Deur Magdaleen du Toit, Sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk
What you dare not hope for, that is what He gives to you.
– Broer Roger, Taizè-gemeenskap
Hier aan die begin van die nuwe jaar staan ons reeds oorweldig deur soveel dinge wat gelyktydig op ons afstorm en ons lewensenergie tap. Die wêreldomstandighede is alles behalwe inspirerend, en in ons persoonlike lewens ervaar baie van ons dinge wat ons mismoedig maak en ons hoop wegkalwe. In Mystical Hope skryf Cynthia Bourgeault oor die soort hoop waarop ons eintlik nie “kan waag om te hoop nie”, soos Broer Roger hierbo sê. Ek sal stuk-stuk oor die verskillende hoofstukke gesels.

HOOFSTUK 2
LIVING IN THE MERCY
Psalm 103:11
(Poëtiese interpretasie in Bauman: Ancient songs sung anew – The Psalms as Poetry)
“In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.”
Handelinge 17:28 (1953-vertaling)
Hoofstuk 1 eindig met Bourgeault se gedagte dat die reis na hierdie bron, na die lewende water wat Jesus beloof, in werklikheid die groot innerlike reis is waartoe ons as Christene geroep word.
Hoofstuk 2 handel oor die wese van daardie bron: Ons is nie self die bron van daardie mistieke hoop nie. Sy gebruik die term ‘mercy’, God se genade (chesed), ’n kragtige, troue liefde, om die oorvloed van hierdie bron te beskryf. Die bron leef diep in ons en vloei voortdurend in onstuitbare volheid uit na ons, in so ’n mate dat ’n mens kan sê ons leef daarin; dit is die water waarin ons swem soos in ’n eindelose see. Dis soos die ou bekende storietjie van die vissie wat vir sy ma vra: “Mamma, wat is water?”
Genade is die lengte en breedte en hoogte en diepte van dίt wat ons van God weet en ken – en die lig wat hierdie wete vir ons verlig en kenbaar maak. Dit is onmoontlik om God te ken buite-om hierdie dimensie van genade, sê Bourgeault. God se genade is onvoorwaardelik – dis altyd daar, dis onderliggend aan alles. Dit is letterlik die krag wat alles in bestaan hou, die kragveld waarin ons ‘leef en beweeg en is’. Dit is God se diepste wese wat uitwaarts gekeer word om die sigbare, geskape werklikheid in onbreekbare liefde te onderhou.
In die mate waarin ons ons harte kan oopmaak en onsself aan hierdie genade kan toevertrou, in daardie mate word ons ingeweef in die kleed van die Groot Wewer, wat die verstrooide en stukkende dele van ons lewe bymekaar maak en inweef in ’n tapisserie van goddelike liefde. God se genade kom en gaan nie, dis onvoorwaardelik. Dis ’n onfeilbare band van liefde tussen die geskape en ongeskape sfere.
God se genade is in werklikheid God self: ‘God is liefde’ sê die rooi en goue kanselklede van ons kindertyd. Tradisionele teologiese modelle stel God voor as ‘daar bo’ en ons ‘hier onder’, maar namate die taal van die moderne kwantumfisika ons teologiese begrip en metafore binnedring, begin ons begryp hoe God en skepping in werklikheid een is. Bourgeault haal Barbara Brown Taylor aan, wat beskryf hoe haar verstaan van God uitgebrei is deur haar blootstelling aan die ontwikkelings in die fisika:
‘God is the web, the energy, the space, the light, not captured in them, … but revealed in that singular vast net of relationship that animates everything that is.’
Ons sigbare, geskape heelal is nie bloot ’n objek geskep deur ’n ‘wholly other God’, ’n God buite Sy skepping, ten einde Sy liefde te bewys nie. God is self daardie liefde, ten volle uitgedruk in die dimensie van tyd en vorm. Jesus het die Ou-Testamentiese siening van ’n afstandelike God vir ons kom oorbrug: ‘Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My’ (Johannes 14:11). Jesus het dit vir ons kom voor-leef, en ons kan dit vir onsself toeëien.
