Deur Mariëtte Odendaal
Volgens ds De la Harpe le Roux, uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat se Diens van Barmhartigheid, het Jagersfontein as gemeente met die R300 000 wat van die Noodhulpfonds oorgebly het ná die slikdamramp, besonder innoverend gewoeker tot voordeel van hul héle gemeenskap; nie net dié van die NG Kerk nie.
Regoor Suid-Afrika was die reaksie op dié tragedie aanvanklik oorweldigend. Hulp en bystand het van regoor die land ingestroom — van individue en gemeenskappe tot barmhartigheidsorganisasies.
Alhoewel dit hartroerend was, het dit ook sekere uitdagings meegebring. Daarom het die NG Kerk Vrystaat van meet af aan besluit om hul bystand te kanaliseer deur die NG Gemeente Jagersfontein met die ondersteuning van plaaslike gemeenskapsleiers.
Nadat daar in die onmiddellike behoeftes soos kos, klere en behuising voorsien is, het daar in die opvolgende maande en jare steeds hulp ingestroom. Volgens ds De la Harpe le Roux, uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat se Diens van Barmhartigheid, het Jagersfontein as gemeente met die R300 000 wat van die Noodhulpfonds oorgebly het ná die slikdamramp, besonder innoverend gewoeker tot voordeel van hul héle gemeenskap; nie net dié van die NG Kerk nie.
Aan die voorpunt van die bestuur van hierdie fonds staan Willie Loftus, oud-onderwyser en tans sakeman; iemand wat by verskeie organisasies in Jagersfontein betrokke is omdat hy “graag ’n positiewe verskil in ons omgewing wil maak”.
Ons het meer by hom gaan uitvind.
Willie, volgens ds Le Roux het julle as gemeente die afgelope tyd merkwaardige projekte met behulp van die Noodhulpfonds aangepak. Vertel meer.
“Inderdaad! Een van die projekte waarvoor daar geld geskenk is, was aan die plaaslike nie-regeringsorganisasie Itumeleng Trust, van wie mnr Sipho Muwani die voorsitter is.
“Itumeleng bied ’n veilige ruimte aan sestig minderbevoorregde Suid-Sotho-kinders wat vanaf Maandae tot Vrydae ná skool hul huiswerk daar kan doen terwyl hul ouers nog werk.
“Met behulp van die skenking het Itumeleng tien staanwaaiers vir die klaskamers gekoop waar hierdie kinders gedurende die warm somermaande hul huiswerk in draaglike temperature kan doen; iets wat van groot waarde vir die kinders is.
“Ons het ook besluit om met die geld die ingang van ons dorp te verf met behulp van die kinders uit die armer gedeelte van ons dorp.
“Daarna het die adjunk-hoof van die Hoërskool Boaramelo my versoek om ook hul skool se voorste muur te versier; iets wat toe ook die winkeleienaars geïnspireer het om hul geboue te verf en te versier.
“Ons hele dorp lyk nou sommer baie mooier; ’n dorp om op trots te wees.”
Julle het blykbaar ook brandweertoerusting aangeskaf. Vertel meer.
“Ja, graag. Aangesien daar geen brandweertoerusting in die Xhariep-distrik is nie, kon ons met die geld een vuurspuit (firefighter) en twee blasers (blowers) aan ons dorp beskikbaar stel.
“Ons is ook al persoonlik deur die stasiebevelvoerder van Jagersfontein se Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bedank vir die kere wat hierdie toerusting alreeds van groot hulp was om brande in huise en die veld te kon help blus. Dit strek tot groot voordeel van ons hele gemeenskap.”
Vertel asseblief hoe julle die twee buurte wat die ergste deur die ramp getref is, gehelp het om die lamppale van lig te voorsien.
“Ons het tussen Scottie en Charlesville vyftig straatligte opgerig en gekoppel. Dit werk met 240 volt en gebruik ’n dag- en nagskakelaar om dit te beheer.
“Ons het op daardie area besluit, aangesien dit dié deel van die gemeenskap is wat die swaarste deur die ramp getref is en die maklikste geteiken kan word vir misdaad.
“Dit is tans die buurt wat die helderste verlig is en ’n groot hulp is om misdaad te beveg.”
Wat is die grootste uitdagings waarmee julle dorp tans te kampe het in die algemeen, en ná die ramp in die besonder?
“Die ontvolking van die platteland het ’n groot invloed op ons gemeenskap. Dit veroorsaak onder andere groot verliese aan werksgeleenthede, met die gevolg dat werkloosheid en gevolglike armoede met rasse skrede toeneem.
“Tydens die slikdamramp is baie huise en ’n beduidende gedeelte van ons dorp se infrastruktuur verwoes; iets waarop ons juis sedertdien fokus om ’n verskil te probeer maak met die daarstelling van noodsaaklike dienste soos beligting en brandbestryding.
“Nietemin help al hierdie gemeenskapsprojekte wat ons danksy die Noodhulpfonds kon loods, om ons dorp se mense positief te hou en spoor hulle aan om hul deel te doen waar moontlik.”
Kontak
Kontak ds De la Harpe le Roux by dlh@ngkvs.co.za of Willie Loftus by ofbdelta@gmail.com vir meer inligting.








| verskaf deur: Ds De la Harpe le Roux en Willie Loftus | Jagersfontein-projekte.