Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“’n Tweede kans”

Deur Mariëtte Odendaal

“Vandag, meer as ’n dekade later, is dit steeds my voorreg om hoop, genesing en herstel na mense te bring wat ’n tweede kans nodig het … Agter elke seldeur is daar ’n mens met ’n storie, pyn, hoop en die moontlikheid van verandering.”

 

Ilse Philips
Geestelike werker
Grootvlei Gevangenisbediening

Dit was vroeg een Donderdagoggend toe ds De la Harpe le Roux (Diens van Barmhartigheid), Frikkie van Wyk (leier van die Uitreikbediening by Pellissier-gemeente) en Andreas Nieuwoudt (koördineerder van Arbeids- en Middestadbediening) op uitnodiging van Ilse Philips op besoek was aan die Grootvlei Gevangenis waar sy gereeld die mense daar geestelik bedien. (Lees gerus Frikkie en Andreas se ervaring hiervan onderaan: Hoe ’n Besoek aan die Grootvlei Gevangenis my verander het.)

Ons het met Ilse gaan gesels om meer oor dié besondere bediening te wete te kom.

Ilse, vertel iets van jouself. Waar is jy gebore, waar het jy skoolgegaan, studeer en gewerk?

“Ek is gebore en getoë in Jacobsdal in die Suid-Vrystaat, waar ek aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal gematrikuleer het. 

“Daarna het ek vir ’n paar jaar in ’n sakeonderneming gewerk, maar het in 2012 begin studeer en ’n Diploma in Bediening (Ministry) aan die Christ for the Nations South Africa Bybelskool verwerf. 

“In 2014 het ek Life Restoration Outreaches (LRO), ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, gestig.  Intussen het LRO ingeskakel by  Auksano Trauma Therapy Centre en werk ons saam as ’n span.  Sedert 2026 het ons ook hande gevat met Towers of Hope om herstel, rehabilitasie en hoop aan mense wat dit die nodigste het, te bring.” 

Hoe het dit gebeur dat jy by die Grootvlei Gevangenisbediening betrokke geraak het?

“Tydens my Bybelskoolopleiding het ek ’n besondere passie ontwikkel vir gevangenis-bediening. Die vak Jail and Prison Ministry het my oë oopgemaak vir mense wat dikwels deur die samelewing vergeet word, maar wat vir God belangrik is. 

“Kort daarna het ek mnr David Menyatso, ’n geestelike werker by Grootvlei Gevangenisdiens, ontmoet. Ek het as vrywilliger saam met hom begin bedien en in 2014 is ek daar as geestelike werker aangestel. Vandag, meer as ’n dekade later, is dit steeds my voorreg om hoop, genesing en herstel na mense te bring wat ’n tweede kans nodig het.”

Beskryf ’n tipiese besoek aan die gevangenis en wat julle bediening behels.

“Geen twee dae in gevangenisbediening is ooit dieselfde nie. Dit is ’n bediening vol uitdagings, maar ook vol wonderwerke. Ons bied rehabilitasieprogramme, pastorale berading, Bybelstudie-sessies en geestelike ondersteuning aan. 

“Soms gaan jy in om ’n program aan te bied, maar eindig dan langs ’n siek gevangene se bed.  Agter elke seldeur is daar ’n mens met ’n storie, pyn, hoop en die moontlikheid van verandering.  Dit maak elke besoek betekenisvol.”

Hoe dikwels word dit gedoen en hoeveel mense word per besoek bereik?

“Ons bediening vind byna daagliks plaas en ons bereik weekliks meer as driehonderd gevangenes. Dit word gedoen deur middel van rehabilitasieprogramme soos Restorative Justice en Anger Management, asook kerkdienste, Bybelstudie-sessies en individuele berading. 

“Elke gesprek, sessie en gebed bied ’n geleentheid om iemand te help om weer hoop te kry en sy of haar doel in die lewe te ontdek.”

Wat is vir jou van die grootste uitdagings in hierdie bediening?

