Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Mooi Parys – “Waar ’n wil is, is ’n weg!”

Deur Mariëtte Odendaal

“Die Mooi Parys-projek fokus nie net op die skoonmaak van Parys nie, maar waar ons kan, herstel en verfraai ons ook ons dorp.”

Braam Celliers

As jy die dag besluit op watter dorp jy ná jou aftrede wil gaan woon, neem jy baie faktore in ag. Een daarvan is dat dit ten minste in ’n mooi omgewing moet wees.

En dit is presies wat Braam Celliers, afgetrede arbeidskonsultant van Bothaville, en sy vrou, *Isamari, gedoen het toe hulle in 2019 besluit het om op Parys te gaan woon.

Groot was hulle teleurstelling egter toe hulle sien hoe die dorp reeds erg vervalle geraak het. “Afval en ander gemors het oral verstrooi gelê,” vertel Braam. “Behalwe dat dit grootliks as gevolg van die dorpsbewoners se eie nalatigheid en gebrek aan netheid was, was dit ook weens die munisipaliteit se onvermoë om vullis te verwyder.

“Dit was ontstellend om te sien hoe min die gemeenskap vir hul dorp omgee. Ek en Isamari was beter gewoond, so as ons in Parys wou woon, sou ons iets dringends aan dié saak moes begin doen.”

Braam, jy hét toe iets daaraan begin doen. Het jy dit as verlengstuk van ’n gemeenteprojek aangepak, of was dit op eie inisiatief?
“Dit was op eie inisiatief. Nou weet ons mos: as iets jou só ontstel en jy voel ’n probleem moet gekonfronteer word, is dit jy sélf wat die bal aan die rol moet sit. Dit help nie net om te praat nie – jy moet iets prakties aan die saak begin doen.

“Dit is hoe die projek, Mooi Parys, ontstaan het; ’n onderneming wat ook werk aan baie werkloses verskaf.

“Alhoewel die gemeente waar ek lidmaat is, naamlik die NG Kerk Parys-Wes, nie hierby betrokke is nie, het ons predikant, ds Barry van Wyk, dit al verskeie kere vanaf die preekstoel onder die aandag van die gemeentelede gebring. Dit het beslis gelei tot groter en wyer betrokkenheid deur inwoners; iets waaroor ons baie dankbaar is.”
Hoe het die wiele toe begin rol om die Mooi Parys-projek prakties aan die gang te kry?

“Ons het in November 2020 daarmee begin. Aanvanklik het ons eers net op ons hoofstraat gefokus waar die meeste mense rondbeweeg en kuier. Dis ook hier waar mense gewoonlik die eerste indrukke van ’n dorp kry. Ons moes dit so gou moontlik netjies en skoon kry.

“Parys is ’n toeriste-dorp en dit het my verder gemotiveer om dit aantreklik te help maak vir besoekers wat hierheen kom. Ons wil graag hê hulle moet ons dorp weer besoek; uiteindelik baat almal tog daarby.

“Ek het besluit om weg te spring met behulp van ’n paar jong karwagte aan wie ek R10,00 vir elke swartsak vol rommel aangebied het om die area skoon te maak. Hulle het in daardie eerste middag tien sakke volgemaak.

“Dit het daartoe gelei dat ons span toe die res van ons dorp se hoofstraat en aanliggende areas begin skoonmaak het.”

Hoe het die proses toe verloop om ’n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy te word?

“Gedurende 2022 is die gemeenskap versoek om bymekaar te kom om die aksie meer formeel te maak. Daar was ongeveer dertig inwoners by die gesprek teenwoordig waartydens ons ’n groepie van sewe persone aangewys het om ’n meer amptelike proses te volg.

“Die bestuursgroepie het daarna weer vergader en ons het besluit om as ’n nie-winsgewende maatskappy of non-profit company (NPC) te registreer. Die maatskappy is deur ’n boekhouer geregistreer wat die aansoek gehanteer het. Daar kon nou ’n bankrekening geopen word met die hoop dat ons meer fondse uit die gemeenskap kon bekom.

“Al sewe bestuurslede is as direkteure benoem. Ek het steeds voortgegaan as die bestuurder van die projek en bedryf dit steeds.

“Die proses is eenvoudig. Elke persoon moes slegs ’n voorgeskrewe dokument met persoonlike inligting voltooi en ’n afskrif van hul identiteitsdokument voorsien.

“Een van die voordele van so ’n maatskappy is dat skenkers belastingsertifikate kan ontvang om hul bydraes van hul belasting te verhaal.

“Die NPC is aanvanklik as Ngwathe Warriors geregistreer, maar ’n jonger groep inwoners het intussen betrokke geraak en daar is toe voorgestel dat ons die dorp se naam in die naam van die projek moet inkorporeer. Dit het gelei tot die naam MOOI PARYS. Ons bedryf nou die projek onder hierdie naam.

“Ons het ook ’n kompetisie onder skoolkinders geloods om vir ons ’n slagspreuk te vind. Die slagspreuk, SEE IT, CLEAN IT, is as die beste een aangewys en die wenner is beloon vir sy vindingryke voorstel.”

Hoe werk die finansiering van so ’n projek?

