Deur Juan du Toit
26 Augustus 2026 | PredikanteSAAMkoms, Goudini
“Allawêreld, wat gaan hier aan? Ek hoor gelag, ek ruik braaivleis … en skielik klink dit minder na dominees en meer na mense wat sommer net lekker mens is.”
Dis omtrent die enigste gedagte wat deur my kop gaan terwyl die reuk van braaivleis en rook my al nader lok. Hoe nader ek kom, hoe harder hoor ek die gelag en gesels. Dit voel minder soos ’n formele byeenkoms en meer soos ’n klomp vriende wat om ’n tafel saamkuier – iets verfrissends in die hand en klassieke rockmusiek wat iewers in die agtergrond speel.
“Don’t stop believin’. Hold on to that feelin’.”
By die vuur staan ’n man met ’n leervoorskoot. Ek groet hom. Hy draai om en groet my terug asof ons mekaar al jare ken.
Ek verduidelik dat ek ongelukkig nie vir die Braaistoep-sessie bespreek het nie, maar dat die atmosfeer eenvoudig te aanloklik was om verby te stap.
“Hier is oorgenoeg vir almal wat bespreek het – en vir nog mense ook. Net soos in die NG Kerk: almal is welkom, en hier is genoeg vir elkeen.”
Ek kan dadelik sien: dié man hou van braai, van mense en van lekker saamkuier.
Die man agter die vuur is Jan Grobbelaar, wat in 2023 as een van die onthoubraaiers aan die kook- en braaireeks Kokkedoor Vuur & Vlam deelgeneem het. Met sy leervoorskoot om die lyf en die vuur voor hom lyk dit asof hy presies is waar hy hoort.
Ek loop ’n paar bekende gesigte raak en word nader gewink om by hulle tafel te kom sit. Soos ’n mens seker kon verwag, draai die gesprek aanvanklik kerk toe. Maar dit bly nie lank daar nie. Ons kuier. Ons lag. Ons leer mekaar op ’n ander manier ken – ’n bietjie verder weg van vergaderings, programme en die gewone werksgesprekke.
Intussen het Jan die vleis opgesny en op elke tafel verskyn daar stukkies vleis, ’n worsie en iets wat verdag baie soos ’n pampoenkoekie lyk.
Ons proe.
Maar, griet … hierdie “rump” is nou sag! En daardie fetaworsie het ’n lekker byt!
Toe begin Ds Jan met ons gesels.
“Dames en here, wat sal julle sê eet julle nou?”
Ek weet sommer dadelik: wag ’n bietjie … hier is ’n vangplek.
Want ’n mens vra mos nie só ’n vraag as dit bloot rump en ’n gewone fetaworsie is nie.
“Sal julle kan raai dat dit volstruis is wat julle eet en nie bees nie? Die worsie is vlakvark met feta en jalapeño. En die koekie? Dis botterskorsie wat op ’n oop vuur gebraai is totdat dit basies geskroei is. Net die binneste is toe uitgekrap om die koekie te maak.”
Wel.
Dit was die eerste keer dat ek volstruis geëet het – en ek kan met redelike sekerheid sê dat botterskorsie nog nooit vir my só lekker geproe het nie.
Ds Jan vertel verder dat braai en kosmaak nog altyd een van sy groot passies was. Hy eksperimenteer graag met kos, met geure en met nuwe idees. Kosmaak is lekker. Kos eet is lekker. En, soos hy dit stel, dis eintlik ’n wen-wen-situasie – want ’n mens móét in elk geval eet om te oorleef!
Toe verduidelik hy die eintlike doel van die sessie:
“Vandag gaan daar nie oor iets ingewikkeld gepraat word nie. Ons wil net met mekaar gesels, ontspan en dalk ’n braairesep of twee met mekaar deel.”
En dié woorde vang my effens onkant.
Want skielik besef ek: hierdie is waarskynlik die eerste sessie waar niemand probeer om ’n kerkprobleem op te los, ’n strategie te formuleer of oor die uitdagings van die bediening te praat nie.
Die musiek speel steeds.
Mense lag.
Iemand vertel ’n storie.
By ons tafel draai die gesprek na kinders en gesinne en die gewone dinge van die lewe.
En iewers tussen die rook van die vuur, die vreemde maar heerlike vleis, die rockmusiek en die gelag tref ’n eenvoudige gedagte my:
Dominees is ook maar net mense.
Voor hulle predikante is, is hulle mense.
Mense wat lag en gesels. Mense met kinders en gesinne. Mense met stokperdjies en belangstellings. Mense wat moeg word. Mense wat stories vertel, grappies maak, lekker kos waardeer en soms net nodig het om om ’n vuur te sit sonder dat iemand iets van hulle verwag.
Ons sien so maklik die toga, die kansel, die vergadering, die dominee wat altyd beskikbaar moet wees, altyd moet weet wat om te sê, altyd moet luister en altyd moet help.
Maar agter die titel is daar ’n mens.
En dalk was dit juis die mooi van hierdie Braaistoep: vir ’n paar uur hoef niemand iets te bewys, reg te maak of op te los nie.
Ons kon net saam wees.
Saam eet.
Saam lag.
Saam luister hoe die musiek speel.
En dalk, vir ’n oomblik, weer onthou:
Ons is ook mens.
Bly ingeskakel vir die nuutste nuus, stories en gebeurtenisse vanuit die PredikanteSAAMkoms 2026.
| Foto’s is deur Juan du Toit, verskaf.

