Spiritualiteit
Spirituele begeleiding vir predikante
“Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” — Markus 6:31
Wat wil die Netwerk vir Spiritualiteit doen?
Vir baie van ons in die Gereformeerde tradisie is bediening ’n plek van erns, gereedheid en verantwoordelikheid. Maar juis in hierdie toewyding verloor ons maklik kontak met ons eie innerlike lewe. Ons weet hoe om vir ander te bid, te preek en te sorg – maar wie help ons om eerlik na ons eie siel te luister?
Die Spirituele Netwerk wil seker maak dat ons ruimtes skep waar predikante die kans kry om te kan rus. Ruimtes van stilword, van stadige, gebedsvolle onderskeiding waar die Gees die ware Begeleier is.
Hoe wil ons dit doen?
Ons het geakkrediteerde spirituele begeleiers wat vir predikante spirituele begeleiding kan aanbied. En dan wil ons ook retraites vir predikante aanbied. Veral retraites met die fokus op stilte. Waar God weer in die stilte ontmoet word.
Liewe kollega,
Wanneer laas het jy diep asemgehaal in God se teenwoordigheid?
Ons wil graag vir jou so ’n ruimte skep.
Geestelike begeleiding is ’n eenvoudige, maar diepgaande ruimte van luister. Dis ’n een-tot-een gesprek waar ’n begeleier jou help om te onderskei wat God in jou lewe doen — sonder oordeel, sonder vinnige oplossings.
Dis nie terapie of mentorskap nie. Dit is nie coaching (lewensbegeleiding) nie. Dis eerder ’n plek van stadige, gebedsvolle onderskeiding. Die Gees is die ware Begeleier; die spirituele begeleier is net ’n medereisiger wat jou help om God se stem duideliker te hoor.
Waarom is dit nodig vir predikante?
Omdat predikante dikwels almal versorg — behalwe hulself.
Ons preek dat Christus leef en lei, maar hoeveel ruimte laat ons vir daardie leiding in ons eie lewe?
Ons leer ander van selfondersoek en ’n verbintenis met Christus, maar ons eie praktyk van stilword is dikwels vergete tussen vergaderings, e-posse, WhatsApps en voorbereiding.
Spirituele begeleiding skep vir jou die ruimte om stadig genoeg te gaan om God se teenwoordigheid raak te sien. Dit gee jou taal en ruimte om eerlik te wees – oor jou vrese, jou begeertes, en jou verhouding met die Here.
Wat gebeur in ’n sessie?
’n Sessie duur gewoonlik 60 minute. Jy bring wat op jou hart is, en die begeleier help jou luister:
Waar is God besig in my lewe? Wat voel swaar? Na wat nooi God my uit?
Dis eenvoudig, stil en verrassend helend. Jy hoef dus nie iets “nuuts” aan te leer of jou oortuigings te verander nie.
Jy hoef net ’n oomblik te stop … en te luister.
Hoe kan ons help?
Vanuit die Spiritualiteit Netwerk van die NG Kerk Vrystaat is daar opgeleide spirituele begeleiers beskikbaar en gereed om tot jou diens te wees.
’n Spirituele begeleidingsessie beloop R350 per sessie. ’n Sessie gebeur een keer per maand en ons beveel aan dat jy ten minste vyf (5) sessies probeer om te sien of dit vir jou werk.
Vir dié wat wil begin, hier is vir jou ’n baie spesiale aanbod
Die eerste 5 predikante wat voor einde Augustus 5 sessies by ’n begeleier bespreek, kry 3 van die 5 sessies GRATIS! Jy kry ook 5 VBO-punte na afloop van die 5 sessies!


Indien jy in hierdie aanbod belangstel, kontak een van die spirituele begeleiers en ons maak dit gebeur.
Hier is begeleiers se name en kontakbesonderhede
Louwrens Scheepers
(Sel: 072 115 0057 | E-pos: louwrens@integernetwork.com)
Louwrens is in 2019 opgelei as spirituele begeleier by die Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit in Pretoria (olv Willem Nicol). Vir Louwrens is dit belangrik om ruimtes te skep waar mense veilig voel en waar jy op ’n reis van selfontdekking kan gaan — ‘n reis waarin hulle nader aan hul ware self en aan God beweeg. Aandagtige luister en deernisvolle vrae help jou om stil te word en te hoor wat die Gees vir jou wil wys. In hierdie ruimte is daar nie druk om antwoorde te hê nie. Ons vertrou dat God reeds teenwoordig is — en soms beteken dit dat ons eenvoudig terugstaan en wag. Louwrens fasiliteer ook retraites wat gestruktureer is rondom stilte, gebed en begronding van jouself in ’n gejaagde wêreld — oomblikke om te stil te staan, te rus en weer in lyn te kom met God se teenwoordigheid.
Christo Louw
(Sel: 082 371 2905 | E-pos: christolouwgm@gmail.com)
Christo is sedert 2014 betrokke by spirituele begeleiding ná sy opleiding by die Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit in Pretoria. Hy was vir baie jare studenteleraar aan die UOVS en is tans in ’n deeltydse pos by Aandbloem-gemeente aan die ENGO Sentrum vir Bejaardes in Bloemfontein. Hy het ook ’n MTh-graad in pastorale terapie verwerf. Hy het hom ingegrawe in die Enneagram deur verskeie modules van die Narratiewe Enneagram te voltooi en het ook internasionale opleiding ontvang. Dit is dikwels bruikbaar in spirituele begeleiding.
