Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Wêrelddag: Bekamping van Verwoestyning en Droogte – ’n oproep tot rentmeesterskap

Deur Mariëtte Odendaal

As Vrystaters en Suid-Afrikaners ken ons droogtes en woestyne maar alte goed, veral gebiede wat as gevolg van droogtes stelselmatig woestynagtig word.

Met die viering van hierdie dag word ons as Christene geroep om goeie rentmeesters van God se skepping te wees (Genesis 2:15). Hierdie dag bied aan ons ’n gulde geleentheid om ons geloof prakties uit te leef deur, waar moontlik, hierdie bewusmaking verder te versprei.

Op Dinsdag 17 Junie word die Wêrelddag ter Bekamping van Verwoestyning en Droogte gevier. Hierdie dag is ’n inisiatief van die Verenigde Nasies (VN) wat daarop fokus om ons bewus te maak van die vernietigende impak van verwoestyning en droogte, veral in kwesbare gebiede.

Wanneer en waarom het hierdie dag ontstaan?

Dit is in 1994 deur die VN uitgeroep as deel van die Konvensie ter Bekamping van Verwoestyning (UNCCD). Die doel daarvan was om internasionale samewerking aan te moedig om die vernietiging van die natuur se groeibodem teen te werk, veral in droë gebiede waar mense se lewens daarvan afhang.

Die doel van die dag is om mense bewus te maak van die gevare van verwoestyning en droogte. Die dag het ook ten doel om volhoubare praktyke ten bate van grondherstel en waterbesparing te bevorder. Verder poog dit om gemeenskappe wat deur klimaatsverandering geraak word, te ondersteun.

Op hierdie manier word biodiversiteit beskerm; ’n groot faktor om ons grond gesond te hou tot voordeel van ons plante en diere.

Dit hou ook groot voordeel ten opsigte van voedselsekerheid in. Volhoubare landbou help ons boere om kos te produseer sonder om die aarde uit te put.

Jou en jou gemeente se deelname aan die viering van hierdie dag versterk jul gemeenskappe om droogtes en grondverlies te help bekamp. Hierin kan kerke en skole veral ’n baie belangrike rol speel.

Hoe kan ons as Christene prakties hieraan deelneem?
      • Bid vir bewaringspogings. Bid vir die wysheid van leiers en wetenskaplikes wat hierdie krisis moet bestuur en hanteer.
      • Ondersteun plaaslike projekte. Sluit aan by inisiatiewe soos boomplantings- of waterbesparingsprogramme.
      • Verminder jou eko-voetspoor. Hergebruik, bespaar water en vermy vermorsing.
      • Bewusmaking in die gemeente. Deel inligting oor rentmeesterskap en moedig ander aan om betrokke te raak.
Ten slotte

Die Wêrelddag ter Bekamping van Verwoestyning en Droogte herinner ons daaraan dat ons geroep is om nie net dit wat die aarde ons bied te geniet nie, maar ook om dit te beskerm. As Christene kan ons ’n verskil maak deur in geloof én veral daadwerklik te wys dat ons God se skepping waardeer.