Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

HOOP in die WINTER

Deur Mariëtte Odendaal

“Tog bly WinterHoop onwrikbaar in hul toewyding om dié in nood te help. Dit is deur hierdie ondersteuningsaksies vol te hou en selfs in die toekoms verder uit te brei, dat die belangrikheid van gesamentlike aksie en gemeenskapsondersteuning beklemtoon word.”

Ds De la Harpe le Roux
Uitvoerende Amptenaar: Diens van Barmhartigheid
NG Kerk Vrystaat

Suid-Afrika is die afgelope winterseisoen behoorlik met ongure weer van alle kante af bestorm, veral in die Wes-Kaap waar die gebied tot rampgebied verklaar is. In die res van ons land het daar ook snerpende koue, buitengewoon hoë sneeu-neervalle en verspoelings plaasgevind.

Maar dis nie almal wat bevoorreg is om voor warm kaggels te sit, in warm beddegoed te slaap en ’n bord vol kos op jou tafel met elke ete te hê nie. Die winterseisoen beteken vir baie haweloses en mense wat hul huise weens natuurrampe verloor het, ’n tyd van nood en ’n geveg om oorlewing.

Ds De la Harpe le Roux, die NG Kerk Vrystaat se uitvoerende amptenaar van Diens van Barmhartigheid, is onder andere ook verantwoordelik vir projekte en die Hoopfonds. Ons het meer by hom gaan uitvind oor die noodlenigingsrol wat die NG Kerk – nie net in die Vrystaat nie, maar ook in ander streke – in hierdie uitdagende seisoen as vennoot van WinterHoop speel.

De la Harpe, hoe het WinterHoop ontstaan en hoe wil hulle ’n verskil maak?

WinterHoop is ’n nasionale inisiatief van MES, ’n Christelike nie-winsgewende organisasie wat gestig is om volhoubare oplossings vir stedelike armoede te vind.

“Hulle poog om aan die een kant die algemene publiek bewus te maak van ons kwesbaarste gemeenskappe tydens ons koue wintermaande en fokus op die insameling van warm klere, komberse en kos. Hulle streef daarna om hoop te bring aan diegene wat sukkel om vir hulself en hul gesinne te sorg.

“Tweedens poog hulle om kredietwaardige ondersteuningsorganisasies aan die publiek bekend te stel. MES het al meer as sestien jaar gelede hul WinterHoop-inisiatief nasionaal begin bekendmaak deur middel van mediaplatforms soos RSG en Media24.

“WinterHoop word deur vier vennote onderskryf, naamlik MES (Johannesburg, Kempton Park, Gqeberha en Kaapstad), PEN (Pretoria), His Hands (Durban, KZN) en Torings van Hoop (Bloemfontein). Op hierdie manier snoer MES gemeenskappe regoor Suid-Afrika saam om hoop en warmte aan dié wat dit nodig het, te gee.

“Torings van Hoop, ’n nie-winsgewende organisasie, is al die afgelope sestien jaar jaarliks deel van WinterHoop se winternoodverligting. Sedert 2023 het die NG Kerk Vrystaat, vanuit die noue verbintenis met Torings van Hoop, ook hierby begin inskakel.”

WinterHoop het verlede jaar ’n merkwaardige impak op noodleniging gehad; hierdie jaar selfs meer. Vertel ons daarvan.

“Ja, dit was hartverwarmend om te ervaar hoe mense se harte oopgaan vir ons mense in nood. Daar is verlede jaar 2 500 komberse, 286 sakke klere, 1 963 musse, 3 265 beddens vir skuiling, 6 888 maaltye en 3 800 voedselpakkies aan mense in nood verskaf.

“Vanjaar is dit selfs meer en al hoe meer mense, gemeentes en instansies raak hierby betrokke. Vanjaar staar ons weer eens uitdagings soos politieke onsekerheid en ekonomiese onstabiliteit in die gesig, met Suid-Afrika se werkloosheidskoers op ongeveer 34.9%; iets wat ’n geweldige sosio-ekonomiese impak op ons gemeenskappe het.

“Tog bly WinterHoop onwrikbaar in hul toewyding om dié in nood te help. Dit is deur hierdie ondersteuningsaksies vol te hou en selfs in die toekoms verder uit te brei, dat die belangrikheid van gesamentlike aksie en gemeenskapsondersteuning beklemtoon word.”

