Deur ds Cobus Hamman, leraar van NG Gemeente Bainsvlei
Nouwen, H M J 1989. In the Name of Jesus: Reflections on Christian Leadership. New York: Crossroad.
Inleidend
In sy boek oor Christelike leierskap fokus Nouwen op twee Skrifgedeeltes: Matteus 4:1-11 (Jesus se versoeking in die woestyn) en Johannes 21:15-19 (Petrus word in sy amp herstel). ’n Gesprek oor Christelike leierskap is gelyktydig ’n gesprek oor persoonlike spirituele ontwikkeling: Hoe meer ons op ’n geestelike vlak verander om aan die beeld van Christus gelyk te word, hoe meer kom ons leierskapstyl in lyn met Jesus s’n. Geestelike groei behels dus beweging – daar vind skuiwe plaas.
Nouwen werk met drie temas, en by elke tema is daar ’n duidelike skuif/beweging wat plaasvind:
- ’n Skuif van relevansie/gepastheid na gebed
- ’n Skuif van populariteit na diensbaarheid
- ’n Skuif van leiding neem na gelei word.
Hierdie bewegings word telkens verbind met Jesus se drie versoekings in die woestyn, sowel as die verheerlikte Jesus se gesprek met Petrus langs die See van Tiberias.
Van relevansie/gepastheid na gebed
Die eerste versoeking waarmee Jesus in die woestyn gekonfronteer word, is om gepas en relevant te wees deur klippe in brood te verander. Dit klink op die oog af na ’n wonderlike idee: Duisende honger mense kan gevoed word deurdat hulle slegs klippe optel en dan tot die verrassende besef kom dat dit eintlik brood is om hulle honger te stil! Hierdie selfde versoeking kom ook tot Christelike leiers in ’n moderne konteks. Ons wil graag groot dinge doen wat ’n verskil maak in ander se lewens. Ons wil graag gewild wees en hê mense moet van ons hou. Die versoeking is daar om te presteer en te beïndruk deur altyd “iets te sê” of “iets te beteken”. Wanneer jy jouself dan in ’n situasie bevind waarin al jou wonderlike vaardighede en praktiese kennis niks help nie, en jy word gekonfronteer met jou eie naakte self, raak ’n mens skoon gespanne en angsbevange.
Wanneer die duiwel egter vir Jesus vra om te bewys dat Hy die Seun van God is deur met gepaste, relevante optrede klippe in brood te verander, hou Hy vas aan sy roeping om die Woord te verkondig en sê Hy: “Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.”
Een van die swaarste dinge wat Christenleiers ervaar, is dat ons dink ons beteken nie veel nie omdat dit vir ons voel ons maak nie werklik ’n verskil in mense se lewens nie. Dit is asof al ons pogings geen vrugte afwerp nie. Die wêreld rondom ons sê in ’n baie harde en duidelike stem dat hulle na hulself kan omsien en nie vir God, die kerk of ’n dominee nodig het nie. En tog is daar ’n totaal ander storie om te vertel. Want onder al die groot prestasies van ons tyd vloei daar ’n sterk stroom van wanhoop. Terwyl doeltreffendheid en beheer die groot strewe van ons sukses-gerigte wêreld is, is die harte van duisende mense in die samelewing vol eensaamheid, isolasie, gebroke verhoudings, depressie, en ’n diep gevoel van nutteloosheid. Dit is hier waar die behoefte aan ’n nuwe soort Christelike leierskap so sterk na vore kom. Volgens Nouwen word ware Christenleiers geroep om volkome irrelevant te wees en om in hierdie wêreld te staan met niks anders as ons eie brose self om aan te bied nie. Dit is immers die manier waarop Jesus God se liefde aan die wêreld kom wys het. Die belangrikste boodskap wat Jesus na die wêreld toe gebring het en wat ons as volgelinge van Hom moet uitdra, is dat God ons nie liefhet oor wat ons doen of wat ons bereik nie. God het ons lief omdat Hy ons in liefde geskep en verlos het. Ware Christenleiers is dus mense wat hulle eie irrelevansie in die moderne wêreld as ’n goddelike roeping aanvaar – ’n roeping wat hulle in staat stel om in solidariteit te staan met die angs en die wanhoop wat onder al die glans van sukses skuil … en om juis dáár die lig van Jesus in te dra.
