesprekke met Islam.

116 | Maatskaplike NOODLYN