Deur Mariëtte Odendaal
“Lidmate moet weet dat enige trauma ’n begin en ’n einde het – dat dit hulle baie sal baat om deur ’n proses begelei te word om die trauma te verwerk en dat daar beslis hóóp is deur middel van die regte keuses en jou geloof in God.”
Dr Ben Joubert
Pastorale traumabegeleier
As kinders het ons dikwels die Hallelujaliedjie “As die lewenstorme woedend om jou slaan en jy, gans ontmoedig, vrees om te vergaan …” gesing. As predikant, en natuurlik ook in ander beroepe soos in die onderwys, moet jy dikwels mense begelei wat deur ’n traumatiese gebeurtenis getref is en worstel met die gevolge daarvan.
Hoe hanteer jy byvoorbeeld ’n paartjie wat ’n kind deur die dood verloor het, of wat deur ’n egskeiding gaan? Hoe help jy ’n jongmens om weer op te staan en aan te gaan met die lewe ná ’n verwoestende ervaring? Om meer daaroor uit te vind het ons met dr Ben Joubert, pastorale traumabegeleier, gesels. Hy het op 16 Februarie ’n aanbieding oor hierdie onderwerp gelewer.
Ben, vertel eers vir ons iets van jouself; waar jy gebore is, grootgeword het, opgelei is en waar jy al oral predikant was.
“Ek is in 1959 in Welkom gebore waar ek grootgeword en my hoërskoolloopbaan in 1976 aan die Welkom-Gimnasium Sekondêre Skool voltooi het. Daarna het ek my twee jaar weermagdiensplig in Bloemfontein by 1 SA Infanterie-bataljon gedoen, waarna ek vir ’n jaar op die myne gewerk het.
“Ek voltooi my BTh-studies in 1986 aan die Universiteit van die Vrystaat en neem ’n beroep aan na die NG Gemeente Riebeeckstad in 1987, waar ek tot my aftrede in 2020 gedien het.
“Aangesien terapeutiese hulpverlening my nog altyd na aan die hart gelê het, voltooi ek my MTh in Pastorale Terapie* en daarna my PhD in Pastorale Terapie. My doktorsgraad het gehandel oor die opleiding van predikante in pastorale terapie en ek moes twee groepe van ses predikante deur die MTh in Pastorale Terapie doseer vir dié doel. Die MTh het egter baie belangstelling gelok en 72 predikante later het ek halt geroep om my doktorsgraad in 1999 te voltooi.”
Hoe het dit gebeur dat jy ‘n spreekkamer in traumahantering begin bedryf het?
“In 1993 het prof Dirk Kotzé, onder wie ek studeer het, in samewerking met die Sinode Vrystaat verskeie pastorale spreekkamers deur ons provinsie gevestig.
“Ek het die een in Bothaville elke tweede Vrydag vanaf 1993 tot met my aftrede in 2020 bedryf. Die spreekkamers was nie uitsluitlik vir traumahantering gebruik nie, maar ook vir enige ander uitdaging of probleem. Ek moes dus deur al die jare baie trauma-prosesse met mense deurwerk.
“Dit was reg vanaf die begin vir my ’n passie om mense met probleme en dan ook trauma- en rousmartbegeleiding te help. Vir sommige begeleiers is dit uitputtend, maar vir my het dit energie gegee. Ek was vir 27 jaar in Bothaville hiermee besig.
“Ek het natuurlik ook gemeentelede in Riebeeckstad gehelp, sowel as mense van buite die gemeente – gewoonlik op my afdag wat op ’n Vrydag was.
“Tans is ek bevoorreg om vir die afgelope drie jaar die Moedergemeente in Mosselbaai elke Woensdag in ’n pastorale spreekkamer te bedien.”
Op 16 Februarie het jy ’n ‘Praktiese Pastoraat vir Predikante in die Praktyk’-opleiding aangebied. Op watter aspekte het jy toe ten opsigte van traumahantering gefokus?
“Ek het eerstens daarop gefokus om die hulpverlener se eie afhanklikheid van God en sy geloof in die feit dat God die uiteindelike Geneesheer is, te beklemtoon. Dit is wat dit vir my moontlik maak om in hulpverlening te werk – die feit dat ék nie mense hoef te herstel nie; ek help hulle op die pad, maar God doen die herstelwerk.
“Die hulpverlener is dus báie afhanklik van God vir wysheid en insig en hoe om die opleiding wat deurloop is, effektief te gebruik in die wete dat God dit gebruik in ’n voortdurende proses om heling te bewerkstellig.
“Tweedens was dit vir my nodig om die posisie van die persoon aan wie hulp verleen word, duidelik uit te spel sodat hulpverleners daarvan bewus is: dat elkeen – ongeag die status of skolingsvlak van die hulpbehoewende – na die beeld van God geskape is en met respek en met die beste wat jy het, bedien moet word.