Die vraag wat Jesus vir Petrus by die See van Tiberias vra, is dan ook nie: “Hoeveel mense neem jou ernstig op?” of “Hoeveel dinge gaan jy bereik?” nie. Die vraag is eenvoudig: Het jy Jesus werklik lief? Of dalk in ander woorde: Ken jy Jesus se hart wat vergewe, omgee, uitreik en wil genees? Om Jesus se hart te ken en om Hom lief te hê, is dieselfde ding. En wanneer ons met hierdie kennis in die wêreld leef, kan ons nie anders nie as om genesing, versoening, nuwe lewe en hoop te bring waar ons ook al gaan. Die begeerte om gepas en suksesvol te wees sal gaandeweg verdwyn, en ons enigste begeerte sal wees om met ons hele wese vir almal rondom ons te sê: “Jy is geliefd. Daar is geen rede om bang of bevrees te wees nie.”
Om nie gedomineer te word deur die begeerte om relevant te wees nie, stel Nouwen die geestelike dissipline van kontemplatiewe gebed voor. Kontemplatiewe gebed anker ons veilig in die wete dat God ons liefhet. Deur kontemplatiewe gebed herontdek ons ons ware identiteit as geliefdes van Christus. Deur kontemplatiewe gebed kan ons ons onopgesmukte self terugneem – daardie plek waar ek volkome kwesbaar is, oop om liefde te ontvang en te gee, ongeag enige prestasies.
Van populariteit na diensbaarheid
Die tweede versoeking waaraan Jesus in die woestyn blootgestel is, was om iets besonder indrukwekkend te doen. Die duiwel versoek Jesus om iets skouspelagtigs te doen waardeur Hy ’n groot applous van mense sou verdien: “Gooi jouself oor die balustrade van die tempel en laat die engele jou vang en op hulle hande na veiligheid dra.” In ’n moderne konteks verstaan baie leiers dan ook hul roeping as om – individualisties – al hul wonderlike vaardighede bloot te stel (dikwels in afwagting op die lidmate se applous). Ons glo dikwels dat hoe meer kennis, ondervinding en ervaring ons het, hoe meer sal ons deur mense gesien word en hoe meer geliefd sal ons onder die mense wees.
Jesus weier egter om ’n “waaghals” te wees. Hy het nie gekom om gewild te wees en Homself te bewys nie. Hy het nie gekom om deur populêre optrede te demonstreer dat Hy iets waardevols het om te sê nie. Hy antwoord die Duiwel: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
Wanneer Petrus vir Jesus van sy liefde vir Hom verseker het, lê Jesus hom die taak van Christelike leierskap op. Nouwen verduidelik hierdie roeping tot leierskap as ’n gemeenskaplike en ’n wederkerige ervaring. Christelike leiers word nie geroep om individualisties te werk te gaan nie, maar sáám te werk – in gemeenskap met mekaar (Jesus het immers sy dissipels twee-twee uitgestuur). Gesamentlike leierskap laat ons ook besef dat dit nie ons is wat die verskil maak nie, maar Jesus. Dit is nie ons wat woorde van waarheid en wysheid spreek nie, maar Jesus.
Behalwe dat Christelike leierskap ’n gemeenskaplike roeping is, is dit ook ’n wederkerige ervaring. Leierskap is nie ’n eenrigtingstraat: “Ek dien, en jy word gedien” nie. Christelike leiers is sondige, gebroke, kwesbare mense wat net soveel sorg nodig het as dié vir wie ons sorg. Jesus se leierskapsmodel is totaal anders as enigiets wat ons in die sekulêre wêreld kry. Dit is ’n dienskneg-leierskap waar die leier self ’n weerlose dienaar is wat die mense net so nodig het as hulle vir hom. Teenoor die versoeking om gesien te word en geliefd te wees, kies Jesus vir die weg van diens en selfprysgawe, om die minste te word.
Daarom stel Nouwen die geestelike dissiplines van skuldbelydenis en vergifnis voor om los te kom van die versoeking van individualistiese heldhaftigheid. Skuldbelydenis en vergifnis is die konkrete manier waarop sondaarmense mekaar liefhet. Daarom moet Christenleiers nie hul weerloosheid probeer wegsteek nie, maar bereid wees om hul eie gebrokenheid te bely en om vergifnis te vra vir die seer wat hulle ander aandoen. Wanneer hierdie weerlose houding ontvang word deur ’n hart wat bereid is om te vergewe, skep dit ’n ruimte waarbinne die versoenende en genesende teenwoordigheid van Jesus ervaar kan word.
