Skip to content Skip to footer

Avontuurweek – die ‘core memories’ van kindwees

Deur Mariëtte Odendaal

“Ek wil graag hê dat al my maatjies die Avontuurweek moet bywoon. Daarom het ek so baie saamgenooi.” (’n Tienjarige dogtertjie)

 

“Kan Tannie-hulle dit nie vir die hele vakansie doen nie?”  (’n Sesjarige seuntjie)

 

“Die Avontuurweek is een van my ‘core memories’ van kindwees en dit is so lekker om dit nou vir ander kinders te kan help aanbied.”  (’n Studente-helper)

 

“Al vyf my kleinkinders het met opwinding en vreugde elke oggend Avontuurweek toe gegaan. Hulle kon elke dag vir my die geestelike boodskap vertel wat hulle die oggend gehoor het en hulle sien die hele jaar uit na die volgende een!” (’n Ouma wat haar kleinkinders elke jaar uit Pretoria laat kom vir die Avontuurweek.)

Dink ’n bietjie terug aan die lekkerste tye in jou lewe en jy sal waarskynlik sê dit was in jou kinderjare. Dit sal sou waarskynlik by ’n geleentheid saam met ander maats gewees het waar daar vrolike samesyn, baie lag en liefdevolle grootmense was; iets wat jy vir elke kind toewens.

As jy een van sulke gelukkige kinders was, sal jy ook nou besef dat agter so iets die entoesiasme van toegewyde volwassenes staan wat baie vir kinders omgee en besef watter onskatbare waarde sulke byeenkomste vir kinders in hul vormingsjare inhou.

En dit is presies wat die nou al bekende Avontuurweek in die Ring van Vaalrivier doen wat jaarliks by die Sasolburg-Fontein-gemeente aangebied word. Ons het meer daaroor gaan uitvind by Marida Steurer, organiseerder van hierdie gewilde aktiwiteitsweek.

Marida, vertel vir ons hoe die idee van die Avontuurweek ontstaan het en waar dit plaasvind.

“Dit het in 2010 begin toe die winterskoolvakansie ter wille van die Wêreld Sokkerbeker ekstra lank was – ’n hele vyf weke lank – en dis vanjaar al vir die 14de keer aangebied, met ’n tweejaar-onderbreking te wyte aan Covid.

“Die saadjie daarvan is geplant danksy my onvergeetlike positiewe ervaring van die Faerie Glen-gemeente in Pretoria se jaarlikse Avontuurweek wat ek as kind destyds saam met my broer en suster bygewoon het. Toe dit ’n moontlikheid hier by ons in Sasolburg word, was ek dadelik gretig om met behulp van nog ’n paar entoesiaste iets soortgelyks te reël.

“Omdat die koördinering vanuit ons Fontein-gemeente gedoen word, was dit nog altyd meer prakties om dit op ons perseel aan te bied waar ons die kerksaal en die werf buite-om tot ons beskikking het.”

Hoe word dit finansieel moontlik gemaak en wie woon dit gewoonlik by?

“Die Avontuurweek word deur die Ring van Vaalrivier ondersteun ten opsigte van bemarking en subsidies en word vir die hele gemeenskap aangebied. Ons vra wel ’n fooi (anders sal ons nie al die belangstellende kinders kan akkommodeer nie), maar ons borg ook ’n hele paar kinders waar ons van die nood bewus is. Dit is elke jaar vir my wonderlik om te sien hoe mense se harte en hande oopgaan vir die kinders. Daar is mense wie se kinders nou al volwassenes is, of oumas wie se oorsese kleinkinders dit nie kan bywoon nie, wat bydra sodat ons kinders kan borg wat dit andersins nie sou kon bywoon nie.

“Ons gooi ons deure wyd oop. Die Avontuurweek verwelkom nie net kinders uit ons ringsgemeentes nie, maar ook kinders van ander denominasies en randkerklikes. Die groep bestaan gewoonlik uit baie bevoorregte kinders asook kinders wat uit baie moeilike omstandighede kom. Ons moet soms byvoorbeeld kinders verskoon om kindersorg-hofsittings by te woon. Sommige kinders is in huise van veilige bewaring en mag byvoorbeeld nie afgeneem word nie.