“Aanvanklik was dit net ek wat die projek gefinansier het, maar die sigbare verskil van wat ons Mooi Parys-span in so ’n kort tydjie kon vermag, het van die besighede in die hoofstraat gemotiveer om ook finansieel tot ons projek by te dra.

“Die dorp is egter groot en ons kan ongelukkig nie in alle gebiede of woonareas betrokke raak nie. Befondsing het afgeneem van gemiddeld R15 000 per maand na ’n maksimum van R5 000. Dit beperk ons ongelukkig in die aksies wat ons graag sou wou uitbrei.”

Die Mooi Parys-projek is tans baie goed gevestig en wyd bekend. Hoe het dit die dorpsmense geraak en watter praktiese aksies gebeur nou alles in jul mooi dorp?

“Die skoner Parys het bygedra tot ’n groot gesindheidsverandering by ons inwoners. Daar is ’n sigbare afname in vermorsing. Aanvanklik het ons tussen 80 en 100 sakke afval twee maal per week uit die dorp verwyder en soms tot agt werkers gebruik om ons hiermee te help. Tans word daar net ongeveer tien sakke afval een maal per week uit die hoofstraat verwyder.

“Twee van ons Mooi Parys-direkteure het ook intussen betrokke begin raak en ondersteun ons met veral die verfraaiing van die ingange van ons dorp.

“Blomme, bome en plante word deurentyd aangeplant. Alhoewel dit nie op groot skaal gebeur nie, het dit alreeds die afgelope twee jaar sigbaar ’n groot verskil gemaak aan die verfraaiing van die dorp. ’n Mens merk dit dadelik op as jy die dorp binnery.

“Verskeie borge het ook betrokke begin raak deur die skenking van plastieksakke op deurlopende basis. Daar is ses trollies wat weekliks deur die dorp beweeg om die afval (wat ongelukkig nog steeds voorkom) te verwyder. Ons het ook skenkings van grassnyers en bossiekappers vanuit die gemeenskap ontvang, asook kosbydraes van verskeie restaurante vir die werkers wat ons help met die skoonmaak en grassny. Besighede is veral hiermee sterk ondersteunend.

“Die Mooi Parys-projek fokus nie net op die skoonmaak van Parys nie, maar waar ons kan, herstel en verfraai ons ook ons dorp.”

“Ons sny gras op sypaadjies en versorg ook twee parkies in die dorp.

“Die ou begraafplaas is ook die afgelope drie jaar skoongemaak. Baie mense het nie eers geweet dat daar so ’n begraafplaas bestaan nie. Dit was totaal verwaarloos en toegegroei met gras en hemelhoë bossies. As jy nou die dorp inry van Vredefort se kant af, is dit nou duidelik sigbaar en vertoon netjies en versorg.

“Ons munisipaliteit het die afgelope twee maande ook begin betrokke raak by die skoonmaak van ons dorp. Dit help baie om Parys aantreklik te maak vir inwoners en besoekers.

“Mooi Parys kry daagliks positiewe terugvoer vanuit die gemeenskap en ook van besoekers. Lees gerus op ons Mooi Parys Facebook-blad wat die positiewe effek van ons pogings is.”

Mooi Parys is ook genader om met ’n groot projek, Parys Wetland, te help. Vertel meer.

“Ja, graag. Dit behels die opgradering van ’n vleilandterrein tussen Thumahole en Parys. Die area is erg verwaarloos en het ’n stortingsterrein van veral bou-afval geword.

“Daar word beplan om fietsrybane, landloopbane en staproetes in daardie gebied uit te lê en te ontwikkel. Bome word ook alreeds geoormerk wat aan die Parys Wetland-projek geskenk sal word.

“Hierdie projek sal gedurende 2025 aangepak word. Daar word tans befondsing hiervoor ingewag.”

’n Laaste woord, Braam?

“Ek glo dat deur te droom, te hoop en te vertrou Parys werklik weer ’n juweeldorp kan word. Hier is egter nog baie verval wat aangepak kan word, maar met behulp van verdere en groter betrokkenheid van ons inwoners en met die ondersteuning van die Mooi Parys-projek sal dit wel bewaarheid kan word.

“Ons het nog baie mense wat negatief voel oor ons water-, krag- en straatprobleme. Dit sal waarskynlik nog vir lank so wees, maar intussen weet ek dat dit met positiewe insette kan verander.

“Ek nooi gewoonlik hierdie negatiewes vir koffie en kry dan hul gesindheid geswaai. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

“Danksy die groot genade van ons hemelse Vader is ek nog gesond en sal ek hierdie poging kan volhou. Sonder Hom is ons tot niks in staat nie.”

*Isamari is ongelukkig in April vanjaar oorlede na ’n lang lyding as gevolg van Alzheimers.

Vir meer inligting

Kontak Braam Celliers  by braam.celliers.bc@gmail.com

Afriforum, een van ons borge.
Die Mooi Parys-projekspan aan die werk.
Een van Parys se mooi skoon strate.
Lede van die Mooi Parys-skoonmaakspan.
Die hope vullissakke nadat ons strate skoongemaak is
Een van ons opruimspanlede besig met 'n bossiekapper wat aan ons projek geskenk is.
Een van ons opruimspanlede besig met 'n bossiekapper wat aan ons projek geskenk is.

 | verskaf deur: Braam Celliers