Bainsvlei-gemeente ontdek hul “Judea” by Bloemfonteinse Boeremark
“Ons sal graag meer gemeentes hierby wil betrek, want dit bied die ideale geleentheid aan ’n gemeente om evangelisasiewerk te doen in sy eie ‘Judea’. Jy kan hier evangeliseer en kuier met die verbygangers; boonop is dit nog lekker ook!”
Jan Naborn
Boeremark-organiseerder
Bloemfontein
Elke Saterdagoggend word ’n 3 × 3 meter-gazebo tussen die honderde stalletjies by die Langenhovenpark Boeremark opgeslaan. Daar word nie net Bybels en Christelike boeke verkoop nie. Hier word geluister, gesels, gelag, getreur en dikwels oor Jesus gepraat.
Bainsvlei-gemeente bestaan uit ongeveer 500 lidmate en is aan die westekant van Bloemfontein geleë. Ds Cobus Hamman is die leraar daar.
‘Kom tot rus in God.’ (Psalm 62) Dit was die Here se droom vir Bainsvlei-gemeente wat hulle oor ’n jarelange proses van geloofsonderskeiding by Hom gehoor het. Cobus verduidelik: “Vir die Here is dit nie ’n droom wat ons passief en na binne gekeer moet maak nie. Inteendeel. Die ‘Kom’ in ‘Kom tot rus in God’ moet juis ’n uitnodiging wees aan diegene wat buite ons geloofskring staan.”
’n Saadjie word geplant
Een van Bainsvlei-gemeente se lidmate, Jan Naborn, het in 2012 vanaf Kimberley na Bloemfontein verhuis en is deel van dié geloofskring. Hy was ook deel van die groep wat gedurende 2016 ’n EE3-kursus deurloop het. EE3 is ’n interkerklike program waarvolgens mense opgelei word om die evangelie op ’n eenvoudige manier met ander te deel. Tydens hierdie opleiding het die Bainsvlei-groep onder meer ouetehuise besoek en geestelike gesprekke met die inwoners gevoer.
“Maar wat nou?”
Jan vertel: “Na afloop van die EE3-kursus het ons onsself egter afgevra: ‘Maar wat nou?’ Ons het geleer om oor ons geloof te praat, maar het besef die toerusting beteken niks as ons nie die volgende tree gee nie.”
Die Bainsvlei-groep moes dus besluit waarheen hulle hul volgende tree sou gee. Aangesien die gemeentelede deur hul eie predikant en kerkraad geestelik bedien word, het hulle besluit om buite hulle gemeentegrense uit te reik – om hul eie “Judea” te ontdek. (Handelinge 1:8)
Langenhovenpark Boeremark sou die ideale plek vir hul doeleindes wees. Die Boeremark vind elke Saterdag plaas in Langenhovenpark, een van Bloemfontein se voorstede. Daar word ongeveer 600 stalletjies bedryf wat wissel van klere-, groente-, kuier- en nog vele ander soorte stalletjies – dit is een groot geselligheid wat maandeliks deur duisende mense besoek word.
“Wat ons gepla het, is dat die kerk nie daar verteenwoordig was nie, terwyl daar ongeveer 15 kerke in hierdie gebied geleë is,” vertel Jan. “Ons het dit as ’n groot leemte beskou en besef daar is mense rondom ons met wie die kerk min kontak het. Ons het toe besluit om die kerk daar te gaan verteenwoordig.”
Jan-hulle het toe ’n gazebo met doelmatige kantseile aangekoop waarvandaan hulle Bybels en Christelike boeke verkoop het. “Vanaf hierdie 3 × 3 meter-perseel wou ons God se Koninkryk al meer en meer sigbaar en hoorbaar maak,” verduidelik Jan. “Sedertdien versprei ons ook pamflette wat ons van die Christelike Lektuurfonds (CLF) kry. Net van Psalm 23 alleen het ons oor die jare al meer as 30 000 pamflette versprei.
“Ons ervaar ook dikwels dat die mense van wie jy dit die minste verwag, ’n pamflet sal neem, terwyl diegene van wie jy dit verwag, glad nie belangstel nie.
“Dis ook lekker om op ’n ‘sendingreis’ deur die Boeremark te stap deur by stalletjiehouers aan te gaan en hulle ’n pamflet aan te bied waarna ’n geestelike gesprek dikwels volg. Die Here Jesus se eerste preek was: ‘Die Koninkryk van God het naby gekom’ en ons as Kerk moet daarop let dat ons die Here se medewerkers en dissipels sal wees in hierdie wêreld.”
