Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

God roep jou – ons vroue word toegerus

Deur Mariëtte Odendaal

“Die gasspreker, Roedolf (Botha), het ons daaraan herinner dat God ons roep om anti-broos te wees; om aan die brand te wees vir Jesus, die evangelie en die Kerk. Ons moenie broos wees soos ‘n kersvlam wat deur die winde van verandering en uitdagings doodgewaai word nie, maar ons moet anti-broos wees soos ‘n vuur wat deur daardie selfde wind gevoed word en sterker word.”

Béneli Pretorius
Vrouediensvoorsitter

Die vroue in gemeentes is dikwels die stille krag agter baie van ons Kerkwees-projekte en stort baie van hul kreatiewe energie daarin. Daarom is dit vir hulle nodig om soms weg te breek van die alledaagse en om weer ’n slag geestelik gevoed te word met die Woord, die samesyn van medegelowige vroue en die ervaring van God se teenwoordigheid in die natuur.

En dit is presies wat gebeur het toe 130 vroue vanaf 20 tot 22 Februarie uit verskeie ringe die nou al baie gewilde Vrouetoerustingsnaweek by die pragtige privaat-natuurkamp, Amanzi, buite Brandfort bygewoon het. Die omgewing en uitleg van Amanzi leen hom ook boonop tot ’n vrouekamp van hierdie aard en veral die tema van die toerustingsnaweek, ‘God roep jou’.

Daar was dertig gemeentes van ons sinode verteenwoordig, en selfs iemand van ’n gemeente uit die Wes-Kaap, naamlik die NG Gemeente Bloubergstrand, het dit bygewoon.

Ons het met die Vrouediensvoorsitter, Béneli Pretorius, gaan gesels om te hoor hoe hulle die naweek beleef het.

Béneli, hoe sou jy die ingesteldheid van die vroue vir dié naweek beskryf?

“Soos elke jaar was daar groot opwinding in die lug … en dan die vreugde om geloofsvriendinne weer na ’n jaar uit dertig verskillende gemeentes van reg oor die Vrystaat te sien. Sommiges kom alleen en ander in groter groepe, maar elkeen kom met ‘n behoefte, ’n honger om te kom leer en nuwe insigte te ervaar.

“Hierdie was nie ‘n voel-goed, bly-in-jou-gemaksone naweek nie. Dit was ook nog nooit die doel van hierdie jaarlikse toerustingsnaweek nie.”

Julle doen elke jaar baie moeite om goeie gassprekers vir die geleentheid te kry. Wie was hierdie keer jul gasspreker?

“Hierdie keer was Roedolf Botha ons gasspreker. Hy is predikant van die NG Gemeente Oosterlig in Pretoria waar hy die grootste deel van sy werkstyd spandeer. Hy is ook betrokke byeKerk en wy een dag per week aan konsultasiewerk aan gemeentes en besighede en help hulle met strategie, leierskap, lewensafrigting (life coaching), opleiding en personeelbestuur.

“Terselftertyd werk hy ook vir Stephan Joubert saam met die eKerkspan waar hulle saam opleiding aanbied in die vorm van seminare, Bybelskole, toere en leergemeenskappe (learning communities), vir kerk- en sakeleiers regoor Suid-Afrika.

“In Mei 2016 het Roedolf ’n PhD verwerf in Nuwe Testament aan dieRadboud Universiteit in Nijmegen, Nederland.”

Was daar nog ander sprekers?

“Ja. Dr Leon Foot het gepraat oor bedieningsbegeleiding, ds Francois Lampbrecht oor verskillende generasies, ds Jan Lubbe het ’n groeteboodskap namens die moderamen van die NG Kerk in die Vrystaat gelewer en dr Enrico Casaleggio het kom praat oor hoe ons die Moslems moet verstaan en bereik.”

Watter aspekte van die tema ‘God roep jou’ is gedurende die vrouetoerustingsnaweek bespreek?

