Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Daar is geen “oorspronklike” Koran nie

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

In gesprekke met Moslems, veral wanneer hulle sou wou aandui dat die Bybel gekorrupteer is, sal hulle opmerk dat die oorspronklike Koran steeds bestaan – trouens, dat elke Moslem ‘n kopie daarvan besit. Daarteenoor word vir Christene gevra of daar ‘n kopie van die oorspronklike Bybel is en watter van die honderde verskillende vertalings van die Bybel dan die oorspronklike Bybel is.

Die Koran, Sura 15:9 lui: “Ons het, sonder twyfel, die Boodskap gestuur; en ons sal dit beslis bewaar teen korrupsie.” Moslem-teoloë interpreteer hierdie teks as ‘n goddelike belofte dat die teks van die Koran tot in die fynste besonderhede bewaar sal word. Gevolglik hoor mens voortdurend die aanspraak deur Moslems dat die Koran onveranderd is sedert dit aan Mohammed geopenbaar is.

Moslems maak dus aanspraak op die bestaan van ‘n “oorspronklike” Koran, hoewel hulle bewus is van die feit dat een van die eerste kaliefs, Uthman (644-656), ‘n “amptelike” kopie van die Koran deur ‘n kommissie van drie laat saamstel het en al die ander kopieë laat verbrand het[1]. Hoewel dit ‘n amptelike kopie was, was dit nooit ‘n oorspronklike weergawe nie. Moslems sou dus hoogstens daarop kon aanspraak maak dat hulle Uthman se oorspronklike verwerking van die Koran het. En selfs hierdie aanspraak is hoogs aanvegbaar.

In die teologiese wêreld van Moslems beoefen hulle wel historiese kritiek, maar nie tekskritiek nie. Dit beteken dat hulle wel die teks van die Koran bestudeer teen die politieke, geskiedkundige en sosiale agtergrond waarbinne dit geskryf en saamgestel is. Om die teks en samestelling van die teks as sodanig te bevraagteken of kritiseer, word as afvalligheid beskou. Studies in hierdie veld is wel deur Westerse teoloë onderneem[2].

Die oudste beskikbare manuskripte van die Koran dateer volgens koolstof-14-toetse uit ‘n tydperk van 750–850 nC. Daar is dus ten minste ‘n gaping van 100 tot 200 jaar sedert die tyd van Uthman en hierdie manuskripte. Hierdie tekste is afkomstig van 14 000 fragmente van die Koran wat in die 1970’s in die Groot Moskee van Sana’a gevind is[3].

Die derde hindernis vir Moslems om die bestaan van die “oorspronklike Koran” te bewys (naas die feit dat Uthman al die weergawes van sy dag, behalwe een, verbrand het en vir die feit dat koolstof-14-toetse aandui dat die oudste bronne dateer uit 200 jaar ná Mohammad se afsterwe) is die aanspraak deur Westerse Islam-kundiges dat daar ten minste 29 verskillende weergawes van die Koran bestaan. Moslem-teoloë verwerp dit egter deur te argumenteer dat dit bloot verskillende dialekte is – en daar is net tien, nie 29 nie.

Op die Blog “Explore Islam”[4] skryf ‘n Islam-teoloog: “Daar is net een Koran, wat die geopenbaarde woord van God is, bewaar in sy oorspronklike vorm. Daar is egter verskillende voordragte (Qirā’āt) van die Koran, wat verwys na verskeie metodes van uitspraak en voordrag. Hierdie metodes is ontwikkel om verskillende dialekte van Arabies te akkommodeer, wat linguistiese en fonetiese diversiteit weerspieël sonder om die betekenis van die teks te verander.

Die Koran is geopenbaar in sewe Ahruf (dialekte of modusse), wat verskillende Arabiese stamme in staat gestel het om die Koran in hul onderskeie dialekte op te sê. Met verloop van tyd is hierdie voordragte bewaar en deur gevestigde oordragkettings oorgedra, wat gelei het tot tien erkende Qirā’āt”.

Selfs indien hierdie verduideliking korrek is, bly die vraag steeds: “Watter een van hierdie tien Qira’at verteenwoordig die oorspronklike Koran? Deur te argumenteer (soos in die bostaande paragraaf) dat al tien verskillende weergawes die oorspronklike Koran is, bevestig weer eens dat daar geen oorspronklike Koran bestaan nie.

[1] Oosthuizen, G.C. 1977. Godsdienste van die Wêreld. N.G. Kerk Boekhandel: Pretoria

[2] Swarts, M.L. 1981. Studies on Islam. New York: Oxford University Press

[3] Lester, T. Januarie 1999. What is the Quran? In: The Atlantic

[4] Explore Islam https://explore-islam.com/are-there-different-versions-of-quran/ soos besoek op 13 Februarie 2023

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Die agtergrond van hierdie artikel is dat Moslems dikwels argumenteer dat die Bybel nie gesaghebbend kan wees nie, aangesien daar nie een “oorspronklike” Bybel is nie, terwyl die Koran vandag steeds in dieselfde oorspronklike vorm bestaan as in die tyd van Mohammad. Hierdie artikel ontmasker die bestaan van so ‘n “oorspronklike” Koran as ’n mite.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za