Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Klein mensie, groot dankbaarheid” – Ds Jan Lubbe nou ook oupa!

Deur Celicia McLean, Redakteur van Vrypos

Ds Jan Lubbe, voorsitter van die Vrystaatse Moderamen en van die Algemene Sinode se Moderamen, is daaraan gewoond om op moeilike of warm stoele te sit. Maar onlangs het hy in ’n stoel in ’n hospitaalkamer gesit, in ’n splinternuwe rol – dié van Oupa. Vrypos het by hom gaan hoor hoe dié nuwe avontuur vir hom voel, en wat hy oor ’n kleinseun, groot drome, en God se getrouheid sê.

Ds Jan, ons het gehoor daar’s ’n nuwe titel agter u naam … Oupa – baie geluk! Vertel ons meer – wie is die nuwe klein mensie wat u hart kom steel het?

“Jan Daniël Joubert is op Maandagmiddag 5 Mei, kort ná twee, in die Kaap gebore, die eersteling van my dogter Hannelore en haar man Daniël. Hy het 3,4 kg geweeg en was 49 cm lank, het intussen alreeds bietjie gewig begin optel en groei mooi. Vir my die mooiste, slimste en soetste seuntjie (soos enige Oupa sal sê!).”

Hoe het u gevoel toe u hoor u gaan oupa word – en toe u hom die eerste keer ontmoet het?

“Beide kere – op ’n Sondagaand vroeg in November verlede jaar toe Hannelore en Daniël daar in die Kaap vir my vertel het, en nou Maandagmiddag toe ek met klein Daniël in my arms sit en na sy asempie luister – was ek met ’n diep, diep, woordelose stilte vervul. In ’n oomblik verruim jou hart net daar, soos op heilige grond, en beleef jy dit asof hy nog altyd daar was, een van ons.”

Wat beteken dit vir u op ’n geestelike vlak om oupa te wees?

“Ek dink nog daaroor. Die uitdrukking in Psalm 128 – as ’n seënwens – dat ons God se goedheid sal kan geniet en “jy jou kinders se kinders mag sien” vul my tans met verwondering en ontsaglike dankbaarheid. Ek gee altyd vir jong ouers by die geboorte van hul kindjie, of by die doop, Psalm 139 oor God wat ons vóór ons geboorte al sien en ken; hierdie keer het ek só na klein Daniël gesit en kyk … Sy naam is in my gebede en voor God ingegraveer.”

In die bediening stap ’n mens gereeld saam met mense aan die begin én einde van hul lewensreis. Hoe het hierdie nuwe lewe u opnuut laat dink oor God se trou en die kringloop van die lewe?

“Ons ontvang lewe uit God se hand en na Hóm keer dit ook terug – dit is die kringloop. Ek’t gedink: sou klein Daniël 70 jaar oud word, soos die Bybel sê ’n vol lewe lank is, of as ons sterk is 80, dan gaan hy die jaar 2095 of dalk die aanbreek van die 22ste eeu beleef! Hoe sal dit wees as hy sou terugkyk; wat is hul omstandighede dan? My bede is dat hy en sy mense dan, óók sal weet dat God se liefde en trou van generasie na generasie uitstrek, sonder grense (Psalm 118). En ek bid dat ek bevoorreg sal wees om hom tóg iets hiervan te kan vertel, om ’n ent van sý pad, sáám te mag loop …”

Ons weet die bediening vra baie van u tyd – hoe beplan u om ruimte te maak vir u oupa-rol?

“Vir eers, tyd om elke dag te WhatsApp en te hoor hoe dit met hulle drie en met die twee worshonde gaan, en om na die foto’tjies te kyk. Maar ewe skielik klink ’n vergadering of verpligting in die Kaap nie vir my na moeite of werk nie! Intussen kan sy ander oupa – Niël Joubert – hom houtwerk leer; hier hou ek die hoenderboerdery reg!”

Oupa-wees klink na pret – maar dis ook ’n eretitel. Watter nuwe perspektief bring oupa-wees vir u geloof en u roeping – en dalk selfs vir hoe u oor die toekoms van die kerk dink?

“Om te doen wat ek moet, so goed ek kan, elke dag, sodat dit vir klein Daniël en sy mense maklik mag wees om in ’n liefdevolle God te glo, wat naby ons bly en ons innerlik lei. En dat daar vir hom ’n kerk sal wees met mooi musiek, ’n plek om te kan aanbid.”

En laastens – is daar ’n Bybelvers of gedeelte wat in hierdie tyd vir u uitstaan, wat dalk u gebed vir hierdie kleinding opsom?

“Daar’s so baie; eintlik lees mens nou die hele Bybel ook deur ’n “nuwe bril”. Maar miskien moet ek eindig met Martin Luther se gebed vir sý kroos (en in Nederlands): ‘Lieve hemelse Vader, daar Gij mij Uw naam en Uw ambt gegeven hebt, door ook mij vader te maken, verleen mij Uw genade, wijsheid en kracht om hen goed te leiden, met een goed hart en goede wil om Uw te leer volgen. Amen’.”

Soos ’n herder wat oor sy kudde waak, so sal ’n oupa se liefde dalk op ’n stiller, sagter manier gestalte kry – in wieg en wag, in fluistergebede en sagte stories. Mag hierdie nuwe lewe in jul familie ’n teken wees van God se getrouheid van geslag tot geslag, en mag die oupa-hart klop saam met die Vaderhart van God.

 | verskaf: Ds Jan Lubbe en sy kleinseun Jan Daniël Joubert se eerste ontmoeting.