Deur dr Suzanne van der Merwe,
besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke
Diabetes Mellitus Tipe 1 (DMT1)
Hierdie artikel bied informasie vanuit Kroniese Kronieke se voortgaande navorsing oor die persoonlike ervaring van kroniese siekte met die fokus op selfbestuur, versorger-ondersteuning, professionele begeleiding en die werks- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siektes leef. Vanuit ’n waardegedrewe raamwerk wat ook binne geloofskringe resoneer, word wetenskap en persoonlike verhale in gesprek gebring.
Dr Suzanne van der Merwe, besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke in samewerking met Charl van der Merwe, navorsingsdeelgenoot van Kroniese Kronieke.
Wanneer balans daagliks weer gevind moet word
Diabetes Mellitus Tipe 1 is ’n kroniese outo-immuunsiekte waar die liggaam ophou om insulien te produseer – ’n hormoon wat noodsaaklik is vir die regulering van bloedsuikervlakke. Anders as leefstylverwante toestande, ontwikkel dit dikwels skielik en vereis dit lewenslange, daaglikse bestuur. Die impak strek verder as daaglikse monitering van bloedsuikervlakke. DMT1 beïnvloed daaglikse ritme, energie, emosies en die manier waarop ’n mens jou liggaam leer ken en vertrou.
“Ek moes leer dat elke dag ’n balans is. Die meeste dae voel ek soos ’n koordloper tussen twee wolkekrabbers – lae bloedsuiker aan die een kant en hoë bloedsuiker aan die ander kant”, vertel Charl van der Merwe. Soms voel persone met diabetes dat die veranderlikes wat op hul bloedsuiker inspeel, soos balle is wat noukeurig in die lug gehou moet word. “Wat ek eet, hoe ek beweeg, hoe ek voel – alles speel ’n rol. Ek kan nie net leef nie; ek moet bewustelik leef.”
Medies word Tipe 1-diabetes gekenmerk deur die afwesigheid van insulienproduksie, wat beteken dat mense afhanklik is van insulien-inspuitings of insulienpompe. Simptome kan wisselende bloedsuikervlakke, moegheid, konsentrasieprobleme en risiko’s van hipoglukemie (lae suiker) of hiperglukemie (hoë suiker) insluit. Tegnologie soos glukose-monitors help, maar die toestand bly dinamies en vereis konstante aandag. Die verloop verskil: sommige mense bereik ’n mate van stabiliteit, terwyl ander gereeld skommelinge ervaar wat daaglikse funksionering beïnvloed.
Elke persoon se belewenis van Tipe 1-diabetes is uniek en onvergelykbaar. Die verlies hier lê dikwels in spontaneïteit – die vermoë om sonder berekening te eet, te beweeg of te rus. Dit is ’n lewe van voortdurende bewussyn, waar selfs klein besluite betekenis dra. Selfbestuur is nie net belangrik nie – dit is sentraal en ook lewensbelangrik. Dit sluit in die monitering van bloedsuiker, toediening van insulien, voedingskeuses, medikasie, fisiese aktiwiteit en die hantering van stres. Hierdie voortdurende proses vra dissipline, kennis en emosionele veerkragtigheid.
Ondersteuning deur familie, vriende, kollegas en gesondheidswerkers maak ’n wesenlike verskil, veral in tye van uitputting of onsekerheid. Charl merk op: “Wat baie moeilik is om te verstaan, is daardie dae waar ek alles reg gedoen het – nie verkeerd geëet het nie; genoeg insulien gespuit het; al my medikasie gedrink het – maar dan steeds sukkel met hoë bloedglukosetellings wat nie wil stabiliseer nie. Daardie dae maak my moeg en nie meer lus om te dink oor hoe om diabetes te bestuur nie. Maar ek het ook geleer dat ek nie alleen hoef te wees nie. Ondersteuning help my om aan te hou.”
Diabetes is ’n langtermynreis met deurlopende besluite en aksies wat selfsorg en lewenskwaliteit beïnvloed, waaronder die beskerming van sig, handhawing van cholesterolvlakke, voorkoming van nierskade en die teenvoeter van gangreen in liggaamseindpunte.
Stabiliteit word nie eensklaps bereik nie, maar geleidelik opgebou. Daar is egter simptome en ervarings wat deel is van die reis met Tipe 1-diabetes: nagte van wakker word – papnat gesweet omdat bloedsuiker te laag is, tye wanneer bloedsuikervlakke skielik val en spraak sleeptongpraat word en min onthou word. Hoofpyne wat klokslag toeslaan ná episodes van hipoglisemie, vier inspuitings per dag met insulien, die seer van ’n stomp naald, dae wat met ’n hoë bloedsuikervlak begin en die swaar en lam gevoel wat nie weggaan nie.
Tipe 1-diabetes verander die ritme van die lewe, maar dit definieer nie die mens nie. Binne die uitdagings ontwikkel diabete ’n fyn aanvoeling vir hul liggaam, ’n bewustheid van balans en ’n vermoë om met groter aandag en sorg te leef. Hierdie nuwe normaal is nie eenvoudig nie, maar dit is moontlik – een besluit, een aanpassing, een dag op ’n slag.
Lees meer persoonlike verhale oor Diabetes Mellitus Tipe 1 op die Kroniese Kronieke-webblad, waar navorsingsdeelgenote hulle reis deel en insigte bied oor die fisiese, emosionele en sosiale uitdagings van hierdie toestand.
Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?
Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com
Vir meer inligting kan jy hul webwerf besoek.
Volg hulle op Facebook en YouTube.
Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.
Volg dié skakels vir meer inligting oor rumatoïede en ander outo-immuunsiektes deur Kroniese Kronieke se webblad te besoek.
Volg hulle op Facebook (@kroniesekronieke) en YouTube (@KronieseKronieke).
Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.

