Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Gesoek! Nog sendelinge vir Japan

Deur Stéphan van der Watt

Sedert ons vorige nuusflits het baie water in die see geloop, saam met die sweet wat teen ons rûe bly afloop in die hitte wat nie wyk nie. Die hartroerende begrafnis van ‘n geliefde kollega se vrou, die uitbundige huwelikseremonie van ‘n oud-student, my en Carina se 20-jarige huweliksherdenking en die verjaardae van twee van ons kinders was enkele van die hoogte- en dieptepunte. En dan: die onvergelykbare groot vreugde van iemand wat uit ‘n totaal Boeddhistiese agtergrond haar lewe aan Christus oorgegee het, en deur ds Tobie de Wet in RCJ Niihama gedoop is. Alle eer aan die Here wat deur Sy Gees op verrassende maniere bly werk!

Daar was ook ‘n rits kampe en spesiale (somerpret) samekomste vir kinders in ons buurt, wat feitlik geen idee het wat die Bybel is, of wie Jesus of die kerk is nie. Dit alles het ons dae gevul met sinvolle interaksies en geleenthede om verhoudinge te verdiep. En om in eenvoud eerste grepies van die evangelie te deel met baie mense wat dit vir die eerste keer hoor. Ons is ook op verskeie maniere stomgeslaan oor God se voorsiening die afgelope tyd, ver meer en veel groter as wat ons kon bid, dink of vra. Weereens, moenie ophou lees nie. Hieronder vertel die De Wets verder.

Verder is daar ‘n klomp nuwe inligting om te deel oor ons bedieninge, met deeglik nagevorste bronne wat die Japannese konteks vir jou kan oopbreek en ontsluit, in die lig van ander globale tendense in wêreldsending. Klik hier.

Laastens, maar allermins minder belangrik. Missie Japan se bestuurskommittee het pas in biddende afhanklikheid amptelik die werwingsproses oopgestel vir gepaste aansoekers wat ‘n roepingsbesef het om as sendelinge in Japan te werk. Dis ‘n groot nuwe inisiatief, in samewerking met ons susterskerk, die Reformed Church in Japan, met die fokus op Shikoku eiland.

Sodra die advertensie geplaas is, sal ek dit in ‘n aparte nuusflits deel. Bid asseblief ook saam met ons vir die Here se helder leiding hierin. Kyk intussen gerus na die video hieronder wat Japan opnuut bekendstel en ‘n appél maak op dieper betrokkenheid, met die oog op nuwe medewerkers. Ons is baie dankbaar vir DJ Muller (Kaapkerk) se redigering van die video.

Ons jaarlikse verlof is om die draai, en ons sien baie uit daarna. Bid asseblief vir rus en hernieude krag en visie vorentoe.

Jou gebede, ondersteuning en omgee inspireer ons. 

Met diep waardering,
Stéphan, Carina en gesin; ook namens ds Tobie en Annalie de Wet (RCJ Niihama

GETUIENIS OOR DOOP

Sondag 20 Julie 2025 was ‘n rooiletter dag in die lewe en geskiedenis van die klein gemeente van RCJ Niihama, ‘n feesdag, met die engele in die hemel wat juig (Lukas 15:10) vanweë die doop van Yasuko (skuilnaam)! 

Ons kan verstaan dat dit vir sommige van julle dalk bietjie vreemd is om so ‘n ophef te maak oor een dopeling. Verstaan egter die realiteit van die kerk en sending in Japan. Daar was wel ‘n tyd toe die RCJ een van die snel-groeiende kerke in Japan was, maar vandag is dopelinge raar, nie net in die RCJ nie, in die meeste kerk-denominasies van Japan, en veral op die platteland.

In die RCJ Shikoku Ring, met sy 16 gemeentes, was daar verlede jaar altesaam net vyf dopelinge (een van hulle was ‘n vrou van Peru wat hier in Niihama gedoop is). In ons 20-plus jare in Japan het ons persoonlik met slegs enkele gevalle te doen gehad. Niihama-gemeente se lidmate kan ons nie vertel wanneer hulle in hul geskiedenis van plus-minus 50 jaar ‘n doop in die erediens gehad het nie (behalwe vir die vrou van Peru, verlede jaar). Hulle is opgewonde oor wat die Here doen! 

Yasuko se getuienis is regtig aangrypend, soos elke een wat waarlik, veral uit ‘n totaal nie-Christelike agtergrond tot geloof en bekering kom. Daar is nie ‘n enkele Christen in haar hele familie en vriendekring en kennisse nie. Haar godsdienstige en familie-agtergrond is Boeddhisme. Haar man is ‘n ateïs. Tog het sy begin wonder in haar eie hart oor die sin van die lewe en oor God. Deur die internet het sy by die Christelike geloof en die Bybel uitgekom, waar alleen sy die antwoorde (of eerder Dié Antwoord) gekry het wat haar oortuig het. Vir enkele jare het sy slegs d.m.v. die internet haar kennis van die Bybel, die Christelike geloof en Jesus Christus verdiep. 

Sy het die behoefte ervaar om na ‘n ware Christelike kerk te gaan en selfs om gedoop te word, maar soos die meeste Japannese het sy vir baie lank nie die moed gehad om daadwerklik by die kerk se deure in te stap nie … tot op ‘n Sondag hier in Niihama, in Oktober 2024. 

Yasuko is ‘n verpleegster en werk meestal ook op Sondae, wat maak dat sy nie so gereeld eredienste kon bywoon nie. Maar vir die afgelope 9 maande het sy gereeld elke Donderdag namiddag saam met ons Bybelstudie gedoen aan die hand van die Apostoliese Geloofsbelydenis, ter voorbereiding van haar doop en kerklidmaatskap. 

Ons konsulent (‘n ander leraar uit ons ring) het kort voor haar doop met haar ontmoet, om die egtheid van haar geloof, haar verstaan van Christenskap (dissipelskap) te bevestig. Asook om oor haar kerklidmaatskap (getroue bywoning van eredienste, aktiewe betrokkenheid by kerklike aktiwiteite en haar finansiele verantwoordelikheid ens.) te gesels.

Yasuko se geloof en toewyding as jong Christen is aangrypend en inspirerend! Een van die praktiese dinge wat sy gedoen het om dit uit te druk, is dat sy van al die Boeddhistiese simbole in haar huis (wat vir Japannese uiters belangrik is) ontslae te raak.

Dank die Here saam met ons vir Sy genade in haar lewe en bid saam met ons vir haar geloofspad saam met die gemeente hier in Niihama.

SOMERPRET @Kita KOBE KERK

KAMPE EN ANDER BYEENKOMSTE

IETS VAN ALLES

So stap die jare aan …