Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die hele Skrif

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Dit verstom my dat ’n mens dikwels in kerklike geselskap (selfs op sinodale en algemeen-sinodale vlak), wanneer daar oor sake uit die Bybel ‘n gesprek gevoer en gedebatteer word, die opmerking hoor: “Dit kan nie belangrik wees nie, want Jesus het niks daaroor gesê nie.”  Daar kan oor ’n bepaalde saak heelwat uitsprake in die Bybel wees, maar as Jesus nie pertinent iets daaroor gesê het nie, dan dra dit vir sommige mense geen gewig nie. Verstommend!

’n Mens sou baie kon sê oor so ’n siening van die Skrif, maar ten minste sou ’n mens moet sê dat dit ’n totaal verkeerde verstaan van die inspirasie van die Skrif is. 2 Timoteus 3:16,17 is waarskynlik die bekendste teks insake die goddelike inspirasie van die Skrif, as ons daar lees: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Die eerste woorde van hierdie aanhaling is veral ter sake, naamlik: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer …”. (Eie kursief). Daar is nie ’n hiërargie in die Bybel wat die skrywers betref nie, juis omdat dit in die geheel die Woord van God is. Petrus se woorde is nie belangriker as Moses s’n, of Johannes s’n belangriker as Paulus s’n nie. So ook is die direkte woorde van die Here Jesus nie belangriker of minder belangrik as enige ander persoon s’n nie. Die hele Skrif is deur God geïnspireer. Dit is Sy Woord. Die skrywer of aangehaalde spreker bepaal nie die waarde daarvan nie.

Dit is so dat sommige gedeeltes nader aan die sentrum van die Skrif staan, en ander eerder op die periferie is. Die kruisigingsverhaal is byvoorbeeld in die sentrum van die boodskap van die Bybel, terwyl ’n verwysing in Numeri na hoeveel esels en eselinne ’n persoon gehad het, meer op die periferie lê.

Die logiese vraag is: Wat het hierdie verduideliking met ons gesprekke met Moslems te doen? Die feit van die saak is dat Moslems ook so ’n “skrifbeskouing” het. Hulle sal bykans in elke gesprek vra na Jesus se eie woorde, want dit is vir hulle die enigste toetssteen. Vrae soos “Het Jesus sélf gesê Hy is God?” sal in bykans elke gesprek opduik. Dit is dus baie belangrik om vir hulle te verduidelik dat Christene die hele Bybel as God se Woord ag, juis op grond van wat die Bybel self sê.

Ons het al in ’n vorige artikel gesien dat die Here Jesus onder andere in Johannes 8, deur die woorde “Ek is wat Ek is” op Homself van toepassing te maak, self bevestig dat Hy God is. Moslems (en Christene) wat nie die saak van die inspirasie van die Skrif verstaan nie, moet egter daarop gewys word dat dit nie net gaan oor wat die Here Jesus verbatim gesê het nie, maar ook wat die Skrif in sy geheel oor enige saak, ook oor die godheid van Jesus, verklaar. 1 Johannes 5:20 verklaar byvoorbeeld: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hier is nog ’n artikel in die reeks oor apologetiese gesprekke met Islam.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za