Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Belydenisklas en teologiestudente bring Evangelie aan Moslems

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Volgens LifeWay Research is daar minder as 10% van Christene wat in ’n jaar se tyd hulle geloof met mense van ander geloofsgroepe deel. Wanneer dit by getuienis teenoor Moslems kom, val hierdie syfer na ver onder 5%.  Tieners en studente wat met oorgawe die Evangelie aan Moslems verkondig, is daarom nie aan die orde van die dag nie.

Van 17-20 Julie 2026 het die derdejaar- Teologiestudente en die Belydenisklas van die NG Gemeente Fichardtpark ’n uitreik na Kwa-Zulu Natal onderneem. ’n Belydenisklas uit Gauteng, naamlik dié van die NG Gemeente Sesmylspruit, saam met ds Bernice Koekemoer, het ook daar by ons aangesluit.

Ons eerste stilhouplek was by die Sufi-moskee op Ladysmith (deesdae uMnambithi). Sufi’s is ook Moslems wie se spiritualiteit verskil van hoofstroom Islam. ’n Skrywer vat Sufisme in kort saam as: “Sufism may be best described as Islamic mysticism or asceticism, which through belief and practice helps Muslims attain nearness to Allah by way of direct personal experience of God.”[1]

Die moskee is ’n argitektoniese lus vir die oog en is ook ’n nasionale gedenkwaardigheid. Die groep is gasvry ontvang en die toergids het die vier basiese beginsels van Sufisme aan die groep verduidelik, naamlik bekering, opregtheid, meditasie en liefde. Dit vorm die stadiums van die Sufi se transformerende reis. Dit beklemtoon ook die belangrikheid vir hulle om menslike beperkings te aanvaar, sowel as Allah se onbeperktheid.

Saterdagoggend het ons twee Hindoetempels besoek. Die besoeke daar vereis ’n artikel op sy eie. Die politeïstiese aard van die godsdiens is opvallend (hoewel hulle dikwels noem dat daar net een god is). Ons het daar weer opnuut waardering gekry vir die feit dat ons, in teenstelling met ander, ’n God van genade aanbid en net deur die bloed van Christus gered word.

Ons het daarna die Hare Krishna-tempel besoek. Dit is ’n imposante gebou wat mens van ver af sien. Hare Krishna is ’n mistieke sekte van Hindoeïsme, hoewel ook ’n onafhanklike godsdiens. Die Hare Krishna-beweging dateer terug na die vyftiende eeu (1486), toe die stigter daarvan, Chaitanya Mahaprabhu, begin leer het dat Krishna die opperheer bo elke ander god was. Mahaprabhu het ’n toegewyde metode van geloof voorgestaan ​​waarin aanhangers van Gaudiya Vaishnavism ’n verhouding met Krishna aangegaan het en hul aanbidding vir Krishna uitgespreek het deur dans en dreunsang. In 1965 het die Hare Krishna-beweging na Amerika gekom deur middel van Abhay Charan De Bhaktivedanta Swami Prabhupada. Die Hare Krishna-beweging het vinnig gegroei in die tyd van morele verval van die 1960’s. Westerse waardes is bevraagteken en Oosterse denke het mode geword. Op dié manier het dit ook ’n vastrapplek in Suid-Afrika gevind.

Wat veral ontstellend was, was die feit dat ons daar ’n Afrikaanssprekende jong vrou ontmoet het wat tot onlangs nog ’n lidmaat van ’n gemeente van die NG Kerk in die Vrystaat was en deel van daardie gemeente se voorsanggroep was. Ons het daardie aand vir haar en haar ouers gebid.

Die Sondagoggend het ons die erediens van die Shalom Gemeente van die Reformed Church in Africa bygewoon. Ons is met groot hartlikheid ontvang en ’n ouer lidmaat daar het vir ons “Die Here is my Herder” in Afrikaans gesing. Die gasvryheid is ná die diens voortgesit toe ons met Indiese, sowel as meer bekende lekkernye getrakteer is.

’n Groot hoogtepunt was toe ons Sondagmiddag die evangelie met Moslems kon deel. Die katkisante en studente het ’n basiese toerusting oor Islam ontvang, sowel as ’n riglyn van hoe om die Evangelie met Moslems te deel. Die groep het daardie dag die evangelie met ongeveer veertig Moslems gedeel. Dit is bykans verstommend om te sien hoe studente en katkisante inkoop op hierdie geleentheid om die evangelie te deel en dit met groot gemak en entoesiasme doen.

Ons stap weg van hierdie uitreik met dankbare harte, wetende dat elke gesprek, elke gebed en elke daad van liefde maar ’n klein saadjie is wat ons in geloof geplant het. Die ware groei is nooit ons werk nie — dit is die Here wat dit laat ontkiem, wat dit voed, wat dit op die regte tyd vrug laat dra. Ons mag soms net die begin sien, soms heeltemal niks, maar God werk stil en getrou in die grond van mense se lewens. Daarom vertrou ons Hom met die oes, en bly ons getrou om te saai, omdat die God van sending nooit ophou om lewe voort te bring nie.

Die Soefie moskee op Ladysmith. Dit is 'n Nasionale gedenkwaardigheid
Die Soefie moskee op Ladysmith. Dit is 'n Nasionale gedenkwaardigheid
Die Hare Krishnatempel in Chatsworth, Durban
Die Hare Krishnatempel in Chatsworth, Durban
'n Beeld van Bhakdivadenta Swami Prabhupada, wat die Hare Krishnabeweging na Suid-Afrika gebring het
'n Beeld van Bhakdivadenta Swami Prabhupada, wat die Hare Krishnabeweging na Suid-Afrika gebring het
Studente deel die Evangelie met Moslems
Studente deel die Evangelie met Moslems
Katkisante deel die Evangelie met Moslems

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

[1] Tony Blair Institute For Global Change, What is Sufism? 1 Desember 2017

’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel is ’n verslag oor die derdejaar Teologie studente en my Belydenisklas se uitreik onder Moslems.