Een van die mees bekende verhale in die wêreld is dié van Alladin. Dit is ‘n baie ou storie wat deel is van die Arabiese verhale, soos ook Sinbad the Sailor. Die verhaal van Alladin is vir die eerste keer in Frans gepubliseer in 1709 deur Antoine Galland na aanleiding van ‘n onbekende Siriese storieverteller se verhale. In een van die verhale kry Alladin ‘n lamp en binne-in die lamp is daar ‘n gees, of ‘n genie. Die woord vir genie in Arabies is jinn.
Jy sou met reg kon vra wat dit met die prys van eiers te doen het. Om jou gedagtes te verfris: Ons het in die vyfde aflewering in hierdie reeks gekyk na die ses artikels van die geloof in Islam. Die eerste artikel is geloof in Allah. Die tweede artikel is geloof in Allah se engele en Jinns (geeste) in diens van Allah. Volgens die Koran is daar ‘n engel op elkeen van jou skouers. Dit is van die woord jinn wat Alladin se genie afgelei word.
Die feit dat die engele en jinns tweede op die lys van die ses artikels van Moslems se geloof voorkom, wys watter belangrike rol hulle in Islam speel. Islam gee ‘n uitgebreide beskrywing van engele[1]. Hulle het vlerke (party meer as ander). Hulle kan in menslike vorm verskyn. Die Arabiese woord malak, beteken boodskapper (dieselfde as die Hebreeuse ekwiwalent). Die belangrikste boodskap, die Koran, is dan ook deur die aartsengel Gabriël (hulle belangrikste engel) aan Mohammed gebring. Mense mag nie engele aanbid nie, hoewel daar gevalle is waar engele voor mense moes buig.
Soos ons gesien het in die aflewering oor “The Satanic Verses”, is vroulike engele vroeër (voor Islam) in Mekka as middelaars tussen Allah en die mense gesien. Hoewel engele en jinns albei geestelike wesens is, word geleer dat engele deur God uit lig geskep is, terwyl jinns uit vuur geskep is. Die woord jinn kom van die Arabiese woord itjinan wat “verborge” of okkulties beteken. Hoewel daar ook goeie jinns is, is hulle meestal boos.
Hoekom is die inligting van hierdie aflewering so belangrik? Dit is omdat Islam se siening van engele en jinns vreeslik baie sê oor hulle siening van Allah. Hoe so? Allah is nie vir Moslem alomteenwoordig in dieselfde sin as wat die Here vir Christene is nie. Die feit dat hulle ook nie glo dat Jesus God is wat mens geword het nie, maak van Allah ‘n baie veraf god. Engele speel dus vir hulle ‘n baie belangrike rol om Allah nader te bring. ‘n Kenner van Islam verduidelik dit as volg: “The ubiquitous presence of angels in Islam is largely explained by the nature of God and revelation in Islam … the Islamic doctrine of God does not present him as omnipresent in the Christian sense, instead overwhelmingly emphasizing his transcendence and majesty, locally expressed in his dwelling in Paradise”.
Dit gee juis vir ons die geleentheid om in gesprek met Moslems die wonderlike nuus te deel dat Jesus Christus God is wat mens geword het en onder ons kom woon het. Dit is tog ook die boodskap van die Kersverhaal.
[1] Sookhdo, P. 2013. Understanding Islamic Theology. Isaac Publishing: McLean VA