Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Savage Breytenbach – Vurige veldbrandbestryder

Deur Mariëtte Odendaal

“Ons lei baie mense op en daar waar ’n veldbrand uitbreek, word gefokus op veiligheid, asook praktiese metodes van brandbestuur, veral oor hoe om veilig te wees tydens ’n veldbrand.”

Johann (Savage) Breytenbach

Johann Breytenbach, vir die meeste mense bekend as Savage, woon al meer as twintig jaar in die Dewetsdorp-distrik en is sedert 2004 betrokke by veldbrandbestryding.

Nadat hy in 2012 versoek is om die Working On Fire-span wat aan die omgewing toegewys is, te bestuur, het hy ook al hoe meer by groter georganiseerde brandbestrydingstrukture betrokke geraak. Hy is tans die algemene bestuurder van Free State Umbrella Fire Protection Association (FSUFPA). 

Ons het by Savage gaan uitvind hoe hy in formele gemeenskapsbrandbestryding begin belangstel het.

“Drie dae nadat die span van hul opleiding af teruggekom het, op 12 Augustus 2012, het daar ’n massiewe brand ontstaan wat so vinnig versprei het dat dit 58 000 hektaar in die distrik binne 24 uur vernietig het. Dit het geweldige skade veroorsaak; die hele gemeenskap was platgeslaan.

“Ek het toe agtergekom dat daar niemand is wat jy in so ’n situasie kon skakel nie. Niemand het voldoende brandbestrydingskennis nie en daar was geen praktiese hulp beskikbaar nie.

“Dit het my laat besluit om agter die kap van dié byl te kom en ek het toe op veldbrandbestryding begin fokus. Ek was alreeds by gemeenskapstrukture betrokke vanuit ’n veiligheidsoogpunt.

“Hierdie insident het my gemotiveer om meer paraat te wees as so iets weer sou gebeur; ons gemeenskap kon nie weer in so ’n toestand onkant betrap word nie. Daar was ’n oorweldigende gebrek aan die nodige hulp, kundigheid en ondersteuning. In 2014 het ek gehelp om ’n praktiese ‘Working on Fire’-opleidingsfasiliteit in die Dewetsdorp-omgewing tot stand te bring wat meer gevorderde praktiese opleiding vir hul personeel aanbied. Ek het ook toe ’n meer formele veldbrand-bestuursopleiding ondergaan en het ook by die SAUSA-opleidingsprogram betrokke geraak wat deur die Amerikaanse Bosboudienste se internasionale programme aangebied word. Ek het in 2016 by FSUFPA begin betrokke raak.”

Johan, verduidelik asseblief waarom en hoe FSUFPA ontstaan het.

“FSUFPA is die sambreel-brandbeskermingsvereniging in die Vrystaat en het ’n statutêre ontstaansreg volgens artikel 4.10 van die Nasionale Veld- en Bosbrandwet. Alhoewel FSUFPA dus ’n nie-regeringsorganisasie of nie-winsgewende organisasie is, het ons statutêre bestaansreg.

“FSUFPA is, soos baie van die ander provinsiale sambreel-brandorganisasies, in 2013 gestig. Ons take en pligte word vervat in ons Memorandum van Inkorporasie (MVI) wat deur die minister van die Departement Bosbou, Visserye en Omgewing (DFFE) erken is, maar ons het ook ’n mandaat van provinsiale rampbestuur. Daarin word spesifieke take en funksies in die provinsie vervat wat ons moet nakom; ons het dus ook ’n verpligting teenoor die provinsiale regering, spesifiek in die rampbestuurskategorie.”

 | Oorgeneem uit IING – FSUFPA – Wildfire CPD Session: Johann (SAVAGE) Breytenbach 

Hoe het dit gebeur dat FSUFPA met die NG Kerk Vrystaat begin saamwerk het?

“Ons is deur ds De la Harpe le Roux gekontak om te vra hoe hulle by ons betrokke kon raak. Ons het toe ’n breedvoerige gesprek gehad en besef dat die kerk kan inval by die fase waarop ons nie fokus nie, naamlik by die humanitêre aspekte wat buite ons mandaat lê. Dit sluit belangrike aksies in soos die uitdeel van noodvoorraad, ensovoorts.

“Ons kan dus mense na die NG Kerk Vrystaat verwys in sulke gevalle, veral waar dit nie spesifiek Landbou-geöriënteerd is nie, aangesien Vrystaat Landbou reeds op die landbou-insidente fokus. Die samewerking met die NG Kerk Vrystaat gee dus aan ons toegang tot ’n breër netwerk en verwysings aan mense en gemeenskappe in humanitêre nood.