“Die getal kinders wat dit bywoon verskil daagliks, maar ons berei kos voor vir tussen 60 en 80 mense, waarvan ongeveer 20 helpers is.”

Wat wil julle graag met die Avontuurweek bereik en wat behels julle aktiwiteite alles?

“Ons wil kinders graag tydens hul winterskoolvakansie kans gee om avontuurlike en opwindende belewenisse te ervaar terwyl hulle iets van Jesus se liefde beleef en leer.

“Ons probeer aktiwiteite aanbied waarvoor ouers dalk nie altyd kans sien nie en wat onvergeetlike ervarings vir die kinders sal wees.

“Ons doen met hulle aktiwiteite soos lapverf, mosaïek, master chef-etes en pottebakkery. Deur die jare is ook dinge soos kaleidoskope, sneeu-globes, pennesakkies, sleutelhouers en voorskote gemaak, om maar net ’n paar aktiwiteite te noem. Vanjaar het die kinders T-hemde geverf, mikrogolf-warmsakkies gemaak, kolwyntjies versier en ge-modge podge.

“Tussendeur speel ons ook hoë-energie-speletjies. Ons bou byvoorbeeld mummies met toiletpapier, kyk watter span eerste skeerroom van ‘n plastiekstoel se rugleuning kan afspuit met ‘n spuiter vol water uit ‘n emmer, of ons kyk hoe ’n groot herrie die kinders vir vyf sekondes kan opskop; alles wat natuurlik groot pret verskaf!

“Ons maak egter ook voorsiening vir kinders wat nie gemaklik is in groot groepe en geraas nie. Daar is altyd inkleurkryte en papier in ’n aparte kamer, hoela-hoepels buite en gekleurde bordkryt waarmee die kinders op die stoep en plaveisel mag teken.

“Ons doen veral ook moeite met die geestelike program. Die aanbieders maak die Bybellesse interessant met enige iets van eksperimente, kulkunsies, op-dress, dramatiserings en skattejagte.

“Aangesien ons tema vanjaar Jesus gebruik kinders in sy koninkryk, was, het ons elke dag op ’n ander kinderkarakter uit die Bybel gefokus en gekyk hoe daardie kind deur God gebruik is om sy plan op aarde uit te voer. Ons het daarop gewys dat God nie net kinders toerus vir eendag as hulle groot is nie, maar dat Hy elkeen nou al wil gebruik om sy liefde vir ander te wys en van Hom te vertel.

“Ons het ook elke oggend ’n gesprek met Smiley, ’n geel bal met ’n glimlag op, en sy knuffelmaatjies (sagte speelgoed voor op die tafel) aan wie ons dan van die hoogtepunte van die vorige dag vertel. Afhangende van die beskikbare hande bied ons sommige jare ook ’n poppekas aan.

“Lekker tradisies van ons Avontuurweek is die volgende: Dinsdag is Lawwe Sokkie-dag waar die kinders hulleself elke jaar oortref met die lawwe idees waarmee hulle vorendag kom. Dan eet ons ook op een van die dae ons pad-pizzas waar elkeen sy eie ham- of kaasbroodjie maak, dit in ’n plastieksakkie sit, oor en oor in koerantpapier toedraai, waarna ons dan twee keer met ’n motor daar bo-oor ry. Die laaste dag het ons ’n verskeidenheid springkastele en hou ons die finaal van die hoela-hoep- en handstaan-kompetisies. Dit het ook ’n spesiale tradisie vir die tienerhelpers geword om op die laaste dag, wanneer alles opgeruim is, saam ’n melkskommel by die Wimpy te gaan drink.”

Gaan julle weer so iets aanbied en dalk uitbrei?

“Ja, beslis! Dit is alreeds op ons kalender vir die 2026 winterskoolvakansie en ons hoop om dalk volgende jaar iets soortgelyks in die Parys-omgewing ook aan te bied, al is dit vir eers net ’n Avontuurdag.”

Vir meer inligting kan Marida by marida@lantic.net gekontak word.

 | Verskaf deur Marida Steurer