Hoe verstaan Christo spirituele begeleiding?
Jesus het gesê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Johannes 10:10). Om dus deur iemand genooi te word om saam te bid, te luister en te praat oor die lewe in oorvloed wat daar in Christus is, is vir hom om heilige grond te betree.
Wat gebeur in so ’n ruimte?
Thomas Merton sê: “The whole purpose of spiritual direction is to penetrate beneath the surface of a man’s life, to get behind the façade of conventional gestures and attitudes which he presents to the world, and to bring out his inner spiritual freedom, his inmost truth, which is what we call the likeness of Christ in his soul.”
Hoe sien hy sy rol as begeleier (mentor)?
“It is easier to find guides, someone to tell you what to do, than someone to be with you in a discerning, prayerful companionship as you work it out yourself. This is what spiritual direction is.” Eugene H. Peterson
Hannes du Plessis
(Sel: 062 127 5300 | E-pos: hannesduplessis7@gmail.com)
Hannes du Plessis het opleiding ontvang in spirituele begeleiding onder leiding van o.a. dr Willem Nicol in Pretoria, en in 2024 ’n opfrissingskursus deurloop, met akkreditasie deur die Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit.
Spirituele begeleiding vir Hannes is ’n geloofsdissipline wat uit die vroeë kerk dateer. Ons vind dit alreeds by die woestynvaders (3de eeu n.C). Spirituele begeleiding begelei iemand om spesifiek die spore van God se teenwoordigheid en werking in sy/haar lewe raak te sien. Spirituele begeleiding verskil van sielkundige terapie, pastoraat en lewensafrigitng (coaching) in die sin dat jy nie een of ander krisis of probleem hoef te hê om in spirituele begeleiding te gaan nie. Jou motivering kan bloot wees dat jy meer bewus van God in jou lewe wil wees. Spirituele begeleiding kan van groot waarde wees wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, maar soms het jy net ’n behoefte aan ’n dieper soeke na God. Of jy worstel dalk met eksistensiële vrae. Of jy weet dalk nie eers wat fout is nie, jy weet nie iets kort nie.
Hoe dit ook al sy, indien jy in jou hart voel dat jy in spirituele begeleiding wil gaan (of meer daaroor wil weet), kontak Hannes gerus.
Magdaleen du Toit
(Sel: 083 226 9732 | E-pos: magdaleen.dutoit@gmail.com)
Magdaleen du Toit is as gebedsbegeleier (Jesuïte-instituut, Jhb) en spirituele begeleier (Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit, Pta) opgelei en geakkrediteer. Sy is ook reeds meer as ’n dekade lank ’n ervare retreatleier. Haar spiritualiteit word gekenmerk deur stilte en ’n kontemplatiewe leefstyl – eenvoud, ’n stadiger lewensritme, herkenning van God in die detail van die alledaagse lewe, kreatiwiteit, deernis en omgee.
Sy beskou die geloofspad as ’n avontuurlike reis wat sy met nuuskierigheid volg om te ontdek wat God daagliks vir haar in gedagte het, en sy loop graag as mede-ontdekker saam met individue op hierdie dieper pad. Sy is eletronies beskikbaar.
Christo Nel
(Sel: 076 943 2006 | E-pos: soekie@lantic.net)
Christo is tans leraar in Wesselsbron-gemeente. Sy jarelange betrokkenheid by fasilitering en gemeentebediening het hom opnuut laat besef hoe ’n belangrike rol dominees in gemeentes speel. Sy eie pad met spirituele begeleiding was van dag een af vol onbeskryflike seëninge. Hy het die opleiding (Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit, Pta) ontvang in ’n tyd toe hulle as gesin deur ’n redelike groot krisis gegaan het. In daardie tyd was die waarde van ’n spirituele begeleier in sy eie lewe onskatbaar. Dit sal vir hom ’n heerlike voorreg wees om in kollegas se lewens as begeleier op te tree en saam met hulle te reis. Hy verstaan spirituele begeleiding nie as ’n stel antwoorde nie, en ook nie as pastoraat nie, maar juis om die persoon te begelei om self ontdekkings te maak op hierdie reis.
Ons sien uit om van jou te hoor en hoop as Netwerk om ons predikante by ons retraites en spirituele begeleiding-sessies te ontmoet!
Louwrens Scheepers
(Spirituele Netwerk)

Jy word hartlik uitgenooi na ’n besonderse geleentheid in Philippolis!
Van 21 tot 25 September bied ons, in vennootskap met die Spiritualiteit Netwerk van die NG Kerk Vrystaat, ’n unieke retraite aan — ’n tyd van stilte, musiek, kuns, gesprekke en stap in die asemrowende natuur van die Suid-Vrystaat.
Jy hoef nie al vyf dae by te woon nie — om deel te wees van hierdie reis, vra ons net dat jy vir ten minste twee nagte oorslaap.
En hier is ’n BONUS!
Die eerste 10 predikante wat registreer, ontvang gratis verblyf vir twee nagte. Ja, jy lees reg!
Boonop verdien jy 15 VBO-punte vir deelname aan die retraite (minimum twee nagte se verblyf).
Moenie hierdie kosbare geleentheid misloop nie.
Kontak my gerus vir meer inligting of om jou plek te bespreek — ek sien uit daarna om van jou te hoor!
Louwrens Scheepers | louwrens@integernetwork.com / 072 115 0057