Deur Mariëtte Odendaal
In ’n wêreld waar klimaatsverandering en omgewingskrisisse oorweldigend voel, kan ’n mens maklik moed verloor. Maar die kerk se storie werk anders. God se Koninkryk begin nie met groot projekte nie; dit begin met klein mosterdsaadjies. En wanneer gemeentes klein, volhoubare gewoontes aanleer, word dit ’n kultuur van hoop.
Voorbeelde van projekte wat gemeentes kan aanpak
- Waterbesparing: Gebruik gryswater of installeer krane met lae vloei.
- Herwinning: Jeuggroepe wat plastiek en papier insamel as deel van hul diensprojekte.
- Gemeentetuine: Groentetuine wat sopkombuise ondersteun of families help wat swaar kry.
- Boomplant-Sondae: Gemeentes wat jaarliks saam bome plant as teken van hoop.
Hierdie dade is nie groot nie, maar hulle bou ’n kultuur van sorg.
Hoe ekologie ’n gemeenskapsprojek word
Wanneer ’n gemeente ekologies begin leef, raak dit nie net die kerk nie, dit raak die hele gemeenskap. Inspireer die volgende in jou gemeente:
- Families: ’n “Groen week” waar gesinne saam minder plastiek gebruik, meer stap en bewustelik eko-vriendelik leef.
- Skole en kerke: Samewerking ten opsigte van herwinning, waterbewaring en opvoeding.
- Jongmense: Jongmense het dikwels die beste idees. Gee hulle ruimte om te lei.
Teologiese motivering
Jesus se gebruik van die beeld van die mosterdsaadjie verduidelik mooi hoe klein dade groot “bome” kan word. Klein gewoontes word groot kultuurverskuiwings. Die kerk word ’n teken van hoop in ’n tyd waar baie mense angstig is oor die toekoms van die aarde.
Ons leef nie uit vrees nie, maar uit geloof. Ons doen nie ekologie omdat die wêreld paniekerig is nie, maar omdat God ons roep om daarvoor te sorg.
Gemeentes kan hierdie praktiese voorstelle volg:
- Verminder plastiek by kerkfunksies.
- Gebruik herbruikbare koppies vir koffie en tee.
- Begin ’n eenvoudige herwinningspunt.
- Plant inheemse plante op die kerkterrein.
- Ondersteun plaaslike boere en produkte.
- Gebruik minder papier deur digitale kommunikasie te bevorder.
- Skep ’n “groen span” wat idees versamel en klein projekte lei.
Slotgedagte
Wanneer ’n gemeente ’n kultuur van sorg vir die skepping leef, word dit ’n stille getuienis van hoop. Dit wys vir die wêreld dat ons as navolgers van Christus nie net bid vir die aarde nie, maar ook met praktiese liefde en omgee daarin leef.

