Deur Mariëtte Odendaal
Op hierdie dag dank ons die Here vir pa’s én alle rolmodelle wat hierdie onontbeerlike plek in huishoudings ingeneem het. Wees verseker: jou lewensmaat en kinders soek nie goud en silwer nie – hulle soek pret, respek vir hul ma, onvoorwaardelike liefde en die sekuriteit van ’n pa by wie hulle veilig en geliefd voel.
Op Sondag 15 Junie vier ons Vadersdag – ’n dag wat van baie groter belang is as wat ons ooit sal besef.
In ’n land waar 24% kinders sonder die teenwoordigheid van ’n man grootword en net 35,6% se pa’s in dieselfde huishouding woon*, is Vadersdag ’n teer saak. Baie kinders ken ook nie hul pa’s nie en word dikwels groot sonder ’n man as rolmodel. Van groot waarde is egter die ooms of oupas wat dan dikwels instaan as pa-figure van byvoorbeeld die kinders van ’n weduwee of enkelma.
Alhoewel die rolle van mans en vroue oor die eeue heen beduidend verander het, bly die rol van ’n pa-, oom- of oupafiguur in ’n kind se lewe van groot belang.
As een van die gelukkiges wat met ’n pa in die huis grootgeword het, het sy teenwoordigheid aan my baie emosionele stabiliteit gegee. Pa was ook ons geestelike versorger. Hy was die een wat meestal vir ons saans godsdiens gehou het en ons lief gemaak het vir die Here. En dan, terwyl Ma saans in die kombuis besig was, sou hy by ons donker kamers inkom, die deur toemaak en met sy Rembrandt van Rhijn-sigaretkooltjie patrone in die lug trek. Dan gil ons van plesier, want ons weet: hierna kom die Groot Kielie! As Pa eers sy groot boerevingers in jou sleutelbeen ingehaak het, raak jy lam van die lag. Ja, daar is baie in ons huis gelag. Dit kos niks om van die armste huis ’n paleis van geluk te maak nie.
Pa was ook lief om stories te vertel. Ons het byna élke aand stories gehoor van Jakkals en Wolf, Klein Duimpie en sy taxi, Jangroentjie. Met sy stories het hy ons in ’n wonderwêreld van ongelooflike verbeelding laat instap. Een van Pa se lekkerste stories wat hy een vakansie vir ons (vir die waarheid!) opgedis het, was dat ons daardie volgende skooljaar net in die aand sou skoolgaan. Ons sou ook nie meer met die groot skoolbus ry nie, maar opgepik word deur helikopters. Dit was ’n fantastiese vooruitsig – wat natuurlik aan skerwe gespat het toe ons ou groot, stowwerige skoolbus oudergewoonte op die eerste skooldag in die middel van die plaas kom stilhou het. Ons het egter nooit daaraan gedink om vir hom kwaad te wees oor dié versinsel nie, want ons het sy opregte en liefdevolle hart geken.
Ons pa het ons in Sub A (Graad 1) leer brei, want hy was in ’n plaasskool waar daar net ’n juffrou was wat natuurlik nie houtwerk vir die seuns kon gee nie – almal moes maar toe saam met die meisiekinders leer brei. Maar dis nie waaroor dit gegaan het nie; daar was ’n intimiteit tussen ons pa en ons as sy kinders – ook later met sy kleinkinders – wat van onskatbare waarde was. Jy het geweet dat hy jou onvoorwaardelik liefhet en ook met sy potblou oë sou betig indien nodig; baie erger as ’n pak slae!
Pa het ook nog tot kort voor sy dood my oudste broer op die oesland eenkant geroep en betig omdat hy nie mooi met my jongste broer gepraat het nie – hy moes om verskoning gaan vra, wat hy dadelik gaan doen het. My ouste broer het hierdie voorval self aan my vertel – met trane in sy oë.
Op hierdie dag dank ons die Here vir pa’s én alle rolmodelle wat hierdie onontbeerlike plek in huishoudings ingeneem het. Wees verseker: jou lewensmaat en kinders soek nie goud en silwer nie – hulle soek pret, respek vir hul ma, onvoorwaardelike liefde en die sekuriteit van ’n pa by wie hulle veilig en geliefd voel.
Bronne | * The Citizen (10/02/2025)
