Deur Mariëtte Odendaal
“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en dat beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen, wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”
Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis
Die Reformed Family Forum (RFF), bestaande uit die algemene sekretarisse van al ons NG Kerkfamilies in Suid-Afrika en ons Gereformeerde susterskerke in Sub-Sahara- Afrika, vergader een maal per jaar.
Watter rol speel die ekonomiese en sosiale realiteite wêreldwyd?
Alhoewel daar gesprek gevoer word oor dekolonialisering (die gesprek oor die effek van die koloniale verlede op Afrika), is daar op ons kontinent ook ander hedendaagse kolonialiserende magte aan die werk. Dit gaan dus nie meer net soseer oor die Westerse kolonialisering wat plaasgevind het nie, maar ook oor die neo-kolonialisering as deel van ons African contextual realities wat in die huidige tyd afspeel. Hier kan ons byvoorbeeld China noem wat ’n groot speler in die Afrika-ekonomieë is. Die Chinese pas nie altyd etiese praktyke toe nie; ons lande word al dieper en dieper in die skuld gedompel en ons natuurlike hulpbronne word in baie gevalle geplunder. Dus word die kontinent uitgebuit onder die dekmantel van ontwikkeling en dra dit by tot groeiende armoede.
Tesame hiermee sit ons met ’n baie sterk invloed van ’n Amerikaanse teologie van ‘wealth, health, happiness and prosperity’ wat inkom as ’n ‘teenvoeter van Afrika-armoede’. Hierdie model word dan voorgehou as ‘God se seën’ en ‘verseker finansiële vooruitgang’ vir die leier en sy kerk as dit gevolg word. So, dit beteken dat daar op ’n manier ’n verryking van kerkleiers plaasvind ten koste van die arm lidmate wat bydraes lewer in die hoop dat God hulle sal help om uit te styg bo hulle armoede.
Die vraag is dan: Hoe volhoubaar is ons kerke? Ons kan volhoubaar wees as ons inkulturaliseer en regtig kontekstueel kerk begin wees. Maar dan gaan dit verg dat ons ander denke oor en modelle van kerkwees op die tafel sal moet sit; denke weg van gesentraliseerde mag en modelle wat nie poog om duur strukture en geboue in stand te hou nie; modelle en denke waar die kerk plaaslik in gemeenskappe ’n verskil maak en die lidmate bemagtig word om hul getuienistaak uit te leef sodat hulle binne hul fisiese lewensomstandighede kan floreer.
Ons NG Kerk hier in Suid-Afrika sit met dieselfde bagasie. Ons het ook groot kerkgeboue en strukture wat in stand gehou moet word en wat alreeds vir baie gemeentes ’n stryd is.
Ons sal dus opnuut met mekaar moet saamdink oor wat dit beteken om volhoubaar kerk in Afrika te wees. Is ons kerkmodelle volhoubaar, of is daar Afrika-modelle wat kerk regtig vir ons sinvol maak? Mense wat in ’n area woon waar hulle hard moet werk om ’n bestaan te kan maak (soos op die platteland), is nie minderwaardig teenoor diegene wat in ’n stedelike kantooromgewing werk nie. Ons moet outentiek kerk wees in sowel plattelandse as stedelike kontekste. Ons moet daar wees waar die Here ons geroep het om kerk te wees, of dit nou in Noord-, Suider-, Oos- of Wes-Afrika is. Of dit onder ’n boom of in ’n gebou is, is irrelevant ten opsigte van ware kerkwees.
“Volhoubaarheid lê by onsself; dis nie iets wat iemand anders vir ons gaan doen nie. Dis belangrik om ons eie maniere van volhoubaar kerk wees te ontdek binne die konteks waarin ons ons bevind. Dalk sal dit goed wees as ons deur die evalueringsprosesse ten opsigte van ons instellings gaan en bepaal: Moet ons hiermee besig wees – Ja of nee? Kan ons kerk wees sonder om met hierdie modelle te werk wat eintlik in hulle wese Westers is?”
| verskaf deur dr Nico Mostert: Groepbesprekings tydens die aanbieding van ds TK Ilesanmi oor ‘Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions’.
| verskaf deur dr Nico Mostert: Ds TK Ilesanmi en dr Nico Mostert.
Kontak gerus vir meer inligting:
Dr Nico Mostert | missio@ngkvs.co.za