Dis ongeveer twee maande later. Twee maande ná daardie verskriklik Sondag 11 September toe die walle van die Jagersfonteinmyn se slikdam meegegee het en ‘n dik grys massa myn-slik deur dele van die dorpie gespoel en verwoesting gesaai het. By die 164 wonings in die buurte Charlesville en Itumeleng is óf weggespoel, óf so beskadig dat hulle waarskynlik nie herstel sal kan word nie. Dit was nie net modderwater nie, maar ‘n dik, taai massa. En daarvan kan ekself getuig. Met my onlangse besoek maak ek die fout om in ‘n oomblik van brein-floute dit op die skynbaar son-gebakte droë slik te waag, net om tot by my knieë weg te sak in die grillerige nat slik, so dik soos mieliepap (of dan nou slappap)! Dis wel twee maande ná die ramp, maar Jagersfontein en haar mense gaan lank die gevolge van daardie Sondagoggend moet hanteer.
Die aanvanklike reaksie regoor Suid-Afrika oor die gebeurtenis was eintlik oorweldigend. Van oral oor het weldoeners, individue en organisasies op Jagersfontein toegesak. Dit was tegelyk wonderlik, maar ook problematies. Daar is in oorvloed uitgedeel en die armstes van die armes, of hulle nou direk deur die ramp geaffekteer is, het dankbaar hierby gebaat. Ongelukkig het dit maar ook die deur oopgemaak vir die kansvatters wat die krisis aangegryp het om hulself te help.
Daarom het die NG Vrystaat Sinodale kantoor van die begin af besluit om deur die NG Gemeente Jagersfontein te werk. Deur die gemeente se konneksie met ‘n plaaslike gemeenskapsleier is lyste van dié wat deur die ramp geaffekteer is, voorsien sodat daar op ‘n ordelike en sistematiese wyse kospakkies en klere vanuit die geboue van die gemeente uitgedeel is.
Tot op hede is 477 groot kospakkies sowel as 521 komberse uitgedeel, en klere voorsien aan 223 gesinne. ‘n Verdere 24 gesinne in die dorp is met kos gehelp. Mieliemeel van by die 2 915,5 kg (in verpakkings wat wissel van 2,5 of 5 kg of 10 kg) is aan skole en kleuterskole gelewer wat dit verder onder die ouer-gemeenskappe versprei het. |
Van diegene wat na die ramp nie weer in hul eie wonings kon bly nie, het 160 by familie op die dorp of plase gaan bly en is 256 deur die myn in ‘n verskeidenheid van gastehuise en blyplekke in Bloemfontein en Fauresmith gehuisves. Maar nou, bykans twee maande na die ramp, het hulle begin terugkeer – en in baie gevalle na niks… Oor die herstel of oorbou van hul huisies is daar skynbaar nog nie eenstemmigheid nie en wag hulle wat voor die ramp dit in elk geval nie breed gehad het nie, hoopvol op beter dae.
En dis hier waar die NG Kerk die plaaslike gemeente, met die ondersteuning en begeleiding van die Sinodale kantoor, die geleentheid om verder tot diens te wees, wil aangryp. Vir die onmiddellike is die verdere verspreiding van kospakkies oorgedra aan die Itumeleng Trust wat onder die wakende oog van gemeenskapsleiers sal voortgaan om kos soos en waar nodig te versprei. Mieliemeel en klere word na die skole en kleuterskole geneem van waar dit van daar af gebruik en versprei word soos nodig.
En dan is daar natuurlik ook die boere en die landbougemeenskap rondom Jagersfontein wat weens die ramp skade gely het. ‘n Skenking van R50 000 aan Jagersfontein gemeente, is dan spesifiek aan die plaaslike Boere-verening oorbetaal om dit onder die geaffekteerde boere te verdeel, met ds Cor Potgieter wat pastorale ondersteuning bied.
Maar daar is nog voorrade wat ingekom het vir noodverligting in Jagersfontein wat op die oomblik in die ou Kestell-saal in Bloemfontein geberg word. Dit, tesame met die donasies vir Jagersfontein wat in die NG Kerk se Hoopfonds inbetaal is, sal in oorleg met die NG Gemeente Jagersfontein gebruik word vir nood- en armoedeverligting in die groter Jagersfontein en Suid-Vrystaat. Dis juis in dié verband waar die konneksies met ander Christelike kerke in Jagersfontein nuwe geleenthede tot groter samewerking oopmaak. En glo my, daar is só baie wat op Jagersfontein kan en gedoen moet word.
Ek staan nou die dag by die woonbuurt Charlesville en kyk na waar daar vóór 11 September 2022 nog huisies gestaan het. Bewoon deur families wat, soos ons, bly en bekommerd was oor allerhande issues. Maar nou, twee maande later, is dit net die fondasies wat die stille getuienis is van wat hier gebeur het. Dit gaan oor mense. God se mense – die goeies en die nie-goeies. Dit gaan oor dié wat het en dié wat nie het nie. En hoe dié wat het langs dié wat nie het nie kan kom staan. En ons mekaar kan herinner, ons dien ‘n God van Hoop wat nooit op ons, die goeies en die nie-goeies, opgee nie.