Ook die moderne sielkunde neem kennis van liefde as die diepste bron. Bourgeault haal die sielkundige en teoloog Gerald May aan wat sê: “Once the various differentiations and feeling-tones have been stripped away from our subjective emotional life, what remains is a raw root energy that is, finally, none other than divine love. It is as if agape were the base metal, irreducible and unadulterated.” Dis die diepste grond van ons bestaan.
Genade en hoop
Wat sê dit vir ons van hoop? Hoe vind ek hoop in die lig van wat hierbo beskryf is? Is daar ’n praktiese manier om onsself te oriënteer ten opsigte van hierdie hoop?
Mistieke hoop, so het hoofstuk 1 verduidelik, is nie hoop wat op ’n gelukkige uitkoms gefokus is, wat teleurgestel of verydel kan word en wat in wanhoop kan omkeer nie. Hierdie hoop het ’n ander karakter: Dis ’n blywende hoop ongeag die omstandighede; dit ontspring uit ons aanraking met daardie diepste grond, die diepste sentrum van ons wese.
Hoe gebeur hierdie aanraking? Toegang tot hierdie sentrum is nie van ons kant af moontlik nie, dit kan slegs van God af na ons vloei.
HOOFSTUK 3
MEDITATION AND HOPE
The notion that God is absent is the fundamental illusion of the human condition.
| Thomas Keating
Ons gewone idee van hoop is gekoppel aan ego-denke, aan ’n uitkoms buite onsself. Dit is die manier waarop die ego funksioneer. Bourgeault praat van ons ‘self-refleksiewe bewussyn’, ons kapasiteit om buite onsself te staan en in die derde persoon na onsself te kyk. Sy beskryf dit as die ‘chemistry of the mind, how our mental apparatus is set up’. Ons is die enigste spesie wat onsself vooruit in die toekoms of terug in die verlede kan projekteer, wat verskillende moontlikhede kan opdroom en dit kan laat realiseer. Ons denke het gelei tot buitengewone evolusionêre sukses, maar dis nie altyd die ideale voertuig op hierdie dieper reis na God en na hoop nie.
In ’n tradisie waar gebed dikwels ’n warreling en ‘ydele herhaling’ van woorde is – ’n alleenspraak waarin ons God as’t ware toespreek – is die kontemplatiewe praktyk van stil word voor God, van wag en luister, die woordelose gebed van die hart, ’n dissipline wat ons met hierdie innerlike dieptepunt in aanraking bring. Dis hier waar God ons tegemoet kom. Dis ’n gebedshouding van leeg raak, van uitasem, van prysgee en laat gaan: van my eie ego, die eise en verwagtings wat ek aan God stel, my persepsies van hoe dinge behoort te wees, my belewenis van skaarsheid, ook my gevoelens van tekort skiet, van onwaardig wees voor God. Dis ’n praktyk van loskom van ego-gesentreerde bewussyn. Ek haal myself uit die prentjie en gee oor aan God se werking in die stilte.
Waar die ‘self-refleksiewe bewussyn’ dink deur te onderskei, te polariseer en verskille op te merk, ‘dink’ die geestelike of kontemplatiewe bewussyn in terme van ontmoeting, integrasie, eenwording, van behoort. In teenstelling met ego-denke, reageer die hart op die magnetiese trekkrag van die dieptepunt van God se liefde. Dis ’n geleidelike proses van die uitskakeling van eksterne, ego-gedrewe lawaai.
Vanuit hierdie oorgee aan God in verwagtinglose stilte ontstaan ’n nuwe manier van ‘weet’, die geleidelike groei van ’n ander, dieper intelligensie. Dit word ’n bewustheid dat jy tuishoort in die hart van God en dat jy nooit daaruit gehaal kan word nie, wat ook al gebeur. Dίt is uiteindelik die bron van mistieke hoop, wat nie aan ’n uitkoms gekoppel is nie, maar spontaan en voortdurend opborrel uit die bron van lewende water wat God gee. Dit is wat die woord metanoia, bekering, omkering, in werklikheid beteken, sê Bourgeault.
‘So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue.’ Jesaja 30:15 (1983-vertaling)