Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Besoekers uit die VSA
Ons het ’n besonder geseënde besoek gehad van die TVCC-gemeente uit Tennessee in die VSA. Die DEGNOS- en NG Tsumkwe-span het bestaan uit Alex, Frankie, Kamashe en ds Leviet. Saam het ons die Tsumkwe-gemeente se buitepunte een ná die ander besoek.
Ons het by sowat 12 Habitatte uitgekom waar die Evangelie-boodskap onder bome aan gewillige aanhoorders verkondig is. Daar was vele besondere oomblikke waar die besoekers en die aanhoorders diep getref is deur die boodskap van Goeie Nuus.
Ons het ook ’n wonderlike besoek afgelê in die Wildevy-gemeente op Oerwoud en Tsintsabis, en in die Luhebu-Noord-gemeente is ons verras deur ’n groep kinders wat spontaan in die kerk bymekaar gekom het en ons bedien het met pragtige sang. Die vrug op die werk van ds Amon, ds Isak, Mishe, Visser en al die ander getroue medewerkers onder die jeug was wonderlik om te beleef.
Films trek die jeug
Op Tsumkwe is daar vir vier aande ’n film gewys – eers die Jesus-film en daarna die opvolgreeks genaamd “Walking with Jesus”. Elke aand was die kerk stampvol met kinders. Ons het geen toegang tot die skole in Mangetti Duin en Tsumkwe nie en ons het maniere nodig om die kinders na die kerk te trek!
Ek begin daarvan droom dat ons vir die twee gemeentes – Tsumkwe en Mangetti Duin – elkeen elektroniese visuele hulpmiddels (TV en Internet-toegang) kan voorsien. Soos een van die wyse ouderlinge op Tsumkwe gesê het: “Dit trek die kinders en die kinders trek die grootmense.”
Bid asseblief saam met ons vir wysheid aangaande hierdie saak en dat die Here vir ons die pad vorentoe sal wys.
Spesiale gebedsversoeke
- Ou Parata, ons getroue medewerker en planter van die Omatako-gemeente, is baie siek.
- Die ontwikkeling van ’n Rentmeesterskap-opleidingsprogram om uit te rol na alle bedieningsareas.
- Maria Gevers, die weduwee van ds Josef Gevers, sukkel met ’n seer rug en knie wat haar beweeglikheid belemmer en dit moeilik maak om in haar groentetuin te werk.
- Wysheid en leiding vir die beplanning van die opleidingsbesoek van ds Lucas van Vuuren.
- Die weduwees van oupa Toti Tsam en oupa Atrabe Tsam kry finansieel baie swaar. Hierdie twee manne was die eerste bekeerlinge onder die Hai//om-volk, 50 jaar gelede. Daar is geen mans meer oor by daardie huis nie en dit is net die twee oumas met hul drie dogters wat nou saamwoon.
Sondag preek ek by Oerwoud en Tsintsabis – en ek vra dat die Here ook daar vooruit sal gaan en dat my broer Karel Ganseb gesond genoeg sal wees om te tolk. Hy tolk in elk geval reg wat ek verkeerd preek.
DEGNOS-groete
| Verskaf deur: Andries Gous.