Watter waarde het WinterHoop tot die Tweetoringkerk toegevoeg (en omgekeerd), veral met betrekking tot die NG Kerk Vrystaat en ook die breër NG Kerk?

“Die laaste twee jaar het baie saamgehang met die sinodale pos waarin ek aangestel is. Ons het by Torings van Hoop besluit om gemeentes in die Vrystaat by hierdie WinterHoop-projek te betrek. Verlede jaar was dit twaalf gemeentes, wat vanjaar tot 41 gegroei het, wat op die een of ander manier deel hiervan wou wees.

“Die bedoeling was dat dit wat ingesamel word, nie alles Bloemfontein toe moet kom nie, maar dat gemeentes die insamelings kan gebruik in hul plaaslike gemeenskappe waar daar nood raakgesien word.

“Al wat WinterHoop verwag, is die statistieke daarvan: wat het ingekom en wat het uitgegaan, met ander woorde wat die impak daarvan was.

“Dis ook belangrik om die stories daaroor te hoor en te vertel; dit inspireer ander en dra by tot bewusmaking van hierdie onontbeerlike inisiatief.

“Een van die jaar se mooiste WinterHoop-stories was in Clarens (lees meer daaroor hier) waar ds Jan Venter ’n geweldige inisiatief aan die gang gesit het en mooi verhale vertel word van hoe dít wat ingekom het, in die plaaslike gemeenskap ten bate van diegene in nood gebruik is.

“Of dit nou baie of min is wat ingekom het, dis mense wat omgegee het; mense in nood is raakgesien.”

Hoe gaan julle te werk om die netwerk breër, tussenkerklik, te maak?

“Dis natuurlik nie net in die Vrystaat waar ons kerke betrek nie; in KwaZulu-Natal het my kollega van His Hands in Durban (hy is ook baie betrokke by die NG Kerk Sinode Natal) met gemeentes van regoor KZN kontak gemaak om deel hiervan te word.

“Daar is ook ’n paar gemeentes in die Wes-Kaap en ’n klompie gemeentes hier en daar in ander dele van Suid-Afrika wat hierby betrokke begin raak het.

“Volgende jaar wil ons nog ander sinodes en ook ander denominasies betrek en die voetspoor nog groter help maak.”

Hoe raak ons deel van WinterHoop?

“Hier is ’n gulde geleentheid om deel van dié nasionale inisiatief te word. As vennote van WinterHoop kan dit ons almal help om aanvullend deel te wees tot ons eie Diens van Barmhartigheid-projekte ten opsigte van noodverligting in ons elkeen se bepaalde konteks.

“Of jy nou ’n individu, organisasie, skool of geloofsgemeenskap is, versprei die woord van WinterHoop in jou gemeenskap, samel benodigdhede in of maak geldelike bydraes.

“Organisasies kan ’n vennootskap met WinterHoop vorm en sodoende verandering bring en ’n verskil in gemeenskappe maak. Jou ondersteuning kan Winterhoop bemagtig om hoop te bring.

“Skole kan donasiegeleenthede reël om klere, komberse, en nie-bederfbare voedsel in te samel, en sodoende aan leerders ’n praktiese geleentheid bied om in behoeftige gemeenskappe betrokke te raak.

Jou betrokkenheid kan hoop en warmte bring aan ons gemeenskappe in nood. Kom ons vat hande om hierdie winter ’n tyd van vrygewigheid en medelye te maak.”

Waar kan mense meer te wete kom en julle kontak?

Kontak gerus vir ds De la Harpe le Roux by dlh@ngkvs.co.za vir meer inligting.

Lees meer hiervan op die webwerf van WinterHoop by https://winterhoop.org

Kyk gerus op ons Facebook-blad by https://www.facebook.com/Winterhoop

“Ek moedig organisasies, lidmate en gemeentes aan om solank gereed te maak en te begin organiseer, want die winter gaan weer in 2025 kom. Ons hoop om dit volgende jaar nóg groter te kan maak sodat nog meer mense in nood daardeur gehelp kan word.”

 | verskaf deur: ds De la Harpe le Roux, Uitvoerende Amptenaar van Diens van Barmhartigheid