Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kerkwees op vlug

Deur ds Hannes du Plessis, leraar van NG Gemeente Universitas-Wes

OR Tambo lughawe is nie dieselfde as Bram Fischer lughawe nie. Ek was laat vir my vlug. In ’n gejaagd-hygende drafstap kyk ek weer na my horlosie. 14:28. Ek behoort dit te maak, maar genade, nee. By die sekuriteitshekke staan ’n lang ry. Ek oorweeg dit om verby almal te druk en in die verbygaan te skree: Ek is laat! I’m late! Maar ek besluit daarteen. Ek wag maar totdat ek uiteindelik, ongeduldig en angsbevange, by die sekuriteitshek kom. Haal asem, kalmeer. Daar is niks wat jy nou kan doen nie.

By die hek waar ek in die ry val, is daar oponthoud. ’n Sekuriteitsbeampte haal ’n knipmes uit iemand se sak. Nou redeneer hulle daaroor, en ek is laat. You must be kidding me. Dit ook nog. Uiteindelik is ek deur. Ek onthou dat die vrou by die check-in vir my genoem het dat die vliegtuig nie ’n toilet het nie. Waarom sal die vliegtuig nie ’n toilet hê nie? Ewe skielik het ek ’n hengse nood. Maar daar’s nie tyd nie. Ek kyk teësinnig-bang na my horlosie. O magtig. 15:35. Wat doen ek as ek my vlug verpas? Nou moet ek beweeg! 

Ek loer na die “boarding gate” nommer op my kaartjie. E1. Dit kan nie ver wees nie. Net toe ek opkyk, probeer ’n verkoopsman my stop. “Sir, it looks like you need a …” “No I don’t!” snou ek hom toe. In die verbygaan: “Sorry I’m late!” Die eerste “boarding gate” wat ek kry is D5&6. OK, dink ek. Na D kom E. Hou net aan. Stap. Vinnig. Loer so nou en dan weer na die boarding gate nommer. D18&19. Hoe blerrie lank is hierdie ry D-hekke? Later sien ek die einde van die vertrek. Geen E-hek in sig nie. Ek swets onder ’n gejaagde asem. Wat nou? Vra iemand … “Ma’am, where can I find gate E?”  Vrystaat-Engels sukkel onder my moeë asem. “Go back, escalator down. Floor below this one.” Great! Ek kyk nie weer na my horlosie nie, maar die wyser van die horlosie teen die muur neig na 14:40. Stap net, Hannes. Niks wat jy nou kan doen nie. Haal asem. Al die pad terug. 

Aan die heel begin van die D-hekke sien ek die roltrappe. Dit beweeg nie vinnig genoeg vir my nie. Ek hardloop af. Uiteindelik! E-hekke. E1 is sommer by die roltrap. Daar staan die bus. Daar wag die man vir my. Ek is laaste, maar darem het hulle nie sonder my gery nie.

In die bus skep ek asem. Die mense is in ’n opgeruimde bui. Hulle kyk na my asof hulle verstaan. Ek is dankbaar. My aandag skuif; nou moet ek net knyp tot in Bloemfontein. Die bus vat ons verby vele vliegtuie na ‘n uithoek van die lughawe. Daar, verberg deur rye groot passasiersvliegtuie, sien ek die eerste vliegtuig met die naam waarna ons soek: Chemair. Maar daar’s fout. Dis ’n baie klein vliegtuig – met oop vliegtuigskroewe (propellers). My eerste gedagte is: wat gebeur as ’n voël die goed tref? By die smal trappies wat na die kajuit lei, staan ’n man. Dit moet die vlugkelner wees. Maar hy is “overdressed” in iets wat baie soos ’n vlieëner se uniform lyk. Hy groet die mense in Engels. Vir my groet hy hartlik in Afrikaans: “Welkom meneer, geniet die vlug.” Hoe weet hy ek praat Afrikaans? 

