Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Internasionale Jeugdag: Neem aksie tot volhoubare ontwikkelingsdoelwitte

Deur Mariëtte Odendaal

Hoe sterk is die stem wat ons aan die jeug in ons gemeentes gee? Hoeveel moeite doen ons om toe te sien dat hulle aktief betrokke raak by natuurbewaringsaksies en ’n sensitiwiteit vir ekologie ontwikkel

Ons jongmense is die gelowiges wat in die toekoms ’n bepalende rol gaan speel ten opsigte van ons omgewingsbewaring. Dit is hulle wat op ons skouers moet staan en voortbou op dit wat ons aan hulle gaan nalaat.

Internasionale Jeugdag word jaarliks wêreldwyd op 12 Augustus gevier. Die dag is in 1999 deur die Verenigde Nasies (VN) ingestel nadat die Wêreldkonferensie oor Jeug in Lissabon (1998) voorgestel het dat so ’n dag noodsaaklik is om meer te fokus op jongmense se uitdagings en bydraes. Die eerste Internasionale Jeugdag is in 2000 gevier.

Elke jaar het sy eie tema. Die tema vir 2025 is Local Youth Actions for sustainable development goals (SDGs) and beyond”.

Die doel van Internasionale Jeugdag is om:

      • kwessies wat die jeug raak onder die aandag van die wêreld te bring. Dit sluit sake in soos klimaatsverandering, armoede, werkloosheid, geestesgesondheid, toegang tot onderwys en deelname aan besluitneming;
      • jongmense ’n platform te gee om hul stem te laat hoor en aktief betrokke te raak by die vorming van hul toekoms;
      • jeugleierskap te vier en die positiewe rol van jongmense in die samelewing, kerk en gemeenskap te erken.

Hoe kan ons gemeentes betrokke raak?

In die lig van die Christelike roeping om elke generasie in geloof op te voed (volgens Psalm 78:4–7), kan jou gemeente die volgende doen:

Bid vir en saam met die jeug

      • Hou ’n spesiale gebedsfokus of jeugdiens op of rondom 12 Augustus.
      • Bid vir jongmense wat worstel met identiteit, geestesgesondheid, studiestres of ekonomiese onsekerheid.

Luister na hulle stem

      • Reël ’n jeugforum of praatjie in die gemeente waar jongmense hul idees en bekommernisse kan deel.
      • Laat hulle eredienste of projekte help beplan en lei – om te erken dat hulle stem waardevol is.

Bemagtig jongmense om hulself en hul gemeenskap te dien

      • Begin of ondersteun jeugleierskap- en diensprojekte (skoonmaak-aksies, bewusmaking oor klimaatsverandering, ensovoorts).
      • Bied mentorskap aan jongmense in geloof, loopbane en die lewe.

Vorm netwerke tussen skole en jeuggroepe

      • Werk saam met skole, universiteite en ander kerke om die dag interkerklik te vier.
      • Bied ’n praktiese werkswinkel aan oor temas soos roeping, verantwoordelike digitale gebruik of sosiale geregtigheid.

Geestelike perspektief

Internasionale Jeugdag herinner ons as Kerk daaraan dat jongmense nie net die toekoms van die Kerk is nie, maar ’n baie belangrike deel van die Kerk van vandag is. Soos Paulus aan Timoteus skryf: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” (1 Timoteus 4:12)

Lees meer oor Internasionale Jeugdag HIER.