Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

God onthou my

Hierdie is ‘n ware verhaal.

Een van die mees troosvolle tekste in die Bybel, vir my, is Jesaja 49:15,16. Selfs tussen baie ander bemoedigende verse in Jesaja staan dit soos ‘n baken van lig:

Kan ‘n vrou haar baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,…”.

Dit is skrikwekkend dat ons ons vriende vergeet, maar ons vyande onthou, terwyl God Sy kinders onthou en hulle sonde vergeet. Dink maar aan Jeremia 31:34 waar die Here sê: “Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie”.

Dalk het jy vandag die ervaring dat God nie jou sonde vergeet het nie, maar dat Hy jóú vergeet het. Dit is maar hartseer en beproewing se manier. Dit wil ons laat twyfel aan God se goedheid. Ja, die lewe is dikwels vol van hindernisse en probleme en onmoontlike teenstrydighede. Soveel so dat dit lyk asof dinge nooit weer uitgestryk kan word nie.

Dit herinner my aan ’n gesprek wat ek ’n tydjie gelede gehad het, wat my steeds bykans sprakeloos laat. Maar, kom ek vertel jou hierdie ware verhaal. Die verhaal van Koos Botha[1], soos hy my dit self vertel het. Koos bly in Stellenbosch. Hy is ’n motorwerktuigkundige by ’n motorhawe op die pad na die Strand. Baie jare gelede, toe Koos so vyf jaar oud was, het hy en sy suster, Jakoba, en nog twee kleiner boeties saam met hulle ouers uit die destydse Suid-Wes Afrika getrek, op soek na werk. Om te sê dat hulle getrek het, is eintlik ’n totale oorskatting van die gebeure, want al wat hulle gehad het was ‘n ou krok-kar, waarin hulle sommer gewoon het ook. Hulle het gevorder tot op Kimberley, sonder dat sy pa werk gekry het. Daar het die welfare, soos ou Koos sê, gehoor van die gesin wat in die motor bly en is hy en die ander kinders in die weeshuis gesit. Hulle het, volgens hom, die kinderhuis oorgeslaan en is reguit weeshuis toe.

Daar het hulle sommer op die vloer geslaap. Ou Koos sê die winters in Kimberly is bitter koud, as al wat jy het net ‘n ou kort broekie en ‘n hempie is – nie eers ‘n wessie om onder aan te trek nie. Later is hulle kinders ook opgebreek. Hulle  Bothas was blykbaar maar ‘n handvol en is uitgeplaas na weeshuise die land vol. Waarheen, het hy nie geweet nie. Tot vandag toe het hy nooit weer sy broers gesien of van hulle gehoor nie. Hy weet nie eers of hulle nog leef nie.

Een ding wat hy wél kon doen, vertel ou Koos my, was dat hy kon voetbal speel (nie rugby nie). ’n Onderwyser het hom raakgesien. Toe hy in Standerd 7 was, het die onderwyser vir hom ‘n paar toks en rugbykouse gegee. Dit was die eerste besittings wat hy ooit gehad het. Hy onthou nog hoe hy dit styf teen hom vasgedruk het met die gedagte: “Julle is myne! Net myne!”

Koos is nogal gekies om die provinsie op die Cravenweek te gaan verteenwoordig. Toe party van die keurders egter verneem dat hy in die kinderhuis woon, is hy uit die span gelaat. Die een of ander man met ’n titel, vertel hy, se kind het toe sy plek in die span gekry. Tot vandag toe wantrou hy mense met titels, sê hy in ’n bitter toon.

Na skool is hy Johannesburg toe waar hy deel geword het van ‘n “motorbike gang”. Een dag het hulle nog so gery, toe skree die bendeleier: “Die laaste man by die brug is ‘n chicken”. En niemand wou ‘n chicken wees nie, want dan moes jy die ander bendelede se vuilwerk doen. En so jaag die hele spul op die brug af. Koos het ‘n Harley Davidson gery wat stadiger as die ander ouens se fietse was. Hoe hard hy ook al gery het, hy kon net nie byhou nie.

Ook maar goed, want met dié wat almal so op die brug afjaag, kom daar ’n vragmotor, wat hulle nie kon sien nie, van die ander kant van die brug aan en die hele motorfietsbende is in die vragmotor vas. Koos was een van die min wat dit oorleef het, chicken of te nie.