“Daarna wou ek graag wys op die gevaar van die vergeesteliking van ’n probleem met hulpverlening. Hulpverleners moet daarteen waak om nie te vinnig ’n teksversie uit te ruk en geykte uitdrukkings te gebruik nie, soos byvoorbeeld ‘die Here het ’n doel met alles’ of ‘die Here sal alles ten goede laat meewerk’.
“Dit is belangrik om deur die trauma te werk en die hulpbehoewende toe te laat om hulle verhaal te vertel en dié dinge wat vir hulle moeilik is deeglik te bespreek. Dit moet in ’n nuwe lig gestel word – hulle moet begelei word om weg te beweeg van die negatiewe aspekte deur dit met ’n positiewe perspektief te vervang wat vierkantig vasgemaak is aan hulle geloof in God.
“Die res van die dag is gewy aan hulpmiddels om hulpverleners te help om trauma (van byvoorbeeld ’n egskeiding) te voorkom. Hier is aandag gegee aan die moeisame pad van vergifnis en om ’n spesifieke gesprekshulpmiddel te gee wat deur die hulpverlener gebruik kan word om iemand deur so ’n proses te begelei.
“Die voorlaaste hulpmiddel was om ’n metode te bied wat help om deur ’n moeilike besluitnemingsproses te werk. Mense veroorsaak dikwels vir hulleself trauma omdat hulle nie in staat is om moeilike besluite sinvol te bedink, deur te werk en die beste opsie vir die uitdaging se oplossing te kies nie.
“Dr Edward de Bono se Six Thinking Hats is gebruik om daarmee te help. Dit is basies ’n proses wat deur middel van spesifieke kleure (blou, wit, rooi, groen, geel en swart) struktuur aan die proses gee en spesifieke reëls daarstel wat dit vir mense moontlik maak om die beste oplossing suksesvol vir ’n spesifieke uitdaging te genereer.
“In die laaste plek het ek ’n hulpmiddel gebied wat neerkom op drie vraelyste wat mense help om sinvolle kommunikasievaardighede te kweek. Die hulpverlener gebruik die vraelyste om mense te help om BOODSKAPPE suksesvol oor te dra, om HERINNERINGE goed te gebruik in die herstelproses en om BETEKENIS in die lewe raak te sien of suksesvol te skep.”
Watter toerustingsvaardighede het ‘n hulpverlener nodig om trauma te begryp?
“Meer intensiewe opleiding is natuurlik nodig om hulpverleners beter toe te rus vir hul taak in traumahantering, maar ’n eendag-kursus bied beslis aan hulle hulpmiddels om trauma beter te begryp en hulleself goed in die hulpbehoewende se skoene te plaas.
“Empatie, begrip, respek, die vermoë om hoop te skep deur die geloof in God en kennis is belangrike toerustingsvaardighede.
“Die hele kwessie rondom afhanklikheid van God en die feit dat hulpverleners instrumente in die hand van God is, is wat my aanbetref wesenlik vir elke hulpverlener. Hulpverleners is nóóit volleerd wat trauma betref nie en kennis en vaardighede ontwikkel gedurig. Daarom dink ek dit is noodsaaklik om jouself as hulpverlener gedurig op te skerp met meer resente inligting sodat ons kan aanhou groei.”
Wat het ’n predikant nodig om die verwerking van trauma te begelei?
“Predikante moet hulleself voortdurend opskerp en hulle kennis in afhanklikheid van God en met die leiding van die Heilige Gees gebruik om hulp te verleen. Hierdie kennis moet hulle met liefde, deernis, geduld en ’n gewilligheid om vas te byt, toepas; om vir die hulpbehoewende hóóp te help skep vir die toekoms sodat die trauma jou nie definieer nie, maar jou identiteit in Christus.
“Dit is belangrik dat die predikant moet besef dat God se ondersteunende krag en troos deur die Gees ’n werklikheid is wat van harte geglo moet word en ook so aan die lidmaat oorgedra moet word.”
Wat het lidmate nodig om te weet as hulle deur trauma gaan en hulp nodig het?
“Lidmate moet weet dat enige trauma ’n begin en ’n einde het – dat dit hulle baie sal baat om deur ’n proses begelei te word om die trauma te verwerk en dat daar beslis hóóp is deur middel van die regte keuses en jou geloof in God.”
Vir meer inligting kan dr Ben Joubert by benjoubert7@gmail.com gekontak word.
*Dr Ben Joubert het daardie jaar die Dekaansmedalje vir die beste M-graad ontvang.
| Dr Ben Joubert

