Skip to content Skip to footer

Kenmekaar leraars-retreat

Deur ds Johannes Rossouw, leraar van NG Gemeente Marquard

Sentrale Ring te Clarens 24-26 Maart 2025

Ons retreat het afgeskop met heerlike tee/koffie en beskuit. Daarna het ons mekaar beter leer ken. Elkeen het kans gekry om hom-/haarself voor te stel aan die groep. Daarna was die interessantste om te hoor hoe en waar elkeen sy roeping ontvang het. Dis wonderlik om te weet dat God elkeen op ’n unieke wyse roep. Ons hemelse Vader loop ’n unieke pad met elkeen van sy kinders en elkeen se roeping na die bediening is uniek.

Aangesien ons min was, het ons die gades saamgenooi, maar almal kon nie saamkom nie. Dit was ook lekker en het die retreat net meer dinamies gemaak. Andries van Steynsrus se gade Elaine was saam met hom. Sy het gesorg vir heerlike sang en aanbidding saam met die sessies wat Jurgens de Jager gelei het. Jurgens se vrou Isabel was ook saam. Hy kom van Witrivier en hy was 29 jaar in die bediening. Hy was ons fasiliteerder. Henk, Ronel Coertzen se man, was ook saam. Hy het gesorg dat alles vlot verloop met die tegnologie van die rekenaar en dataprojektor (en hy is ’n bobaas braaier!). Dit was ’n voorreg om hulle ook te leer ken en om te sien hoe hulle as leraarspare mekaar aanvul en die Here dien. Adrie se man Evert en my vrou Martie kon nie die retreat bywoon nie.

Die Godstale en geestelike versorging

Jurgens het ons begelei en die toerusting het op twee bene gestaan. Eerstens het ons by hom geleer van die nege (9) Godstale (Spititualiteitstipes) deur Myra Perine. Dit gaan oor verskillende lidmate wat op verskillende maniere met God kommunikeer en hul godsdiens verskillend uitleef. Die vraelys wat jy invul is maklik, die kursus is nie hoogdrawend en ingewikkeld nie, baie insiggewend en leersaam. Wanneer jy jou gemeente wil transformeer van ’n “herder-kudde”-model na ’n “liggaamsmodel” (1 Korintiërs 12) is hierdie ’n baie goeie instrument in jou hand om jou daarmee te help. Of bloot net as jy elke lidmaat se geestelike taal wil ontdek. Ek dink die voordeel is dat jy dit in jou gemeente kan implementeer.

Tweedens: Tydens die oggend- en aand-toewydingsgeleenthede en Wandel in die Woord, het ons stilgestaan by BYBELSE LEIERSKAP. Jetro se NA BO LEIERSKAP leer jou om die leiers van die gemeente te vertrou, hulle toe te rus en om te delegeer sodat hulle ook hul verantwoordelikhede nakom. Nehemia het VISIONERENDE LEIERSKAP. En hy het dit op die regte tyd met almal gedeel sodat elkeen inkoop in sy droom om die muur om Jerusalem te herbou. Ons almal kan by Jesus se DIENENDE LEIERSKAP leer om mekaar se voete te was. Verder is dit ook belangrik om nog steeds in dit alles besig te wees om DISSIPELS TE MAAK. Jesus het net met twaalf dissipels begin en dis nog steeds die groot opdrag wat ek en jy moet uitvoer.

Een sessie het gehandel oor STRES EN SELFSORG. Ons as kollegas bly ver uit mekaar en partykeer kom jy in moeilike en stresvolle situasies. Dis belangrik dat jy selfondersoek moet doen en kyk watter gevaarligte van stres in jou lewe flikker. Elke dominee moet op sy hoede wees om nie uit te brand nie. Jurgens het ons gelei om stresfaktore te identifiseer en daaraan te werk. Hy is ook bereid om jou te help.

Baie dankie aan Adrie Potgieter van Senekal-Noord en Ronel Coertzen van Fouriesburg vir al die reëlings en harde werk. Die kos was ook uit die boonste rakke. Die retreat was opbouend, leersaam en ek ken my kollegas beter en verstaan hulle situasie beter.

Ek hoop dat al ons Ringskollegas die volgende een gaan bywoon.

Vir meer inligting kontak ds Philip McLaren, ringsvoorsitter, by mclarenphillip9@gmail.com

  | verskaf: Deur ds Johannes Rossouw, leraar van NG Gemeente Marquard.