“Die grootste uitdaging is nie om gevangenes te motiveer om aan die program deel te neem nie – die meerderheid gryp die geleentheid met albei hande aan – dit is eerder om die hele lang en uitdagende pad van rehabilitasie saam met ’n gevangene enduit te stap omdat oorplasings tussen korrektiewe sentrums veroorsaak dat programme onderbreek word voordat dit voltooi kan word. Ek glo egter dat elke saad wat geplant word, waarde het, selfs al sien ons nie altyd die eindresultaat nie.

“’n Verdere uitdaging is die beperkte finansiële ondersteuning vir die gevangenisbediening.  Gevangenes en oud-oortreders vind dikwels min simpatie omdat hul oortredings soveel mense en gemeenskappe seergemaak het. Baie mense ondersteun die idee van rehabilitasie, maar min wil daarin belê.” 

Wat beteken hierdie bediening vir jou?

“Vir my het Matteus 25:36 wat sê: ‘Ek was in die gevangenis, en julle het na my toe gekom’, ’n lewende werklikheid geword. Oor die afgelope twaalf jaar het ek eerstehands gesien hoe God mense verander, herstel en nuwe hoop gee.

“Hierdie bediening herinner my daaraan dat niemand buite die bereik van God se genade is nie. Agter elke misdaad is daar steeds ’n mens wat na God se beeld geskape is. Wanneer ek deur die tronkdeure stap, sien ek nie net gevangenes nie, maar mense vir wie Christus gesterf het en wat steeds potensieel ’n hoopvolle en mooi toekoms het.”

Wat beteken julle bediening vir die gevangenes?

“In al my jare van Gevangenisbediening het ek nog nooit beleef dat iemand hulp van die hand gewys het nie. Inteendeel, die honger na hoop, aanvaarding en verandering is baie groot. Die verhale van lewensverandering is ontelbaar.

“Michael, een van die gevangenes, vertel: ‘Ek was vasgevang in dwelms, bendes en misdaad. Danksy die ondersteuning van geestelike werkers het ek Christus ontmoet, vryheid gevind en my familie teruggekry.’

“Frans sê: ‘Ek het geen belangstelling in die kerk gehad nie, maar deur julle programme het ek geleer om my woede en probleme te hanteer. Dit het my lewe in ’n nuwe rigting gestuur.’

“Sandile getuig: ‘Ek het gedink ek het te ver van God afgedwaal. In die gevangenis het ek ontdek dat die Here se genade groter is as my verlede.’” 

’n Laaste gedagte, Ilse?

“Gevangenisbediening gaan nie bloot daaroor om mense agter tralies te besoek nie; dit gaan daaroor om hoop te bring waar hoop verlore geraak het, genesing waar daar seergekry is, en om mense te help ontdek dat geen mens ooit te ver van God se genade af kan wees nie.”

Vir meer inligting kan Ilse gekontak word by elizabeth.lro1007@gmail.com

Hoe ’n besoek aan die Grootvlei Gevangenis my verander het

“Die grootste moment was toe ek saam met ouens in oranje oorpakke hande vat en in ’n sirkel staan en die Here aanbid.” (Frikkie van Wyk)

“Is daar ooit ’n verskil tussen ‘ons’ wat vry hier buite rondloop en ‘hulle’ wat agter ystertralies sit? Is daar ’n verskil ten opsigte van die bediening tussen hierdie twee groeperings? Hoekom kan daardie een groep ondersteuning ontvang sonder enige stigma en die ander groep nie?” (Andreas Nieuwoudt)

Frikkie van Wyk, leier van die Uitreikbediening by Pellissier-gemeente, vertel:

“Ek was een van die genooides wat een Donderdagoggend saam met Ilse Philips en haar span die Grootvlei Gevangenis gaan besoek het. Min het ek geweet dat ek oor ’n paar minute saam met geharde misdadigers in oranje oorpakke in ’n vierkant sou staan.