Jan dink ook dat dit ’n goeie idee sal wees om by kerkbasaars sulke stalletjies te hê waar Bybels en Christelike boeke te koop sal wees en pamflette versprei kan word. “Vir buitestaanders wat daar inkom, sal dit dan duidelik wees dat dit die Here Jesus se kerk is wat hier werk.”
Uitdagings en oplossings
“Bainsvlei is ’n plot- en plaasgemeente,” verduidelik Jan. “Gedurende die week werk lidmate in ’n beroep en dan is Saterdae die enigste dag waarop daar op die plot of plaas gewerk kan word. Gevolglik is daar net hoogstens drie lidmate wat hierdie getuienisstalletjie kan help bedryf en daarom kan ons stalletjie nie elke Saterdag by die Boeremark beman word nie. Dis ’n jammerte. Dit is ons ideaal dat hierdie getuienisstalletjie elke Saterdag hier by die Boeremark sal staan, beman deur gelowiges vanuit verskeie gemeentes, gelowiges wat dit as hul roeping beskou om vir Christus hier op die markplein te verteenwoordig.
“Ons sal dus graag meer gemeentes hierby wil betrek, want dit bied die ideale geleentheid aan ’n gemeente om evangelisasiewerk te doen in sy eie ‘Judea’. Jy kan hier evangeliseer en kuier met die verbygangers; boonop is dit nog lekker ook!”
Waar is jóú gemeente se “Judea”?
“Daar is baie terreine waarop evangelisasie gedoen kan word, soos byvoorbeeld die nywerheids- of arbeidsbediening,” verduidelik Jan. “Hier in Bloemfontein is oral nywerhede, winkels en kantore waar die Woord van die Here verkondig kan word.
“In gesprek met winkel- en fabriekseienaars kan die voordeel wat hierdie bediening vir hul werknemers kan inhou, aan hulle verduidelik word. Christelike beginsels soos eerlikheid, hardwerkendheid en lojaliteit sal mettertyd al hoe meer sigbaar in hulle lewens word – iets wat baie betekenis aan hulle almal se lewens kan gee.
“Nog ’n terrein waar evangelisasiewerk in die gemeenskap gedoen kan word, is onder die talle bedelaars wat op straat leef en by robotte staan,” vertel Jan.
Al hierdie omgee-uitreike is van groot belang. As mense ons omgee-liefde as navolgers van Christus ervaar, sal hulle hul menswaardigheid in die Here besef, veral as hulle dan met ope arms in ons geloofsgemeenskap verwelkom word.
Dit kring wyer uit
“Dis ook verblydend om te sien hoe mense van ons pamflette by ouetehuise, klinieke en hul kantore plaas,” vertel Jan. “Hulle kom kry voorraad by ons of gaan haal dit by ons kerkkantoor.
“Mense het ook al vir ons gesê wat ons ondersteuning, meelewing of net ’n drukkie in swaar tye vir hulle beteken. Dit wat hulle by ons kry, kry hulle nie sommer by ander nie.
“Ons almal gaan deur hoogte- en laagtepunte. Een dag gaan alles voor die wind en die volgende dag tuimel jou lewe inmekaar. By die Boeremark luister ons na al die mense en lag en treur saam.”
Miskien is dit juis waar die krag van die stalletjie lê: nie net in wat daar uitgedeel word nie, maar in die mense wat daar raakgesien word.
Jan sluit af: “Aan die einde van ’n Saterdagoggend sê ons dikwels vir mekaar dat ons nie weet waar al die pamflette gaan beland nie – dalk in ’n asblik, dalk in ’n boek as boekmerk, maar dalk beland ’n saadjie in vrugbare grond en word dit ingeneem deur ’n honger hart – ons weet nie, maar dis OK, want die Here weet. Hy sal in sy groot raadsplan daarmee handel volgens sy wil.”
Miskien is dit al wat God van ons vra: om die volgende tree te gee. Om ons eie “Judea” raak te sien. Om te gaan. Om te luister. Om om te gee. En om die res aan Hom oor te laat.
Vir meer inligting kan Jan Naborn gekontak word by jannaborn1@gmail.com
| Foto’s is verskaf deur Jan Naborn.