Met die laaste geld wat hy gehad het, koop hy toe vir hom ‘n treinkaartjie Kaapstad toe “Ja, ek is bly dat jy hier weggaan. Ons het genoeg van jou soort skuim hier. Skoert!”, snou die kaartjie-verkoper hom vir oulaas toe.

Onseker van waar hy moet gaan sit, skuifel hy met ’n bekende gevoel in die gangetjie af – die gevoel van verwerping. Die gevoel van: “Jy is nie welkom hier nie!”

“Waar gaan jy afklim?”, vra die kondukteur. Dit klink nie of hy uit belangstelling vra nie. Dalk eerder om seker te maak hoe lank hy vir Koos gaan moet dophou. Koos het gedink dat dit goed genoeg is om te sê dat hy op pad is Kaap toe. Dit staan tog so op sy kaartjie. Terwyl hy wonder hoe om die knorrige kondukteur te antwoord, sien hy in die kompartement ‘n prent van ‘n plek wat vir hom vreeslik mooi is. Hy het nie ’n idee waar die plek is nie, maar hy beduie vir die kondukteur: “Dit is waarheen ek op pad is, Meneer. Dit is waarheen ek wil gaan”.

Toe hulle tienuur die aand in Stellenbosch stilhou, sê die kondukteur vir hom dat hulle nou op daardie plek is. Die laaste munisipale bus vir die aand stop toe ook net daar en ‘n uitermate oorgewig busdrywer vra hom waarheen hy op pad is. “Aangename kennis”, sê Koos, heel onseker van hoe om hierdie nuwe situasie te hanteer. “Ek is Koos Botha. Ek is vreemd en werkloos. Ek is normaalweg nie welkom waar ek kom nie. Ek weet nie eers waar ek nou is nie. Om die waarheid te sê, ek weet ook nie eintlik waarheen ek op pad is nie”.

Die busdrywer kyk hom op en af. Amper of die busdrywer iets bekends in hom wil raaksien.  “Jy gaan vanaand saam met my huis toe”, is die busdrywer se manier om sy gestaar na Koos af te sluit.

Toe hulle by die busdrywer se huis kom, roep die busdrywer, terwyl hy die trappe uit asem opstap: “Jakoba! Jakoba, ek het jou broer vanaand huis toe gebring!”

Ek is heeltemal verstom! Ek het nie hierdie einde aan die storie sien kom nie.  Hoe is dit moontlik dat Koos as gevolg van omstandighede op die regte trein klim, ‘n prent van ‘n plek sien wat hy nie ken nie, op die régte tyd van die trein afklim, sodat die énigste persoon in die wêreld wat hom op daardie oomblik kan help, sy swaer is, wat hy nog nooit ontmoet het nie en dan na soveel jare van swaarkry en seerkry en verwerping, herenig word met sy suster Jakoba, wat hy nie eens geweet het nog leef nie?

Hoe is dit moontlik? Is dit dalk toeval? Of is dit die noodlot? Nee, nie in die minste nie. Feit van die saak is dat God nooit van Koos vergeet het nie. Koos, die weeskind, Koos wat met vuil hande ‘n bestaan gemaak het, Koos die Hell’s Angel. Koos Botha wat deur ander geminag is, Koos wat uit die span gelaat is omdat hy ‘n weeskind was, is nooit deur God vergeet nie. Hy is vir God belangrik. God het hom onthou.

Met Koos het bykans letterlik gebeur wat in die teks in Jesaja staan: “Kan ‘n vrou haar baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,…”.

Ja, ons kry dikwels die wind van voor. Party van ons leef ‘n lewe waar ons niks anders kry as die wind van voor nie. En juis omdat ons gelowiges is wat glo dat elke tree, elke asemteug deur God bepaal word, dan moet ek later vrae vra, dan moet ek wonder: “Waar is God? Het God my lief soos Hy beweer dat Hy het?”

Maar as jy ‘n pad met God gestap het soos Koos Botha dit gedoen het, dan besef jy dat daar nie toevallighede is nie. Dan sien jy, as ’n pelgrim, dat die berge wat tussen jou en Jerusalem gelê het, toe eintlik al die tyd die pad terug na God was.

En hoe kan ek as ‘n Nuwe Testamentiese gelowige anders as om aan Christus se deurboorde hande te dink, wanneer ek attent gemaak word op God se handpalms. Ja, dan wil ek graag dink daaraan dat Hy op Golgota my naam in Sy handpalms gegraveer het.

Dan verwonder ek my daaraan: God onthou my

[1] Hierdie is ‘n ware verhaal. Name van persone en plekke is soms verander om die persone te beskerm.