“Wat ’n belewenis was dit om Ilse en haar span te kon dophou waar hulle hierdie mense voor ons met soveel passie deur middel van sang en prediking bedien. Hierdie prediking het egter ’n dringendheid gehad: ‘Daar is nog tyd. Jesus wag vir jou as jy Hom nog nie ken nie. Hy weet alles van jou af en gee nie om wat jy gedoen het nie. Hy vergewe jou en wil deel wees van jou lewe.’ Daar is gepreek oor vergifnis, woede en nog baie ander temas wat my laat besef het dat dit maar dieselfde goed is waarmee ons wat buite die tronk is, ook sukkel.

“Daar was oomblikke wat my verstom het om te sien hoe die Heilige Gees besig was om te werk, soos toe ons saam met ander gevangenes op ons knieë gegaan het om die Here te aanbid. Die grootste oomblik was toe ek saam met ouens in oranje oorpakke hande vat en in ’n sirkel staan en die Here aanbid.

“Alles klink dalk vir jou soos ’n storie of miskien vreesaanjaend, maar een ding weet ek vir seker: As jy God wil beleef, moet jy soos Petrus uit die boot klim om sy wonderwerke te kan beleef.

“Dankie vir die geleentheid om op ’n praktiese manier ’n dissipel van Jesus te kon wees. Ons lees in Matteus 25:38: ‘En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek? Dit verseker ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’”

Andreas Nieuwoudt, bedienaar by Torings van Hoop-gemeente en koördineerder van Arbeids- en Middestadbediening, vertel:

“Dit is vroeg een Donderdagoggend en ons staan vol onsekerheid in Grootvlei Gevangenis se parkeerarea. Die atmosfeer is gelaai met die onbekende en almal probeer maar ’n simpel grappie maak. ‘Ek hoop ons kom darem ook weer uit …’

“Die reëls is vooraf deurgegee, soos dat geen selfone, beursies en los geld toegelaat word nie; slegs jou ID.

“Ons word nader geroep en stap oor netjiese grasperke en dan oor ’n bruggie oor ’n visdam. Bewaarders in bruin uniforms groet ons vriendelik. Dit help om die spanning te breek.

“Met die intrapslag loop ons in ’n nou gangetjie verby ’n ry manne in oranje uniforms. Hulle groet ook vriendelik en dit lyk asof hulle dit dalk geniet om nuwe gesigte te sien. Ons wag so twintig minute sodat die span hulle klankstelsel kan regkry.

“Die oomblik het aangebreek. Hier gaan ons. Ons loop deur nog ’n nou gangetjie verby selle met dik ystertralies tot ons by die binnehof kom. Omtrent sestig mans staan en wag. Ek sleepvoet maar na die naaste hoekie en kyk versigtig rond. Die gevangenes kyk terug.

“Ek vang myself met die gedagte: ‘Wat het daai ou gedoen? Het hy gesteel, geroof, of wat?’ Ek sien benoudheid in party se gesigte en besef dat ek wéér moet dink – dat ek beter moet dink en kyk. ‘Wie is jy? Het jy dalk ’n vrou en kind wat vir jou wag? Huil jou ma nog elke aand oor jou? Wanneer jy hier uitkom, wat dan? Sal jy kan sorg vir jou kind, vrou of gesin?’

“Onwillekeurig dink ek aan ons ‘gewone’ mense wat in jou voertuig kan klim, na Spar kan gaan om ’n pakkie tjips te gaan koop sonder dat iemand jou verbied om dit te doen. Ons ‘gewone’ mense sit egter ook in ons eie ‘tronke’ – tronke van depressie, ongesonde verhoudings en skuldgevoelens.

“Is daar ooit ’n verskil tussen ‘ons’ wat vry hier buite rondloop en ‘hulle’ wat agter ystertralies sit? Is daar ’n verskil ten opsigte van die bediening tussen hierdie twee groeperings? Hoekom kan daardie een groep ondersteuning ontvang sonder enige stigma en die ander groep nie?

“Die Lig moet oral skyn; dit maak nie saak waar nie; die duisternis van alle tralies in ons lewens kan dit nie uitdoof nie. Ons kan nie red nie, slegs Jesus kan. Laat Jesus se lig in jou skyn, selfs in die donkerte van ’n sel waar iemand met ’n oranje uniform agter tralies bly.”