Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Laat U koninkryk kom

Deur prof Kobus Schoeman, Praktiese en Missionale Teologie, Fakulteit: Teologie en Religie, UV

 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid …”

Matteus 6:33 AFR20

As gelowiges bid ons die gebed “laat U koninkryk kom …” gereeld as deel van die Ons Vader-gebed of as deel van ons eie gebede.

Ons, as landsburgers, lewe in ’n republiek met ’n president en ’n grondwet. Wat bedoel ons as ons bid “laat U koninkryk kom” as ons nie ’n monargie ken nie? In Jesus se tyd was die versugting sterk dat die koninkryk van Israel weer moet herleef. Die dissipels vra net voor sy Hemelvaart vir Jesus of die koninkryk van Israel nou ’n werklikheid gaan word (Handelinge 1:6). Jesus se antwoord is duidelik dat dit oor veel meer as Israel se koninkryk gaan.

Jesus begin sy openbare bediening met die aankondiging dat die koninkryk van hemel naby gekom het (Matteus 4:17). Hy vertel verskeie gelykenisse en voer gesprekke om te verduidelik wat God se koninkryk beteken. Die koninkryk is soos ’n mosterdsaad, suurdeeg, ’n skat of pêrel van groot waarde, om enkele voorbeelde uit Matteus 13 te noem. Jesus maak deur Sy lewe en opstanding hierdie koninkryk ’n werklikheid.

Ons raak so maklik in ons eie klein wêreld vasgedraai. My eie belange en behoeftes staan voorop. Gemeentes fokus baie keer net om aan die lewe te bly. Die finansies moet balanseer of ons moet net sorg dat die eredienste aan die gang bly. Dit is nie nou die tyd om verder as ons “eie” grense te kyk nie. Is dit ’n perspektief of God se koninkryk?

As ons individueel of gesamentlik as gemeentes oor ons roeping nadink, moet dit wyer strek as net ons eie behoeftes. Die koninkryk van God roep ons op om buite ons eie gemaksone te beweeg.  Die koninkryk gee ons hoop vir die toekoms, maar dwing ons om binne hierdie wêreld met sy unieke uitdagings diensbaar te wees. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid …” (Matteus 6:33).

Dinsdagaand 19 November, tydens die legitimasieplegtigheid by Hugenoot-gemeente, het sewe gelowiges hulleself tot die formele bediening in die NG Kerk verbind. Hulle en elkeen van ons wil deur die gebed sê: God se agenda word ons agenda. Ons is bereid om in God se koninkryk te werk. Ons is burgers van God se koninkryk!

 | verskaf: Prof Kobus Schoeman, Praktiese en Missionale Teologie, Fakulteit: Teologie en Religie, UV.

 

116 | Maatskaplike NOODLYN