Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Tussen “Hier is ek!” en “Wie is ek?”

 Deur prof Juanita Meyer, leraar van NG Gemeente Waterbron

In die tydperk tussen Opstanding en Hemelvaart word ons opnuut bewus van die stemme van Bybelse figure, stemme wat oor eeue heen bly weerklink in die lewe van gelowiges. Dit is stemme van roeping, maar ook van twyfel; van sekerheid, maar ook van diepe afhanklikheid.

Aan die een kant hoor ons die gewillige antwoord van geloof: “Hier is ek!” (Eksodus 3:4). Aan die ander kant hoor ons die eerlike vraag van menswees: “Maar wie is ek?” (Eksodus 3:11). Hierdie twee uitdrukkings vorm saam ’n dinamiese spanning wat kenmerkend is van die geloofslewe. Hierdie spanning is nie beperk tot een Bybelse figuur nie. Dit loop soos ’n goue draad deur die verhale van Moses, Dawid en selfs Jesus. Moses antwoord gewillig op God se roepstem, maar twyfel onmiddellik aan sy eie geskiktheid. Dawid bely met oortuiging dat die Here sy lig en redding is (Psalm 27:1), maar soek terselfdertyd beskerming en leiding in tye van onsekerheid. Selfs Jesus, in die aangesig van sy lyding, spreek sy worsteling uit: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” (Matteus 26:39), en later: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:46).

Hieruit word dit duidelik dat roeping nie ’n enkele, afgeslote gebeurtenis is nie, maar eerder ’n voortdurende proses. Dit is iets wat hom afspeel in die ruimte tussen sekerheid en onsekerheid, tussen gehoorsaamheid en twyfel – tussen “Hier is ek!” en “Wie is ek?”.

Hierdie insig is besonder relevant vir gelowiges in die 21ste eeu. Ons leef in ’n wêreld waar sekerheid, beheer en beplanning hoog geag word. Ons beroepe en lewensrigtings word dikwels gemeet aan duidelike uitkomste en voorspelbare resultate. Tog staan hierdie wêreld in kontras met die werklikheid van geloof: ’n werklikheid waarin ons geroep word om te vertrou op dit wat nie altyd sigbaar of meetbaar is nie.

Dit is juis binne hierdie spanning dat geloof gevorm word. Die vrae wat ons vra: “Is dit werklik die Here se stem?”, “Is dit die regte tyd?”, “Is dit die regte pad?” – is nie ‘n refleksie van wankelende geloof nie, maar deel van die roepingsritme in ’n lewende verhouding met God.

God se antwoord aan Moses se vraag: “Maar wie sê ek, Here, het my gestuur?” anker ons roeping binne die wese van God: “Ek Is Wie Ek Is … Ek Is het jou gestuur” (Eksodus 3:14). Hierdie antwoord verskuif die fokus van menslike vermoë en sekerheid na God se wese, almag en teenwoordigheid. Dit herinner ons daaraan dat roeping nie primêr gegrond is in wie óns is nie, maar in Wie Gód is.

Hierdie waarheid verlig nie noodwendig ons angs rondom onsekerheid nie, maar bied wel ’n vaste grondslag vir ons sekerheid binne God se verbondenheid met ons. Dit nooi ons uit tot ’n lewe van voortdurende aanroep, ’n erkenning van ons afhanklikheid van God, en ’n vertroue in sy teenwoordigheid. Soos die Here aan Moses antwoord: “Ek is immers by jou” (Eksodus 3:12).

Ons roepingsreis kan dus beskryf word as ’n dinamiese beweging – ’n dinamiese reis waarin ons voortdurend beweeg tussen sekerheid en onsekerheid, tussen oriëntering en disoriëntering (vlg. Walter Brueggemann, 1983). In hierdie spasie beweging vind ons ‘n dinamiese verhouding wat tegelyk vertrou en bely dat ons roeping nie gaan oor wie ek is nie, maar wie God is.

Die psalmis verwoord hierdie vertroue treffend: “Ek glo darem dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes” (Psalm 27:13). Hierdie belydenis staan nie los van twyfel nie, maar juis te midde daarvan.

Uiteindelik lê die kern van roeping nie daarin dat ons seker is van onsself nie, maar dat ons seker is van wie God is. Ons bly mense wat vra: “Wie is ek?” Ons bly pynlik bewus van ons tekortkominge en beperkinge.

Maar dit is juis in die spanning tussen sekerheid en onsekerheid waar ons die onwrikbare waarheid van God se wese ontmoet: God Is. (“Ek is wie Ek is”)

En omdat ‘God Is’, hoef ek nie verseker te wees van my eie bevoegdheid nie. Omdat ‘God Is’, word my onsekerheid nie ’n struikelblok nie, maar ’n ruimte vir vertroue. Omdat ‘God Is’, lê die gewig van my roeping nie op my skouers nie, maar in Sy hande. Dit nooi ons uit tot ’n lewe van voortdurende aanroep – ’n erkenning van ons afhanklikheid van God, en ’n vertroue in sy teenwoordigheid, soos belowe aan Moses: “Ek is immers by jou” (Eksodus 3:12).

Mag ons gemaklik word om te beweeg tussen “Hier is ek” en “Wie is ek” … maar mag ons nooit stilstaan by een van die twee pole nie. Om by “Hier is ek!” stil te staan, is om te maklik van jouself seker te raak. Om by “Wie is ek?” vas te haak, is om te vergeet van God se genoegsaamheid.

Maar om tussen hierdie twee te bly leef, is om te leer dat my roeping nie berus in wie ek is nie, maar in Wie God is. Want slegs omdat ‘God Is’, is ek – ten spyte van my onsekerheid en tekortkominge – bevoeg, en genoeg.