Met die trappies op. My eerste blik van die binneruim van die vliegtuig: Dit is kleiner as wat ek verwag het. Een ry klein sitplekke aan elke kant. Ek stap na my sitplek aan die agterkant van die vliegtuigie, net agter die vlerk. Ek wil my bagasie bo my kop in die bagasieruim sit, maar daar is nie soiets nie. Ek knyp my sakkie maar tussen my bene vas en gaan sit. Dis bedompig en warm hier binne. My oog vang die manne wat die bagasie inlaai deur die ruit agter my. Die agterkant van die vliegtuig is toegemaak met veselbord. Dis waar die bagasie ingelaai word. Ek hou die mense dop wat inklim. Is dit net ek wat so bietjie bang-verward voel? Nee. Dit is nie. Almal wat inkom, lyk bekommerd. Daar is hier en daar ’n senuagtige laggie in ongeloof. My oë soek na die oë van die vrou oorkant my. Ons oë ontmoet en sy sê sag: “It’s so small.” Ek antwoord: “And hot.” Ek wou nog sê bedompig ook, maar my Engels laat my in die steek. 

Die “overdressed” vlugkelner kom staan nou in die middel van die twee rye by die kajuit. Hy begin met die bekende sitplekgordel-dril. Ek luister gewoonlik nie meer na hierdie eentonige rympie nie, maar vandag het hy my aandag. Dan breek hy ewe skielik van die gewone weg. “Ladies and gentleman. In the middle of the plane are two emergency exit doors. Can you see them?” Almal knik saam. “There are two seats next to the emergency exit. You sir, and you ma’am, are in those seats. Are you willing to open the doors in case of an emergency?” Stilte. Hy herhaal:  “Are you willing to open the doors in case of an emergency?” Albei knik. “I’m sorry sir, ma’am. I will need a loud yes on that question.” “Yes,” sê-vra hulle gelyk. “Thank you,” sê hy verlig. Dan vertel hy ons verder dat daar nie lugwaardinne is wat ons gaan bedien nie. Sodra ons veilig in die lug is, sal die kajuitligte aangaan en dan kan ons onsself help met eet- en drinkgoed op die skinkborde voor in die vliegtuigruim. Die vlugkelner draai dan om en gaan sit voor die stokke van die vliegtuig. O, dink ek. Dan is hy nie “overdressed” nie. Hy ís die vlieënier. En ons is almal saam in ons maai in. Haal asem, knyp. Nou voel dit my ek wil my broek vuilmaak ook. Maar voor ek te veel my lot kan bedink, trek ons weg. Op die groot vliegbaan. In die lug. Intussen het dit begin reën op die lughawe. Vir my is reën en donderstorms ’n voorbode vir turbulensie. Ek knyp harder. Probeer kalmeer.

Die opstyg gaan darem redelik goed. En na ’n tyd (wat gevoel het soos ’n ewigheid) is ons op ’n goeie hoogte en die ligte in die binneruim gaan aan. 

En dis hier waar die gety begin draai. ’n Lang man in die voorste gestoeltes spring op en gryp die boonste skinkbord met Simba aartappelskyfies en croissants. “Chicken or beef” roep hy terwyl hy laggend in die ry af wals. Dan kom die water en koeldrank. “Sparkling!” roep een passasier opgewonde uit. Ek drink niks – knyp te hard. Mense lag en bedien mekaar. Een vrou vat sommer drie pakkies skyfies en prop dit in haar oorvol rugsak. Daar’s mos niemand wat tel nie, en boonop is dit duidelik dat daar meer as genoeg is. Ons lag. Ons gesels. Ons bedien mekaar oor een weer. ’n Vrees word ’n fees. En toe ons uiteindelik ’n kort rukkie later in Bloemfontein land, voel ons soos familie. Ons groet mekaar hartlik en by die smal trappies uit die vliegtuig staan die vlieënier weer en groet. Lekker man, dink ek. Ek groet hom hartlik en vra of ek nie sommer nou my tas kan vat nie (dis word immers net agter my op ’n Nissan bakkie gelaai). Die vlieënier lag. Nee meneer, jammer. Jy moet dit binne die lughawe kry. Maar moenie bekommer nie. Dit sal gou daar wees.

Ek loop weg met ’n gevoel. Ek probeer dit eien. Dit is dieselfde gevoel wat ek kry ná ’n heilsame erediens. Die gevoel dat ek nie net bedien is nie, maar self ook kon dien. Die gevoel dat ons almal in dieselfde storm is, maar dat ons daar is vir mekaar. Die wete dat dit net die Here is wat ons hierdeur kan vat. Eureka! Besef ek. Dit is kerk. Wat ’n wonderlike heilsame erediens was dit nie!

 | verskaf: Ds Hannes du Plessis, leraar van NG Gemeente Universitas-Wes en skriba van die Moderamen.