Foto: Canva
Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis
Die gesprek met Moslems oor die twee nature van Christus – dat Hy waarlik God en waarlik mens is – is ’n ingewikkelde, maar ook heerlike gesprek. Ek het nou onlangs weer die geleentheid gehad om met ’n Moslem-molana (teoloog) oor hierdie wonderlike waarheid te gesels. Ek was aangenaam verras om te hoor dat hy uitgebreide kennis het oor die besluite van die Konsilie van Chalcedon, wat in die jaar 451 nCvergader het. Dit was die Konsilie waar die kerk ’n formulering gekoppel het aan dit wat hulle op grond van die Bybel glo rakende Christus se menslike en goddelike natuur.
Die gesprek was eerder ’n dialoog as ’n debat, wat ’n aangename ervaring was. ’n Beswaar wat hy geopper het, was dat God (Allah in sy geval) nie deel kan word van die skepping (byvoorbeeld om mens te word), sonder om afhanklik te word en per definisie nie meer god te kan wees nie.
Ek kon hom wys op ’n gemeenskaplike verhaal wat Moslems en Christene deel, naamlik die verhaal wat ons as die roepingsverhaal van Moses ken, soos opgeteken in Eksodus 3. Ons is goed bekend met die verhaal van hoe Moses ’n bos sien brand het wat nie uitbrand nie en hoe hy later gaan ondersoek instel het. Die Here sê dan vir hom om sy skoene uit te trek, omdat die grond waarop hy staan, heilige grond is. Op grond van hierdie verhaal leer Moslems dat jy jou skoene moet uittrek wanneer jy in ’n moskee ingaan.
In die Koran is daar dan ook ’n verhaal oor hierdie gebeurtenis. In Sura 27:7-9 lees ons: “Remember when Moses said to his family, “I have spotted a fire. I will either bring you some directions from there, or a burning torch so you may warm yourselves.” But when he came to it, he was called by Allah, “Blessed is the one at the fire, and whoever is around it! Glory be to Allah, the Lord of all worlds. O Moses! It is truly I. I am Allah—the Almighty, All-Wise”.
Ek kon die molana weer wys op die ooglopende, naamlik dat Moses die een was wat buite die vuur was en dat Allah die een binne die vuur was, waarvan die teks praat. Ek kon hom toe ook daarop wys dat selfs die Koran daaroor verslag gee daaroor dat Allah, volgens hierdie verhaal, wél deel geword het van sy skepping, al was dit dan in die vorm van ’n brandende bos.
Die implikasie daarvan is dat niks God sou keer om deel te word van Sy skepping deur te kies om die vorm van ’n mens aan te neem in Sy Seun Jesus Christus nie.
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel ook oor die gesprek rakende die twee nature van Christus.