“Ons as brandbeskermingsvereniging en FSUFPA het nie baie te doen met die verspreiding van hulp ná brande nie; ons het meer te doen met wat vooraf gedoen moet word om die risiko te bestuur. As dit egter by die herstel of hulpverlening aan geaffekteerde gemeenskappe kom, geld ons mandaat nie, aangesien ons meer fokus op die operasionele struktuur wat te doen het met die taktiese bestuur van veldbrande.

“Sodra die insident gestabiliseer is en die gevaar van brandverspreiding gestuit is, fokus ons op die verslae en om die tegniese rapportering af te handel. Hulpverlening is dus buite ons mandaat, maar dan verskaf ons baie akkurate inligting oor waar dit gebrand het en wat die omvang en impak daarvan is.

“Hierdie akkurate inligting vergemaklik die taak van hulporganisasies, soos die NG Kerk Vrystaat, tydens die herstelfase wat ’n lang, uitgerekte proses is. Ons aandag word dan weer by ander insidente vereis.

“Ons fokus op korttermyn noodsituasies; om insidente so gou moontlik te stabiliseer. Vandaar neem ander instansies, soos die NG Kerk Vrystaat, oor.”

Hoe werk die proses vandat ’n brand ontstaan totdat julle daarvan kennis neem en begin optree; hoe word hulp wat inkom, versprei en gekanaliseer?

Die Vrystaat het ’n baie goeie veldbrandbestuursraamwerk wat voorsiening maak vir rapportering, monitering en eskalasie-protokols en -prosedures. “As daar groot en dramatiese brande is, word die Wildfire Respons Task Team deur die plaaslike of provinsiale rampbestuur geaktiveer tot groter en georganiseerde respons. Dit sluit soms lugsteun ook in. Dit is hoe daar gepoog word om addisionele hulp by gemeenskappe te kry sodat die brande eers net onder beheer kan kom.

“Dit is iets wat ons nogal gereeld doen en dan werk ons nou saam met die plaaslike rampbestuurstrukture in die Vrystaat. Ons was byvoorbeeld getaak om die brand in die  Herzogvillekompleks in 2020 te bestuur, en vanjaar op 25 Augustus die Brandfordkompleks, asook die veldbrande op 30 September.” 

Vertel meer van die veldbrandbestrydingsopleiding wat julle aanbied, Savage.

“Die opleiding wat ons aan gemeenskappe en grondeienaars aanbied, is in 2015 ontwikkel. Ons het besef dat beskikbare opleiding onvoldoende was en dat daar ’n groot behoefte aan gepaste opleiding vir landbougemeenskappe was.

“Ek het gaan aanklop by die Amerikaanse staa, Montana se Department of Natural Resource, Conservation and Development wat met soortgelyke situasies as die Vrystaat te kampe het. Hulle demografie is baie soortgelyk aan dié van die Vrystaat en hulle het ook groot, oop grasvelde. Hulle het ’n ‘Farmer and Rancher Training’-program ontwikkel met die doel om grondeienaars op te lei; iets waarby ons beslis sou kon baat vind.

“Ons het met hulle vergunning hierdie program as raamwerk gebruik en sedert 2016 vir ons situasie aangepas. Dit het intussen tot ’n baie effektiewe program ontwikkel en bestaan uit drie opleidingsfases: ’n basiese veldbrandbestrydingskursus, ’n basiese veldbrandrisikobestuurskursus en dan ’n meer gevorderde kursus vir leierskap wat veldbrand-risikobestuur moet toepas.

“Ons lei baie mense op en daar waar die brand uitbreek, word dan gefokus op veiligheid, asook praktiese metodes van brandbestuur, veral oor hoe om veilig te wees tydens ’n veldbrand.” 

Watter hulp het julle nog nodig van gemeenskappe of instansies?

“Die Responsfonds help ons om so vroeg moontlik in die geaffekteerde areas te kan inbeweeg en die taakspanne te begin aktiveer nog voordat daar eers mandate verkry kan word vir staatsbefondsing. Tot dan help die Responsfonds om dadelik aan noodsaaklike behoeftes aandag te gee en fondse daarvoor beskikbaar te stel.

“Addisionele befondsing van instansies sal veral baie met opleiding help. Die behoefte is veral groot by opkomende en meentboere. Hoe meer mense opgelei kan word, hoe minder insidente het ons. Veldbrande affekteer nie net boere nie, maar ook gemeenskappe. Ons moet dus meer proaktief probeer optree.”

 | Verskaf deur: Johann (Savage) Breytenbach 

Kontakbesonderhede

Vir meer inligting kan jy ’n e-pos stuur aan Savage Breytenbach by genman@fsufpa.co.za.

116 | Maatskaplike NOODLYN