Foto: Canva
Deur Jaco Thom (emeritus), met erkenning aan Bybelkoerant
Gemeentesang was van die begin af ’n integrerende deel van die erediens. Reeds in Oud-Israel was dit so. Koning Dawid het baie moeite gedoen om koorsang en gemeentesang in die erediens uit te bou. Hy het uit die Leviete ’n magtige groep tempelsangers aangestel om die gemeentesang te lei en te begelei (1 Kron 6:31 e.v.). Ons het ’n hele Psalmboek wat in Oud-Israel die liedbundel van die “kerk” was; ook Jesus se liedboek. Leviete soos Asaf en Korag het vir ons wonderlike psalms nagelaat. Dis jammer dat ons al minder psalms sing.
Van die oudste dele van die Nuwe Testament is ook gemeenteliedere, soos byvoorbeeld Fil 2:5-11. Mettertyd het die gemeentesang egter verskraal, en is dit vervang deur die koorsang van ’n voltydse koor. Dit het die aanbidders se aandeel in die erediens grootliks verskraal tot toehoorders. Dis nie hoe dit behoort te wees nie. Gemeentesang is daar sodat die gemeente aktief aan die gesprek met God in die erediens kan deelneem, hetsy deur ’n loflied, ’n aanbiddingslied, ’n skuldbelydenis, ’n geloofsbelydenis, ’n gebed, of ’n antwoord op die preek. Daarom is enige geestelike lied nie noodwendig geskik vir gemeentesang nie. Die liedere wat gesing word, behoort aan die gemeente bekend te wees, sodat hulle kan saamsing. Dit is immers gemeentesang, nie ’n item wat die begeleiersgroep alleen sing nie (hoewel daar daarvoor ook plek is in die erediens). Die begeleiersgroep moet onthou dat hulle presies dit is: ’n Begeleiersgroep, wat die gemeente in haar sang moet lei en begelei. Dit is presies die rol van ’n goeie orrelis: om die gemeente in aanbidding en sang te lei. Dis jammer dat daar so ’n nypende tekort aan goeie orreliste is, want die kerkorrel is by uitnemendheid geskik om gemeentesang te lei en te ondersteun.
Omdat die gemeentesang ’n integrerende deel van die erediens is, behoort die liedere wat gekies word, in te pas by die liturgie (die aanbiddingsorde) van die diens. Dis ’n slegte idee om die orrelis of begeleiersgroep alleen te laat kies wat in die diens gesing gaan word; dit moet minstens in samewerking met die prediker geskied, sodat die sang in diens van die erediens kan staan en sodat alles wat in die erediens gebeur, sinvol saamhang. Aan die ander kant is dit jammer dat predikante dikwels op hulle eie die liedere kies wat gesing gaan word en bloot ’n lysie aan die orrelis deurgee. Die orrelis is immers opgelei om die musiek te hanteer en behoort as kenner betrek te word by die keuse van liedere. Die ideaal is dat die keuse van liedere deur ’n erediensbeplanningsgroep gedoen word.
Martin Luther het gesê hy wat sing, bid twee maal. Dit is wat gemeentesang is: gebed, ’n gesprek met God, waarin die gemeente haar hart voor Hom uitstort, met jubeling voor Hom kan staan, of haar geloof of droefheid kan verwoord in meer as net woorde. Kom, laat ons sing!
| verskaf: Jaco Thom (emeritus).
Kontak
info@bybelkoerant.co.za
084 523 1157