Van leiding neem na gelei word
Jesus se derde versoeking in die woestyn was ’n versoeking van mag en beheer. “Al die koninkryke van die wêreld in hulle prag sal ek alles vir U gee”, het die duiwel vir Hom gesê. Die versoeking is om te beheer, te domineer en te presteer. Maar Jesus kies die weg van kwesbaarheid en afhanklikheid. Hy kies die kruisweg: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
Die verleiding van mag is iets waarvoor die Christelike kerk in die geskiedenis al baie keer geswig het (en vandag steeds doen). Mag is egter nie ’n goeie ding nie – nie eers as ons dit probeer regverdig deur te sê dat ons ons mag gebruik in diens van God en ons medemens nie. Die geskiedenis wys vir ons dat die kerk nog nooit goed gevaar het met mag nie.
Nouwen reken dat die verleiding van mag só onweerstaanbaar is omdat dit ’n maklike plaasvervanger is vir die moeilike opdrag om lief te hê: Dit is makliker om mense te beheer as om mense lief te hê. Jesus het hierdie versoeking op die pynlikste wyse deurleef – van die woestyn tot aan die kruis. Daarteenoor is die lang, pynlike geskiedenis van die Christelike kerk die geskiedenis van mense wat keer op keer verlei is om mag te kies bo liefde, om beheer te kies bo die kruis.
Wanneer Jesus vir Petrus die opdrag gee om ’n leier te wees, sê Hy verder vir hom: Toe jy jonger was, het jy self jou gordel vasgemaak en gegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou gordel vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Die oomblik nadat Petrus aangestel is as die leier van Jesus se skape, konfronteer Jesus hom met die harde waarheid dat ’n dienskneg-leier ’n leier is wat gelei word na onbekende, ongewenste en pynlike plekke. Dit lyk vir my die diep geheim van Christelike leierskap is dat leierskap tot ’n groot mate beteken om gelei te word; om mag en beheer te laat gaan en die nederige weg van Jesus te volg … tot by die kruis. In Nouwen se woorde: “Dalk is die enigste hoop vir die kerk van die toekoms (en haar leiers), dat dit ’n arm kerk sal wees met leiers wat gewillig is om gelei te word.”
Die geestelike dissipline wat Nouwen vir hierdie derde beweging voorstel, is teologiese refleksie – om die denkwyse van Christus te ontwikkel. Ons moet God toelaat om ons denke te vernuwe sodat ons ons gedagtes kan rig op die dinge daarbo, en sodat dieselfde gesindheid wat in Christus Jesus was, ook in ons kan wees. Volgens Nouwen is dit nie Christenleiers se taak om hul lidmate te help om die spanning en eise van die alledaagse lewe te hanteer nie. Ons rolle is nie om as mentors, fasiliteerders of rolmodelle met allerhande slim antwoorde en opgegaarde wysheid te probeer om mense se pyn te verlig nie.
Ons taak is eerder om dag vir dag te onderskei hoe God optree in ons persoonlike lewens, in ons land, en in die wêreld. Ons taak is soveel meer as om net salf te smeer aan die pyn, rampe en beproewinge van ons tyd. Ons werk is eerder om die paaie waarop Jesus God se kinders vanuit slawerny, deur die woestyn na die vryheid van die beloofde land lei, raak te sien en te verkondig – om op persoonlike uitdagings, familiekonflikte, nasionale rampe, en internasionale konflikte te reageer met ’n diep deurleefde, duidelik verwoorde geloof in God se werklike teenwoordigheid. In geen onduidelike terme nie, en met ’n geloofsoortuiging wat ons slegs kan kry deur die denkwyse van Christus te ontwikkel (teologiese refleksie), moet ons sê dat deur God se Woord wat mens geword het en deur Wie alles ontstaan het, is selfs die kleinste gebeurtenis in die geskiedenis nou ’n geleentheid om dieper in Christus se hart ingelei te word. Wanneer ons oor die pynlike én die vreugdevolle realiteite van ons daaglikse lewe nadink met die denkwyse van Christus, help ons onsself en ander mense om God se sagte leiding beter raak te sien.
Slot
Nouwen se gedagtes oor Christelike leierskap het my prontuit gekonfronteer met die krake en tekortkominge in my eie mondering. Ek is opnuut gemotiveer in my geestelike reis van spirituele groei: om te beweeg van gepastheid na gebed, van bekendheid na bediening, en van voor staan na volg.