“Die gasspreker, Roedolf, het ons daaraan herinner dat God ons roep om anti-broos te wees; om aan die brand te wees vir Jesus, die evangelie en die Kerk. Ons moenie broos wees soos ‘n kersvlam wat deur die winde van verandering en uitdagings doodgewaai word nie, maar ons moet anti-broos wees soos ‘n vuur wat deur daardie selfde wind gevoed word en sterker word.

“In ‘n wêreld waar ons ryker as ooit, maar ongelukkiger as ooit is, minder werk as ooit, maar moeër as ooit is, roep God ons om só te leef dat andere Jesus positief sal beleef deur hoe ons elke dag leef. Mense moet Jesus as’t ware kan voel, selfs inasem waar ons, sy dogters, deur die wêreld beweeg.

“Ons moes onsself afvra: ‘Waarom is ons Kerk? Wil ons ons kerk laat voortbestaan sodat ons lekker gemaklik daarbinne sal voel, of wil ons graag ons kerk só bestuur dat ons kinders en kleinkinders en die wêreld Jesus se liefdevolle, genadige redding daar sal beleef?’

“Roedolf het ons daaraan herinner dat ons heel eerste roeping nie is om lewensdoeners (human-doings) te wees nie, maar om lewenswesens (human-beings) te wees. God soek nie in die eerste plek alles wat ek vir Hom wil dóén nie, maar Hy verlang na ‘n intieme liefdesverhouding met my waar ek net by Hom en in Hom kan wees. Dan, en slegs dan, sal ek ook sy roeping in my lewe kan hoor en verstaan.

“Roedolf het ons ook daarop gewys hoe belangrik dit is om elke oggend my kern-emosies te identifiseer en dit dan met God te bespreek, stadiger te stap en te lewe en mense rondom my raak te sien en te omarm. Die vraag is: ‘Kan ek só lewe dat ek Jesus se hart aan ‘n stukkende wêreld kan bekendstel?’

“Behalwe vir die formele program is ons gemoedere gevul met gesprekke rondom die koffietafel, heerlike bederf-etes, die pragtige natuurskoon, laatnagkuiers en ‘n vroegoggend-wandeling na die drie kruise op die koppie.

“Soos elke jaar was Sondag se erediens ‘n hoogtepunt. Saam met Ella en Elané Kotze, wat ons die hele naweek in lofprysing gelei het, was die aanbidding van so ’n aard dat ons kon ervaar dat ons in God se teenwoordigheid was.

“Roedolf se laaste boodskap was aan die hand van Psalm 139: Al voel dit soms vir jou soos ballingskap in ons land, in jou gemeente, in jou familie en omstandighede, weet ons wat die ‘eindtelling’ is – leef in die oorwinning en die lewe in oorvloed wat Jesus aan ons gee en wees sy getuies so ver as wat jy gaan.”

Julle noem dit ’n toerustingsgeleentheid. Op watter manier sou jy sê is dit toe tydens die naweek bereik?

“As ’n mens so luister na al die positiewe terugvoering, besef jy dat die vroue die kamp baie positief ervaar het; dat hulle toegerus voel vir die lewe vorentoe.

“Ons het woorde gehoor soos ‘Baie dankie vir ‘n tenk-volmaak-geleentheid’, ‘Baie dankie vir die liefde en passie waarmee julle dit doen tot verheerliking van ons Vader’, ‘Dankie vir die wonderlike sprekers wat my ingelig, bemoedig, toegerus en herinner het aan my roeping’, en ‘Baie dankie vir ‘n wonderlike en uitstekend georganiseerde program en naweek.’”

Van belang

Maak sommer nou al ’n knoop in jou sakdoek vir die naweek van 7 tot 9 Augustus. Die Vrouediens beplan ’n retreat met dieselfde tema, ‘God roep jou’, onder leiding van ds Louwrens Scheepers. Die geleentheid gaan by Menuha plaasvind.

Vir meer inligting kan jy Béneli Pretorius kontak by benelipretorius@gmail.com

 | Verskaf deur: Dr Leon M Foot.